Monday 14 December 2015

‘n Meer moderne beskrywing van Maria se besoek aan haar Tannie Elisabet en die waaroms en hoekoms.








‘n  Meer moderne beskrywing  van Maria se besoek aan haar Tannie Elisabet en die waaroms en hoekoms.


Van die vroegste tye af, was mense nog lief daarvoor om mense uitmekaar te trek en redes vir alles te soek, waar nooit redes, waaroms en hoekoms bestaan het nie.  Ek het hierdie verkorte gedeelte gekry uit ‘n skrywe van die  NGK  Universitasrif en wil dit graag met julle deel ...

Waarom gaan Maria by Elisabet bly?   Was dit omdat sy dalk skaam was omdat sy verwag sonder dat sy getroud was?   Was daar dalk sprake van ’n skande?   Wel, haar tannie Elisabet was ook swanger en dit op haar oudag.    Wat ’n snaakse paar kan mens sê, een stokoud maar vyf of meer maande swanger, die bloedjonk, pas swanger!    En die man in die geselskap, arme Sagaria, hy is stom.   Stom, verslae.    Pas nogal ons mans as die skok van God se regtige teenwoordigheid ons tref.    Die verklaring vir hul saamwees is egter in alle waarskynlikheid nie skaamte of skande nie.   Dink weer aan die verskil  in die tydperk waarin Maria,  Elisabet  en Sagaria  geleef het  in vergelyking met die tyd wat ons vandag leef ....

Kyk na Maria. Dis hoogs onwaarskynlik dat sy ’n selfoon gehad om Elizabeth te vertel van  die  Engel Gabriël se besoek en woorde nie. Elizabeth nog minder, sy was al oud, ou mense sukkel met nuwe tegnologie.  Jy kan ook nie bra ‘n drie maande lange  selfoon gesprek voer nie. Dink aan die rekening! En wat maak jy met die stomme Sagaria? Stuur maar foto’s oor sy gebare tussen mekaar?

Teologie word in die gemeenskap van gelowiges gedoen waar jy die vrees en wonder, die onmoontlike van Gabriël se besoek, van die Here se woorde, vertel. Waar jy in mekaar se teenwoordigheid die HG in jou voel skop met die voetjies en handjies van nuwe lewe wat as ‘n  wonder verwek is. Teologie is die onweerstaanbare getuienis oor iets so groots dat jy dit self nie kan glo nie. Dis so groot jy het drie maande nodig om dit in  woorde te kan omsit. Teologie is ’n respons op God, op die Gees, se lewegewende teenwoordigheid: soos met klein Johannes nog in sy Ma se binneste, bring dit beweging, vreugde, ’n opskop! Teologie vind plaas as mense saam verwag …  en daardie verwag is gevul met ’n duisend emosies.   In Maria en Elizabeth se stories is daar insinuasies van skande, klag, spot, belofte, vreemdheid, vreugde, pyn, bloed en trane. Al hierdie emosies vind plaas in gemeenskap, in saamwees, in onsekerheid oor die toekoms en wat alles gaan volg. Elizabeth en Maria, altwee eenvoudige en ongeleerde vroue, se versterking is waarskynlik meer in hulle saamwees as in geleerde woorde en besprekings.

Mens sien dit dikwels  in Afrika waar die Afrika groei, waar mense sonder die mag van woorde uit hulle wese uit sing en bid en dans en verwag en leef en hoop op God. Saamwees kan so iets dinamies wees– die krag van die HG het mense getrek en ingetrek, versterk en verander. Is dit nog so? Of het die geboue en gewoontes, die reëls en regulasies, die Gees gedemp?  

Teologie verstik die oomblik wanneer jy dit begin vasdruk in dogma en vergaderings, as jy ophou om daarmee op reis te wees agter die eenvoudiges, hongeriges, stukkende en magteloses aan.  Het julle daarna op reis gegaan die wêreld in agter Jesus aan?  Het julle dissipels of skrifgeleerdes geword?  Waar is julle nou?  

SLOT : Maria se voorbeeld laat mens smag om ’n gemeente van teoloë te wees. Mense wat God met hulle hoor praat het en God op sy woord geneem het deur ondanks hulle tekortkominge en eenvoud te sê:

“Ek is tot beskikking van die Here, laat my gebeur wat u gesê het!”


Baie  dankie NGK  Universitasrif, vir hierdie skrywe van 2008, wat ek verkort en effe aangepas het


Gepos deur Poppie Oosthuizen, Koningsdogters vir Jesus/ Facebook