Saturday, 14 January 2012





LAAT LOS,  LAAT GOD


Leer my om U wil te doen, want U is my God! Laat U goeie Gees my op 'n gelyk pad lei. - Ps. 143:10


Dankie, Vader, dat U ons altyd so sag en tog ferm, laat verstaan dat ons moet ophou worstel en spook met ons probleme. Ons moet laat los, sodat U kan oorneem. Wanneer ons dit doen, neem U werklik oor, dit het ons nou al oor en oor ervaar in ons lewens, en die regte oplossing, tot ons eie en andere se seën, geskied.

Help ons Heer, om nie so meegevoer te raak deur 'n uitdaging nie, dat daar nie plek oor is vir U lig-gedagtes nie. Neem weg alle vrese en kommer. Maak ons hart stil, sodat ons U stem kan hoor wat rus en vrede bring, U stem wat ons altyd lei en rig op die regte weg vir ons.

Met ons hand in dié van U, lei U ons op U pad van lig - 'n gelyk pad wat nuwe deure voor ons oopmaak, en nuwe lig werp op al ons vrae en twyfel. U het ons al so baie geleer, Heer, maar daar is nog so oneindig baie wat ons kan leer. Nuwe horisonne gaan voor ons oop, en met 'n lied in ons hart gaan ons die toekoms saam met U tegemoet!


Gebed:  Dankie, Vader, dat ek alles net so in U hande kan los!


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 11 January 2012




SELFBEELD


God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
1 Joh. 4:16


Ons besef dat ons kinders van God is, geseën met ongekende potensiaal en moontlikhede.  Hierdie selfbeeld maak ons suksesvolle, stralende, goddelike geïnspireerde Koningskinders.

Ons persoonlike tekortkominge of mislukkings doen geen afbreek aan die waarheid dat ons geestelike wesens is nie, steeds gerig en gelei in die lig, die liefde en krag van ons hemelse Vader.  Met Hom as ons Leidsman en Stuurman, kan ons seker daarvan wees dat die besluite wat ons neem reg en goed is, altyd tot ons hoogste heil.

Met ons vertroue gevestig op Hom wat in ons woon, beskik ons oor die vermoë om selfs die mees uitdagende situasie met welslae te oorkom.  Hy maak ons wenners in die arena van die lewe want ons weet waartoe ons in staat is met Hom aan ons sy.  Ons lewe is een groot seën – nie net vir ons nie maar ook vir hulle wat ons lewe met ons deel, want ons bly in die liefde van God.


Gebed:  Ek bly in die liefde van God.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 10 January 2012





VAT ONS BY DIE HAND

Here, Hier in die aanduur van hierdie jaar wil ons U kom vra om ons by die hand te vat.

Om ons te omgord met krag en moed vir die moeilike dinge op ons lewenspad. Sonder U kan ons nie, durf ons nie die pad te loop nie. By U alleen lê ons heil.

Vul ons met vrede en vreugde, Here. Laat ons beker oorloop van liefde en omgee vir ons naaste. Laat ons daagliks uitreik na dié in nood. Laat ons dit doen met opregtheid van hart en tot U eer alleen.

Vul ons harte met 'n lied, 'n soete melodie. Laat ons loflied weerklink oor die aarde. Here, ons harte, ons lewe behoort aan U.

Die Nuwejaar behoort aan U. Laat ons met dankbare harte leef en werk tot U eer. Laat ons hele lewe daarvan getuig dat ons aan U behoort.

Laat ons ja en ons nee wees volgens U wil. Laat ons daagliks ons dag begin en eindig met U Woord wat vir ons die pad aandui.  Laat ons voete U gewillig volg.

Maak ons bruikbaar en diensbaar vir U goeie werk. Here, laat ons U LIEFDE, HOOP en GELOOF uitleef.

Skenk ons vergifnis vir ons sonde, en help ons asseblief om ander te vergewe soos wat U van ons vra.  Ons smeek dit om U NAAMS ontwil alleen.

Laat ons hierdie jaar van 2012 'n JUBELJAAR beleef.  Dankie dat ons vir U mag vra. AMEN!

~ Lorraine Paynter ~








NUWEJAARSBOODSKAP

Dis ‘n nuwe jaar.

‘n Kans om die sleg en seer

van al die gisters te vergeet en

net die vreugde-mooi saam te neem.

Vanjaar, Here, wil ek regtig oor begin:

ek wil elke dag met ‘n skoon hart leef,

‘n rein gewete gaan slaap en

‘n vervullende lewe lei.

Vanjaar wil ek minder “ek” wees, en meer U;

minder kerm en kla en meer lag en dankie sê.

Ek wil nader aan U leef,

U en u Woord beter leer ken

en meer soos U wees.



My gebed vandag is:

Wees asseblief by my:

Wees elke oomblik van elke dag

my ewig Metgesel, my alwyse Raadgewer

en my begripvolle Trooster.

Help my om so op U gefokus te bly

dat ek elke dag met oorgawe sal leef

in die wete dat U die God van die Heelal

agter, langs, voor, onder en bo my is.

Van nou af tot in ewigheid.

AMEN

uittreksel uit Moed vir elke môre / en ons Kerkblaadjie van Die Vriendelike Gemeente Napier








GODS ORDE


God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd. – Pred. 3:11


God het ‘n heelal van oneindige skoonheid en orde geskep. Blomme en bome, mere en strome, wolke en sterre – al hierdie skoonheid en orde in ons wêreld is ‘n rede om fees te vier.  Die orde van God is duidelik in die natuur, en ons verheug ons in die wondere van die wêreld om ons.

Ons geniet die harmonie en skoonheid om ons.  Die kleurryke sonsondergange en ontelbare skitterende sterre in die hemelruim vul ons met diepe ootmoed.  Maar ons is ook nie minder waarderend teenoor die skoonheid en orde van die mensekind nie.  Die liefde wat ons deel met andere, die vriendelikheid en begrip wat ons ondervind waar ons ookal mag gaan, die waardering vir die liefde van God wat ons saambind as broers en susters – al hierdie dinge herinner ons steeds aan die harmonie en skoonheid in ons en in andere.

Ons besef dat ons geseënd, nodig en geliefd is – want ons het ‘n belangrike rol om te speel in die harmonie van die wêreld.


Gebed:  Dankie, Heer, vir die orde in my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 8 January 2012




Genade het my gesoek

Genade het my gevind

Genade het my staande gehou

Genade het vir my gesorg

Genade het my gedra

Genade het my geroep

Genade het my geleer:

Ware liefde is – genade.







GELOOF

Jesus sê toe vir hulle:  “Julle moet geloof in God hê!”
Mark. 11:22

          Hemelse God en Vader, hoe kan ek ooit nie in U glo nie – U die Skepper van die grootse heelal, so wonderlik en asemrowend mooi.
          En Heer, vir U troue sorg en liefde is ek so innig dankbaar.  Die grootsheid van U liefde laat my stom wanneer die warm strale van die son op ‘n koue dag deur die uitgestrekte hemelruim my gesig liggies aanraak.  En wanneer ‘n kind uit pure vreugde en liefde sy hande na my uitstrek, besef ek nog meer hoe groot U liefde vir my werklik is, en my geloof in U neem steeds toe.
        Hoe meer ek kyk na die wonder van U skepping om my, hoe meer ek U teenwoordiheid in my en om my begin ontdek en raaksien, hoe beter verstaan ek dit wat U vir my sê met die woorde:  “Kyk, Ek is met jou.  My koninkryk is binne-in jou.”
        Dankie Vader, vir U, en dankie vir U liefde, U grootse wysheid en intelligensie so duidelik sigbaar in die gang van die son en die sterre, en in elke saadjie wat ontkiem.
Gebed:  In U, Heer, glo ek!

~ Uit Daelikse Woord ~