Thursday, 8 March 2012

'n Mooi Vrou Soos Jy






 'n Mooi vrou SOOS JY  is soos gras, groei altyd weer nuut uit as mense dit vertrap het.

Soos fonteinwater, altyd weer helder, NIEMAND kry dit reg om sy modderspore vir altyd daarin te laat nie.Soos rooidag se mooi na die donker nag, so staan sy op, en geen storm kan dit bedreig nie. Soos 'n goeie boom lewer sy goeie vrugte met elke woord wat sy sê - geen gogga kan dit wegvreet nie.


~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~


Liewe Vader,

Beskerm asseblief vandag my vriendin, hou haar veilig onder U vlerk, en dankie vir die geleentheid wat ek vandag het om vir haar te kan vertel dat sy  SPESIAAL en KOSBAAR is.  Seën haar en almal wat haar aangaan.   Seën haar ook in haar werk en vir die Vrou wat sy is.  AMEN   









DANK

Dan sal ek die Naam van God besing,  Hom met ‘n danklied prys.
Ps. 69:31

Die vrolike manier waarop ek dankie sê, wys hoe ek God waardeer.  “Dankie Vader, vir U Heilige Gees in my wat my steeds vul met nuwe lewenskrag.  Vandag bly ek deurgaans dankbaar, en sien net die goeie en die mooie raak in my en in my medemens.  Ek weet ‘n bedekte seën skuil in elke uitdaging.  Ek waardeer en sê dankie vir die skoonheid van die natuur om my, en doen my deel om dit te bewaar.  Die lewe van God werk in my en om my en ek sê, dankie, Vader!

“Dankie Heer, vir U seëninge wat elke dag in my lewe ‘n ryke belewenis maak.  Dankie vir die rykmakende idees waarmee U my seën – idees wat my aanspoor, wat liefde bring in my menseverhoudinge, wat my lei na die regte werk vir my, en my seën met finansiële oorvloed.  Dankie vir U lig, liefde en krag wat onaggebroke in en deur my werk, tot seën vir my en vir elkeen met wie ek my lewe deel.

Gebed:  Dankie Heer, vir U liefde en lig in my hart.

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday, 7 March 2012





VREDE  EN  RUS


Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. 
Jer  29:13  OV


Selfs in die donkerste nag, is daar Een wat my hoop gee,  Een wat woorde van bemoediging saggies vir my fluister:

“Luister na my geliefde. Is jou nag donker, gevul met vrese en kommer, en jy kan maar net nie lig sien nie?  Kyk, Ek is baie nader as wat jy dink. Slegs een gedagte, een gebed is nodig, en jy is by My hier waar ek binne-in jou woon.

Geliefde, soek My en jy sal My vind. Vra met jou hele hart, en die vrede wat net Ek kan gee, sal jou hart en gemoed binnevloei.  Moenie jou las alleen probeer dra nie, want dan word hy baie swaar.  Kyk, Ek wag om dit oor te neem!  Kom, vat My hand, en Ek sal jou toevou in My liefde, nou en vir ewig.  Na waters waar rus is, sal Ek jou heen lei.

Waar jy ookal heen mag reis, hoe groot die uitdaging voor jou ookal mag skyn te wees, Ek is daar. Niks kan ooit die band tussen ons verbreek nie – onthou dit, en maak staat op My.”


Gebed:  Ek soek, en vind, en – Dankie Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 6 March 2012





GENIET DIE LEWE


Julle sal in blydskap … wegtrek en in vrede gelei word. 
– Jes. 55:12


Baie van ons daaglikse verantwoordelikhede mag vervelige roetinetake word.  Ons kan egter besluit om die lewe te geniet selfs daar waar ons besig is om dieselfde dinge oor en oor te doen.  Ons lewe kry sommer ‘n ander kleur as ons elke roetinetakie met vreugde en entoesiasme aanpak.

Die eerste stap tot ‘n gelukkige, vol lewe, is om die goeie en mooi dinge in ons lewe te begin soek, te sien en te waardeer.  Tot die kleinste seëninkie, wat ons andersins gladnie eers sou raakgesien het nie, sien ons nou met dankbaarheid raak.  Dit bring ‘n warm gloed in ons harte en help ons om optimisties te bly.

Om gelukkig en opgeruimd te wees, en ons lewe te geniet, hang nie soseer af van  WAT  met ons gebeur nie, maar  HOE  ons reageer op dit wat  met ons gebeur.  Die besluit berus by ons.  As ons dus ooit verveeld of  moedeloos voel, moet ons net onthou dat ons kan besluit om anders te leef.  En as ons dan besluit om daagliks te put uit die Fontein van vreugde diep in ons wese, sal dit vir ons geen probleem wees om blymoedig voort te gaan nie, wat ookal gebeur.


Gebed:  Ek put uit die Fontein van vreugde.


~ Uit Daelikse Woord ~








GOD MET MY


Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou:  Moenie bang wees nie, Ek help jou.  – Jes. 41:13


Wanneer ek een of ander iets nodig het, konsentreer ek nie op my behoefte nie.  Ek konsentreer op God, want Hy is my hulp in elke nood, die antwoord op elke gebed.  Ek besef dat my Heer met my is, waar ek ookal mag gaan.  Waar ek ry of loop, of dit nou op bekende of onbekende weë is, Hy is met my, altyd besig om my te lei en te beskerm.

Ook my geliefdes laat ek in Sy troue sorg en hou op om my oor hulle te bekommer.  Waar hulle ookal mag woon of werk, ry of loop, ek sien hulle omvou in Sy mantel van lig en weet ook hulle is veilig en beskermd.

As ek ‘n nuwe projek moet aanpak, God is met my. Waar ek werk en waar ek ontspan, God is met my.  Hoe wonderlik is hierdie besef nie!  Ek kan nooit wees waar God is nie.  Net hier waar ek is, is Hy met my, vat Hy my hand en sê Hy vir my:  EK help jou!


Gebed:  Dankie Heer, dat U ook my hand vat.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 5 March 2012





LIG


In U lig sien ons die lig – Ps. 36:10


Heer van my hart, laat U lig helder in en deur my skyn, want dit is die helder strale van U lig in my en om my, wat my lewe betekenis gee.  In die glans van U lig sien ek U weg helder voor my uitstrek, en so seker is ek dat dit die regte weg is, dat ek, sonder om ‘n oomblik te huiwer, die leiding wat ek so kry, volg.

Ek weet – U lig skyn vir ewig, en niks en niemand kan die helder strale daarvan uitwis nie.  Soms kan ek dit nie sien nie, omdat die wolk waaronder ek beland het  te dig is, en alles is duister om my – maar diep in my hart weet ek – die lig skyn voort, altyd helder en duidelik.

Laat U lig deur my skyn, o Heer.  Ek weet dit is nie in my mag om die vlam aan te steek nie, maar ek kan wel die pit van die kers deur my gedagtes in so ‘n toestand hou dat U dit maklik kan aansteek, en U lig helder en duidelik deur die vensters van my siel en lewe kan laat skyn.

Op U vertrou ek Heer, en vry en bly volg ek U lig op my pad.


Gebed:  In U lig, Heer, sien ek die lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 3 March 2012




DIE  FLUISTERING

Ons hoor net die gefluister van Sy woorde. Maar die vollle krag van Sy dade, wie kan dit verstaan?
Job 26:14

Wanneer ek my afsonder, en in die stilte wat daar heers my bede rig tot my Heer, luister Hy na my, daarvan is ek baie seker. In hierdie stil tyd saam met Hom neem Hy my hand, en ‘n diep sielevrede vul my gemoed en my hart. Ek weet Hy het my gehoor – ek weet in Sy krag, altyd daar, is ek tot alles in staat.

In diepe ootmoed staan ek voor die volle krag van Sy dade in my uur van nood. Maar wanneer Hy met my praat, is dit nie in ‘n harde donderende stem nie – nee – sag en teer is dit net ‘n fluistering wat my gedagte binneskiet. Ek weet ek moet ag gee op hierdie stil, sagte fluistering, want dit is ‘n hemelse idee wat so my gedagte-wêreld binnekom, en as ek my deel doen, is dit altyd tot my hoogste heil.

Dankie,  Vader, vir U liefde so wonderbaar, ook vir my! U praat, ek hoor, en sonder om te huiwer, reageer ek daarop, en oor my weë skyn ‘n lig!

Gebed: U fluister, ek luister, en oor my weë skyn ‘n lig!

~ Uit Daelikse Woord ~