Saturday, 11 July 2015

Die Gebed van Geloof





Die Gebed van Geloof ... .....


God is my hulp in élke nood,
Hý gee my élke dag my brood;
Hý wandel met my déúr die dag,
en élke oomblik van die nag.

Ek is wys en ek is trou,
gedúldig, ság en vól liefde nou.
In élke opsig kan ek wen,
solank ek  Chrístús in my ken.

Ek is gesónd, stérk en vrý,
*níks* kan my van Sý liefde skei.
Ek ken géén vrees, Hý is my krag,
Hý wandel met my dág na dág!

~ Uit Daelikse Woord ~
(Gedeeltelik geredigeer)




  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!





Stralende Liefde





STRALENDE  LIEFDE


Die liefde doen die naaste geen kwaad nie.  Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.  -  Rom. 13:10


Waar ons onself ookal vandag mag bevind, sal ons geleenthede kry om God se liefde uit te straal deur ons glimlagte, ons aandag en woorde van bemoediging wat ons aan andere gee.

Deur ons hoflikheid teenoor ‘n winkelklerk, deur vir ‘n buurman- of vrou te waai of iemand wat alleen is, op te soek, straal ons die goeie teenoor hulle uit.  Selfs in ons eie huis, tussen ons familie, hou ons die gloed van Gods liefde stralend, deur die aandag wat ons aan elkeen van ons geliefdes gee.

God se liefde is ook wederkerig teenoor ons.  Net soos ons goeie luisteraars is, sal daar weer andere wees wat geduldig na ons sal luister in tye wanneer óns in nood verkeer.  Net soos ons belanggestel het in ander, sal die glimlagte en bemoedigende woorde ook daar wees vir ons wanneer óns dit nodig mag hê.  Dit is God wat dit so beskik.  Hy gebruik vir óns as sy engele hier op aarde.

Die liefde wat ons uitstraal teenoor andere, seën ook weer  vir ons waar en wanneer ons dit mag nodig kry.


Gebed:  Ek is stralend gelukkig, want my hart is gevul met God se liefde en ek wag opgewonde om dit te deel met my naaste.  Dankie Here Jesus, daarvoor!


~ Uit Daelikse Woord ~

  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


Wednesday, 1 July 2015





Here,

Ek besef dat  U op die oomblik
besig is om my reg te snoei
al is die snoeiproses self
nie vir my baie lekker nie –
dat  U die nuttelose takke
uit my lewe verwyder sodat
ek meer en beter vrugte
vir  U kan dra.
Vrugte wat sal hou.

Maak dit asseblief vir my moontlik
dat u vrugte van nou af in oordaad
in my lewe sigbaar sal wees.

Dankie dat ek deur die snoeiproses
naby die wynstok kan lewe.
Help my om elke dag
in U te bly,
want sonder U
kan ek niks doen nie.

Dankie ook vir u belofte
dat ek, wanneer ek in U bly,
mag vra net wat ek wil
en ek dit sal verkry.
Here, ek kom vra nou dat ek
in alles wat ek doen,
sê en dink, u dissipel mag wees
sodat die Vader daardeur
verheerlik kan word.

Amen

Uit Nina Smit Versameling  :  Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing

  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!



'n Vrou begenadig





‘n Vrou begenadig


Lees Johannes 8:1-11


Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra:  ‘Mevrou, waar is hulle?  Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?’  Niemand nie, Here,’ sê sy.  Toe sê Jesus:  ‘Ek doen dit ook nie.  Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.’”  -  Joh. 8:10-11


Op ‘n dag het die skrifgeleerdes en Fariseërs ‘n vrou op heterdaad betrap is dat sy owerspel pleeg na Jesus toe gebring.  Hulle wou van Hom weet of hulle haar moes stenig, soos die wet van Moses beveel.
Eintlik wou hulle Jesus vasvra.  Maar al wat  Jesus gedoen het, was om vooroor te buk en met sy vinger in die grond te skryf.  Toe hulle aanhou om Hom te vra het Hy geantwoord:  “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi”  (1 Joh. 8:7).

Hierop het die aanklaers liewer een vir een weggeloop.  Hulle het goed geweet niemand se gewete is skoon nie.

Jesus wou daarna by die vrou weet of niemand dan die oordeel oor haar voltrek het nie.  Toe sy ontkennend antwoord, het Hy vir haar sy genade aangebied:  “Ek doen dit ook nie.”  het Hy gesê.  “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie”  (Joh. 8:11).

Jesus bied vandag  nog sy genade gratis aan vir elkeen wat dit wil aanneem.  Hy veroordeel ons nooit vir al die verkeerde dinge wat ons doen nie.  Hy vra wel dat ons nie meer sal sondig nie.

Is jy bereid om jou troetelsondes prys te gee uit dankbaarheid vir Jesus se genade teenoor jou?


Here Jesus, vergewe my dat daar nog soveel verkeerde dinge in my lewe is.  Help my om alle sonde te laat staan uit dankbaarheid vir u genade teenoor my.


Nina Smit  :  Uit  Die Groot Dagboek vir die vrou na God se hart

  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Friday, 19 June 2015

Vrese





Here,

U weet hoeveel vrese daar
nog in my lewe oorbly al
weet ek heel goed dat U my liefhet,
dat U vir my sal sorg
en my sal beskerm.
Here, gee dat die dinge
waarvoor ek bang is
tog nie met my sal gebeur nie.
Gee my u volmaakte liefde
wat alle vrees sal uitdryf
sodat ek net van u arms om my
bewus sal wees.

Dankie dat ek kan weet dat,
hoewel ek nie in die toekoms kan sien nie,
U in beheer van daardie toekoms is,
dat U my sal sterk maak,
my krag sal gee en veilig sal bewaar –
omdat U my liefhet. 
Maak dit vir my moontlik om vreesloos
te kan lewe,
om, wanneer ek bang raak,
net dieper te delf in u liefde vir my.

Dankie dat die koms
van u Seun na die wêreld
finaal ‘n einde kom maak het
aan die heerskappy van vrees.
Gee dat ek U so sal liefhê
dat daar in my lewe geen plek
vir vrees sal oorbly nie.
Here, vrywaar my van vandag af teen alle vrees
deur u Gees wat in my woon.

Amen

Uit Nina Smit Versameling  :  Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing

  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!









Met ‘n Rede


Lees Efesiërs 2:10-13


“God het ons gemaak wat ons nou is:  in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”  -  Ef. 2:10


Wanneer jy die Here as jou verlosser aanneem, word jy ‘n nuwe mens in Christus.  En hierdie nuwe mens is met ‘n rede op die aarde geplaas:  om die pad te loop wat God self in sy Woord vir ons uitgestippel het.

Dit beteken geensins dat jy nou goeie dade moet doen sodat jy gered kan word nie.  Inteendeel, jy het ‘n geskenk – jou redding – ontvang, en nou doen jy goeie dade omdat jy die geskenk ontvang het en dankbaar is daarvoor.

Jy is in sonde ontvang en gebore.  Vir jou wag die dood as straf op jou baie sonde.  Maar Jesus het vir jou gesterf sodat Hy jou sondeskuld in jou plek kon betaal.  ‘n Groter geskenk as dit kan niemand jou aanbied nie.  ‘Van geboorte was julle heidene ... Maar nou is julle een met Christus Jesus.  Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus,”  skryf Paulus in Efesiërs 2:11-13.

Wanneer iemand vir jou ‘n groot geskenk gee of iets spesiaals doen, wil jy graag ook vir hom of haar iets gee of doen om jou waardering te wys.  God het sy Seun prysgegee sodat jy vir altyd kan leef.

Doen jy elke dag die goeie dinge waarvoor God jou bestem het om só vir Hom dankie te sê vir jou verlossing?

Hemelse Vader, hoe kan ek dankiesê vir u groot genade en u liefde vir my?  Ek wil dit graag doen deur van nou af al daardie dinge te doen waarvoor u my bestem het.


Nina Smit  :  Die Groot Dagboek vir die vrou na God se hart


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


Saturday, 13 June 2015

Here, ek is so geneig om ander mense te kritiseer





Here,

Ek is so geneig om ander mense te kritiseer
en vir hulle kwaad te word wanneer
hulle dieselfde dinge doen
wat ek in my eie lewe probeer toesmeer.

Leer my asseblief om heel eerste
my eie foute raak te sien
en iets daaromtrent te doen
voordat ek ander mense se foute
uitlig en buite verhouding opblaas.
Vergewe my dat ek aan ander mense
veel hoër eise stel as aan my self.

Help my om ook teenoor my geliefdes
verdraagsaam te wees wanneer
hulle dieselfde foute maak as ek.
Maak my vergewensgesind
sodat ek elke keer bereid sal wees
om ander mense hulle foute te vergewe
soos wat U elke keer my sondes vergewe
wanneer ek U daarom vra.

Amen

Uit Nina Smit Versameling  :  Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing

  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!