Thursday, 13 October 2011




GEESTELIKE  SOEKTOG


Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.  Kol -  1:27


En dit is my geestelike soeke – ek wil Christus binne-in my vind en my eie maak, want Hy is my hoop op die heerlikheid.  Hoe wonderlik -  ek hoef nie ‘n berg uit te klim om die opwinding wat ‘n mens daar vind te ervaar nie.  Sonder om een enkele fisiese tree te gee, is ek op ‘n geestelike soektog, vol opwinding en ryk aan ervaringe.

Dit is op die hoofweg van die siel waarop ek my voete geplaas het, en hoe verder ek gaan op hierdie weg, hoe meer bewus raak ek van die wonder van hierdie hemelse teenwoordigheid diep verborge in my wese.

Ek soek Hom op in die môre, en sê dankie vir die dag met sy uitdagings, wat my geestelik al hoe sterker maak.  Ek soek Hom op in die aand en sê dankie vir die geleentheid om in Sy liefde te rus, en na gees, siel en liggaam, verkwik te word – gereed vir die volgende dag.

Om Christus in my te vind – my hoop op die heerlikheid, dit is my geestelike soektog!


Gebed: U heerlikheid in my, Heer, dit soek ek!


~ Uit Daelikse Woord ~






DIE  EWIGE  NOU


Kom, want alles is nou gereed. – Luk 14:17 OV


In tyd lewe ons nou – nie op ‘n tyd of datum in die toekoms nie. Die lewe is ‘n heerlike avontuur, bedoel om nou en hier geniet te word.

Ek leef in die ewige nou.  Dis die dag wat die Here gemaak het, en ek sal juig en bly wees daaroor.  Ek soek en vind die goeie wat in hierdie oomblik skuil.

Ek leef in die ewige nou.  Ek tob nie oor die verlede en die foute en teleurstellings wat verby is nie.  In plaas daarvan besef ek dat nóú die aangewese tyd is vir Gods seëninge om my lewe vol en ryk te maak.  Ek sê dankie vir elke geleentheid waarin ek mooi herinneringe vir die toekoms kan saai.

Ek leef in die ewige nou.  Al my gedagtes en energie is toegespits op hierdie een mooi dag deur God aan my geskenk.  Nou is die tyd vir oorwinning.  Nou is die tyd om my seëninge in ontvangs te neem.

Ek leef in die ewige nou.  Ek is oop en ontvanklik vir die vreugde en geluk wat hierdie dag my bied.  Vrede vul my gemoed, en ek is seker daarvan dat ek vandag ‘n wenner sal wees!


Gebed:  Vandag is ek ‘n wenner.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 12 October 2011




TROOS


Vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag. – Ps. 139:12


Dankie Heer, vir my lewe! Ek weet, wat ek ookal mag deurgaan, of dit nou aangenaam of pynlik is, U is altyd daar vir my, altyd gereed om my te vertroos en toe te vou in U liefde.

En as die laste te swaar word, en ek op my knieë sak, dan tel U my op en dra U my. Vir ‘n tyd sal daar net een ry voetspore in die sand wees, totdat ek in U krag weer op my eie voete kan staan, gereed om in geloof nuwe hoogtes te bereik.

As die pad voor my donker is en ek onseker, dan is dit U lig wat helder voor my uit skyn om my te lei.

As  ek twyfel of daar ooit mense is wat vir my omgee, dan leer U my van U liefde wat baie groter is as wat enige menslike liefde ooit kan wees.

As die wêreld om my in duie stort en onmin die oorhand kry, dan is dit U wat my leer dat ek U vrede in my hart kan oordra aan andere, deur self net stil en rustig by U voete te wees.

U Heer, is my krag en my sterkte, en die duisternis is nie meer donker nie.


Gebed: Dankie, Heer, vir my lewe in U.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 11 October 2011



GELOOF


Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.  1 Petr. 5:7


Kyk ‘n bietjie om u.  Sien u die wonderwerkende krag van God in en deur alles aan die werk?  As u kyk na die natuur, kan u die wonder van sy werke raaksien in elke blaar, in elke grashalm? As u kyk na die geboue om u, na die paaie en brûe, kan u sien hoe Sy skeppingskrag indiwidue inspireer om sulke ingewikkelde vorms en strukture daar te stel tot voordeel van die mens.

As ons dan so in diepe ootmoed die wonder van Sy glorieryke werke om ons aanskou, hoe kan ons dan nog twyfel dat Hy ook by ons is – dat Hy ook in en deur ons werk om wondere tot stand te bring?  So seker as wat die nuwe dag elke oggend aanbreek, so standvastig soos die maan wat agter die son aan deur die hemelruim beweeg, so seker is God ook ‘n deel van ons lewens – nou en vir ewig. Nooit sal Hy ons begewe of verlaat nie.

Met  so ‘n wonderlike hemelse krag aan ons kant, durf ons elke dag met moed en krag aan. Stewig geanker in ons geloof in Hom, is daar niks waarvoor ons bevrees is nie – Hy sorg vir ons, vandag, môre en elke dag!


Gebed:  God sorg vir my!

~ Uit Daelikse Woord ~


Monday, 10 October 2011



LAAT DAAR LIG WEES, HEER!

Dankie Vader:

U Lig skyn in my en om my.
U Liefde vloei in my en om my.
U Krag werk in en om my.
Waar ek ook al is,
wat ek ook al doen of sê of weergee,
Ek doen dit in U Lig,
U Liefde en U Krag.
Kalm, sonder vrees,
in U Liefde,
lewer ek my heel beste.




TUIN VAN MY HART

'n Tuintjie het ek vir my geplant,
waar "Dankies" weelderig groei.
Waar "Kan-ek-help" en "Kom-tog-weer",
en "ag-dis-niks-nie" bloei.
'n Bossie, "Bly-om-jou-te-sien",
'n Boompie, "Laat-my-toe".
En rye "Sit-tog-maar" is daar
En  "Kom-ek-wys-jou-hoe".
"Ekskuus" groei geil daar in my tuin,
En "Laggies" kol op kol.
Daar's plate en plate "Asseblief"
En "Soentjies" beddings vol.
Dan vra julle waarom in my tuin
daar soveel mooie goedjies groei.
Dan sê ek: "Dis omdat daar 'n liefde-stroompie vloei!"



DIE GEHEIM

Die koninkryk van God is binne-in julle.  – Luk. 17:21 OV

Gister nog het almal gekyk en begin wonder waarom ek dan so heerlik gelukkig en bly is, en dan mag hulle vir my vra:  “Wat het jy wat ek nie het nie, om die lewe vir jou so mooi en aangenaam te maak?”

En ek sal antwoord: “Dit wat ek het, het jy ook. Soek dit in jou gedagtes en in jou hart en jy sal dit vind. Dit is daar vir elkeen wat leef vanuit Gods koninkryk, en Hy wat woon in jou hart, sal jou hierdie wonder-koninkryk binne-lei.

Vind die Lig in jou diepste wese en jou siel sal begin leef.

Vind die Liefde diep verborge in jou hart en jou siel sal begin gee.

Vind die Krag van Hom wat woon in jou hart, en met ‘n lied in jou hart sal jy ontwaak en word wat jy is, en jy sal uit jou siel uit gee dit wat jy het om te gee. Wonder-vrugte vanuit ‘n wonder-koninkryk – dit is wat jy sal gee so ver jy gaan. En andere sal ook wonder waarom jy dan so gelukkig is.”

Gebed: U in my en ek in U – wat ‘n geheim! Dankie, dankie Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~