Saturday, 10 December 2011





EK STAAN OP!


Ek is die opstanding en die lewe – Jesus.    
Joh. 11:25


Onthou u nog hierdie teks – Jesus het dit self gesê, en hoe het Hy net nie opgestaan nie!

Ja, sê u miskien, dit was maklik vir Hom om dit te sê en dan ook reg te kry, want Hy was immers die Seun van God.

Maar wat het Hy nog gesê?  Alles wat Ek doen kan julle ook doen, omdat  Ek na my Vader gaan.  My krag is nou ook julle krag, want Ek en my Vader is een.

Dié geseënde woorde van Jesus is so oorweldigend, dat ons maar liewer in ons hoekie gaan sit en wegkruip vir al die lig, liefde en krag wat Hy is, en Hom los om alles vir ons te doen.

Maar dan gebeur die onverwagte – ons lewe stort in duie om ons!  Uitdagings waarvoor ons te staan kom word berge – vol twyfel en vreesbevange bid ons – Here, red my!  En die wonder van hierdie Seun van God is reeds sy eindelose liefde.  Hy lei ons, Hy rig ons op die regte pad vir ons, Hy tel ons op en dra ons as ons nie meer kan nie, tot ons weer op ons eie voete kan staan!


Gebed:  Ek staan weer op, soos Jesus!


~ Uit Daelikse Woord ~





Immanuel, God met ons

Here Jesus, Kind van Betlehem, ons aanbid U.

Ons sien met verlange uit na die viering van u geboortedag.

Laat ons Kersfees met ’n opregte gesinheid tegemoetgaan.

Suiwer ons gees van bitterheid en haat, en maak ons vry van sonde.

Laat elke geskenk in opregte liefde gegee word en elke groetekaartjie ’n belydenis wees van ons geloof in U, ons Verlosser.

Gee, deur u Gees, nuwe betekenis aan ou, bekende Kersmelodieë.

Gee dat Kersfees weer versoening bring tussen God en mens sodat elkeen U Vader sal noem.

Bewerkstellig ook versoening tussen mens en mens.

Mag die vrede waarvan die engele gesing het nie net ’n ydele droom of ’n onmoontlike ideaal wees nie, maar laat ons deur ons geloof dit ’n werklikheid maak.

Gee dat die wonder van Kersfees nie net vir ’n kort rukkie ons harte sal verbly nie, maar dat dit ook by ons sal bly wanneer ons weer moet terugkeer na die pligte, die bekommernisse en verantwoordelikhede, van elke dag.

Ons vra dit in die Naam van Jesus wat gekom het om die mens van sy sonde te verlos en om vir die ganse mensdom Immanuel—God by ons—te wees.

Amen




Friday, 9 December 2011




GENADE


Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
Joh. 1:16


Tradisioneel is Kersfees die tyd waarin ons die geboorte van Jesus vier, sowel as die boodskap van liefde en welwillendheid wat Hy na ons planeet toe gebring het bykans twee duisend jaar gelede.  En tog, hoe kosbaar Kersfees ookal vir ons mag wees as ons daaraan dink dat dit ook die geboorte van genade, van waarheid en ewigdurende vreugde is.

Gods genade vul ons met ewigdurende blydskap!  Saam met die jubelgesange van Kersfees jubel ons hart van blydskap oor die wonderlike gawes deur ons hemelse Vader aan ons geskenk wat ons nou raaksien en waarvoor ons nou dankie sê.  Deur Sy genade sien en ken ons Gods eindelose liefde, en die vreugde wat ons ervaar, is dieper en groter as wat ons nog ooit ervaar het.

God gee ons alles wat ons ooit nodig mag hê, en nog baie meer, omdat ons Sy geliefde kinders is.  En in Sy genade gee Hy aan ons die waardevolste geskenke van alle geskenke – Hy gee aan ons ewige lig, liefde, lewe en blydskap.


Gebed:  Gods genade laat my siel sing van blydskap.


~ Uit Daelikse Woord ~





??  Gaan ons hierdie Kersfees vir Jesus onthou??

‘n Briefie van Jesus

Soos julle weet, kom My verjaarsdag nader. Elke jaar is daar ‘n viering in My eer, en hierdie jaar sal die viering herhaal word. Gedurende hierdie tyd soek mense na geskenke, daar is baie radio aankondigings, advertensies, en in elke deel van die land praat almal van My verjaarsdag wat al nader kom. Dit is baie lekker om te weet dat, ten minste een maal per jaar, party mense aan My dink.

Die viering van My verjaarsdag begin baie jare terug. In die begin was die mense dankbaar en het verstaan wat Ek alles vir hulle gedoen het, maar nou lyk dit of niemand verstaan wat gevier word nie. Familie en vriende kom bymekaar en geniet die tyd geweldig, maar niemand weet die rede vir die viering nie. Ek onthou laas jaar was daar ‘n fees in My eer.

Die tafels was vol lekker eetgoed, vrugte en sjokolade. Die dekorasies was fantasties en daar was hope toegedraaide geskenke. Maar weet julle – Ek was nie genooi nie! Ek was die Eregas maar niemand het onthou om vir My ‘n uitnodiging te stuur nie! Die viering was vir My, maar toe die wonderlike dag aanbreek, was Ek buite gelaat, die deur is toegemaak in My gesig … Ek wou so graag saam met hulle wees en julle tafel deel.

Die waarheid is: die laaste aantal jare het almal die deur vir My toegemaak.
Omdat Ek nie genooi was nie, het Ek besluit om die viering te deel sonder om ‘n geraas te maak. Ek het saggies ingegaan en in die hoek gestaan. Almal het gedrink, en party was dronk en het grappe vertel en gelag oor alles. Hulle het ‘n goeie tyd gehad.

Om alles te kroon het ‘n groot, vet man, aangetrek in rooi, met ‘n lang wit baard, die kamer binne gekom en almal het ho-ho-ho geskreeu. Hy het dronk gelyk. Hy het op die bank gaan sit en al die kinders het na hom toe gehardloop en geskreeu “kersfees vader, kersfees vader” - asof die viering in sy eer was. Teen middernag het almal mekaar gedruk – Ek het ook My arms uitgehou en gewag vir iemand om My ook te druk – maar niemand het na My toe gekom nie. Almal het geskenkies begin uitruil. Hulle het dit oopgemaak met groot verwagting.

Toe alles oopgemaak is, het Ek gekyk of daar dalk net een vir My ook was. Maar hulle het My vergeet.
Toe het Ek besef Ek is onwelkom en het saggies weggegaan. Almal onthou slegs die partytjie, die geskenkies, die eetgoed, maar niemand onthou My nie!

Ek wil graag hierdie Kersfees hê dat jy My sal toelaat om in jou lewe te wees.  Ek sal daarvan hou as jy onthou dat Ek 2000 jaar gelede My lewe vir jou afgelê het aan die kruis om jou lewe te spaar! Vandag stuur ek die uitnodigings uit en daar is ‘n uitnodiging vir jou! Ek wil weet of jy dit graag sal wil bywoon, want dan sal Ek vir jou plek bespreek en jou naam met goue letters in My gasteboek skryf. Slegs die persone wie se name in die gasteboek geskryf is, sal genooi wees. Die wat nie die uitnodiging antwoord nie – sal buite gelaat word.

Wees gereed, want sodra alles gereed is, sal jy deel wees van My partytjie.
Sien jou gou.
Ek het jou lief
JESUS

Thursday, 8 December 2011




MY BEDE


En kyk, Ek is met julle al die dae.  – Matt. 28:20 OV


Dit is my gebed:


Dat ek een dag op ‘n keer kan lewe – een tree op ‘n keer.

Dat ek die krag en moed mag hê om aan te hou met aanhou.

Dat my besluite reg en goed mag wees.

Dat ek die moed mag hê om die verlede te laat vaar en die toekoms vry en bly binne te gaan.

Dat ek die genade mag hê om elke ondervinding met moed en durf te benader, en die seën daarin te vind.

Dat ek die geloof mag hê dat God altyd daar is vir my en my geliefdes.

Dat ek met die oë van my siel mag kyk, en net dit wat mooi en goed is in almal sien.

Dat ek nooit mag vergeet hoe na aan my Heer ek werklik is nie.

Dat ek mag weet dat die Ewige Arms onder my is, en dat my Heer met my is, al die dae.


Dit is my gebed.


Gebed:  God is altyd daar vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 7 December 2011




VLEUELS


Neem ek die vleuels van die daeraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou U hand my lei en U regterhand my vashou. 
Ps. 139:9


Vandag neem ek die vleuels van die daeraad, en vlieg ‘n nuwe, lokkende dag binne.  Hernu en verfris na die rus van die nag, vry van die eise van gister, met nuwe krag en moed, sweef ek die nuwe dag binne.  Die vleuels wat my so dra het ‘n krag van hul eie wanneer my eie kragte uitroep:  “Ek kan nie meer nie!”  Hoër en hoër dra dit my wanneer die dinge van die wêreld dreig om my na benede te trek.  Heerlik vry en bly, sê ek dankie vir die wonder, die krag en die sterkte van hierdie hemelse vleuels wat my so vreesloos die toekoms binne dra – vreesloos omdat ek weet Wie hou my regterhand vas!

Dankie, Vader, vir U krag in my wat my in staat stel om op te staan, om sterk te staan en met die vleuels van die daeraad hoog te vlieg bo alles heen wat dreig om my aan bande te lê.  Opwaarts dra die vlerke my wanneer die dinge van die wêreld my na benede trek!


Gebed:  Dankie, Vader, vir die vlerke wat my opwaarts dra!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 5 December 2011





Ek Is Hier!

Soek jy na My?  Ek is hier.

Jy kan my nie sien nie, en tog is Ek die lig waarby jy sien.

Jy kan my nie hoor nie, en tog spreek Ek deur jou stem.

Jy kan my nie voel nie, en tog is Ek die krag in jou hande.

Ek is besig om te lei, al verstaan jy nie My weë nie.

Ek is besig om te werk, al herken jy nie My werke nie.

Ek is nie vreemde visioene nie.  Ek is geen misterie nie.

Net  in absolute stilte, waar die eie ek nie meer bestaan nie, sal jy My ken soos Ek is, en selfs dan sal dit net ‘n gewaarwording en geloof wees.

Tog is Ek hier.  Ek hoor.  Ek antwoord.

As jy My nodig het, Ek is hier.

Selfs al ontken jy My, is Ek hier.

As jy eensaam en allenig is, is Ek hier.

As jy bang is, is Ek hier.

As jy in pyn is, is Ek hier.

Ek is hier wanneer jy bid, en selfs wanneer jy nie bid nie.

Ek is in jou, en jy is in My.

Al slaag jy nie daarin om My te vind nie, Ek sal jou nooit faal nie.

Al is jou geloof in My nóg so klein, My geloof in jou wankel nooit nie, want … Ek ken jou, en Ek het jou lief.

Geliefde, hier is Ek.


~ James Dillet Freeman ~