Sunday, 23 August 2015

STILTE







STILTE


My siel is stil tot God.  -  Ps. 62:2 (OV)


Hier waar ek nou rustig en ontspanne sit binne-in my eie diepste heiligdom, is my siel stil tot God.  Tot by die waters waar rus is, lei Hy my, en verkwik Hy my siel.  Soos die krag wat in die dieptes van ‘n dam skuil en die water by ‘n sluis laat uitspuit, so is die krag waarmee my Heer my siel verkwik in hierdie stil dieptes saam met Hom.

Die geraas, die onrus, geweld en probleme, al die dinge van die wêreld om my, dryf op die oppervlak van die water weg, en verdamp tot mis in die hitte van die lig van die son.

Nuwe idees, nuwe insigte en ‘n dieper siening word aan my openbaar, en dit wat onoorkomelik gelyk het, is nie meer so skrikwekkend in Sy stil, grenslose krag en lig nie.

‘n Paar oomblikke van stille gebed, ‘n paar oomblikke gewy aan die Heer van my hart, is al wat ek nodig het om die sluise van my siel oop te maak, en ‘n uitdagende dag te omskep in ‘n dag van orde en oorwinning!


Gebed:  My siel is stil tot God.


~ Uit Daelikse Woord ~




  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Nooit Alleen Nie






Nooit alleen nie


Here,


U Woord is so wonderlik!  Dankie vir die versekering dat ek nooit alleen is nie.  Dat U altyd by my is.  Dat ek ook nie alles hoef te verstaan wat U oor my pad bring nie.  Help my asseblief om my krisistye met u hulp so te hanteer dat die mense om my sal kan sien dat U lewe!  Help my om U te loof en groot te maak wanneer dit met my sleg gaan, omdat ek seker weet:  hierdie dinge gaan verby, hulle berei my eintlik net voor op die ewige lewe wat U belowe het vir dié wat U liefhet.


Amen


ღ  As Christen kán ek nooit alleen wees nie – God is áltyd by my, verál in krisistye!


Nina Smit  :  Gedra deur Sy liefde



  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Saturday, 22 August 2015

GENADE





GENADE


En nou ... dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade.  -  Hand. 20:32 (OV)


Soms mag ek al die waarhede wat ek ken met my hele hart en siel nastreef en toepas in my lewe, en tog voel dit of ek steeds teen ‘n muur vasloop.  Selfs my beste pogings lyk of dit geen effek het nie.  En dan, skíélik, gebeur daar ‘n wónderwerk!  My gebede word beantwoord – beslis nie deur mý eie toedoen nie, want kyk hoe moedeloos en negatief het ek geraak ...  Dís wanneer die genade van God in werking tree!

Hierdie genade van ons hemelse Vader is té diep en té groots en onbeskryflik vir ons ou menslike verstandjies om te verstaan, want dit is vêr verhewe bo álle menslike idees van reg en billikheid.  In Sý liefde en genade, het  God Sý seëninge op my uitgestort.  Vrylik gee Hy, en met díépe dankbaarheid ontvang ek.

Gods genade is daar, óók vir my, of ek nou voel ek het dit verdien of nie.  Ongeag my eie oordeel oor wat reg is, werk Sý wonderwerkende genade ín my, déúr my en óm my, en hoe ryklik geseënd is ek net nie!


Gebed:  Dankie Here, vir U wonderwerkende genade wat áltyddeur aan die werk is in my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~

  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook

Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Die sagte fluistering van U stem





Hemelse Vader,


Baie dankie dan  U met my praat
wanneer ek moedeloos en verward is.
Dankie dat ek, wanneer dit donker word om my en
probleme op my toesak, die sagte fluistering van
u stem kan hoor.
Ek weet nou dat  U juis praat op dié oomblikke wanneer ek
dit die minste verwag;  dat U stem eers werklik hoorbaar
word wanneer dit stil word in en om my.
Here, help my om genoeg tyd te maak om te konsentreer,
fyn te luister en besig te raak met u Woord
sodat ek u stem daarin kan hoor.
Gee my die regte woorde om met U te praat in gebed.
Help my om dié dinge wat U my geleer het,
die geheime wat U in my oor gefluister het, aan ander
mense deur te gee.
Ek luister nou soos Samuel van ouds,
Here – maak die kanaal tussen ons
oop en praat asseblief met my.


Amen


Nina Smit  :  As God fluister


  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Friday, 21 August 2015

GENADE





Genade


Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham.  -  Matt. 1:1


Hemelse Vader,


Vandag kom ek vir  U dankie sê
dat ek ook ‘n plekkie in u familieregister kan kry
omdat ek in  Ú  glo.
Here, U weet dat ek u genade nooit kan verdien nie,
maar ek eien dit vir my toe
omdat  U dit vir my moontlik maak om die
wil van u Vader te doen.
Vergewe my wanneer ek soms mense afskryf en as minder
belangrik beskou sonder om met die feit rekening te hou dat
U  álle mense liefhet en vir die grootste sondaar gesterf het.
Ek beoordeel ander baiekeer
volgens menslike maatstawwe, Here.
Help my asseblief om nie impulsiewe oordele
oor ander te vel nie, maar om mense met
verdraagsaamheid en genade te behandel.


Amen


Nina Smit  :  As God Fluister



  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Die Stilte van Gebed





DIE  STILTE  VAN  GEBED


So sê die Here ... :  In terugkeer en rus lê julle heil, in stil-wees en vertroue bestaan julle krag.  -  Jes. 30:15 (OV)


Stil voor die Heer van my hart, díép in my diepste heiligdom, ontspan ek na gees, siel en liggaam, en ek maak my hart en gemoed wawyd oop vir Sý Liefde, Sý lig en krag om my bínne te stroom.  Die rus en die vrede wat ek só ervaar kan nie in woorde omskryf word nie.  Dis ‘n héílige tyd van eenwording tussen my en my Heer.  Dis ‘n heilige tyd van eenwording tussen my en álles wat bestaan in die wonder van Gods lig, liefde en krag, díé polsslag van die lewe self.

Hóé helder die lig wat in hierdie tyd in my en déúr my skyn, tot seën van my en my wêreld met al sy mense.  Hóé diep die liefde wat in en deur my werk en straal, tot seën van my en my wêreld met al sy mense.

Die wonder van híérdie éénwording met my Heer, bly my by dwársdeur die dag, en met núwe ywer en energie gaan ek voort op Sy pad van lig.


Gebed:  Dankie, Heer, vir  Ú  krag wat ook mý krag is.


~ Uit Daelikse Woord ~


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Thursday, 20 August 2015

Reg en Liefde






'n Vrou wat na
reg en liefde
strewe, aan haar
word 'n vol lewe
en eer geskenk.

~ Fynbos Vrou ~