VERWAGTING
Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. – Ef. 6:18
Diep in gebed, in my binneste heiligdom, lê ek alles wat my kwel, elke kommer en sorg, in die hande van my eie inwonende Christus. Op rakkies van lig plaas Hy my gebedsversoeke, en een vir een word elke las omskep in ‘n pakkie van lig – lig wat die las omskep in ‘n seën.
Dit glo ek, dit verwag ek, en ek maak my gereed vir wonderwerke om te geskied, in my en om my, en ook vir alles en almal vir wie ek bid. Want waar daar lig is, daar is God en waar God is, daar is lig, liefde en krag, in oormaat.
Ek vergeet ook nie om elke versoek wat ek aan Hom rig af te sluit met die woorde – “Dit Here, is wat ek graag wil hê. Maar as U iets beter vir my in gedagte het, dan sê ek nou byvoorbaat dankie daarvoor.” Wie weet beter as reeds Hy, wat vir my en my geliefdes se sieleheil die beste is. Daarom laat ek alles in Sy bekwame hande.
Ek handel in die lig, ek wandel in die lig, en my pad van lig lê duidelik en helder voor my uit.
Gebed: Vol verwagting volg ek Gods lig en leiding.
~ Uit Daelikse Woord ~
No comments:
Post a Comment