LAAT DIT
AAN GOD OOR
Lees Spreuke 16:1-9
“Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal
jou voornemens geluk.” – Spr. 16:3
Vandag gee die
Spreukeskrywer vir jou ‘n onfeilbare suksesresep in ‘n neutedop: Net wanneer jy bereid is om dié dinge wat jy
doen volkome aan die Here oor te laat, het jy ‘n waarborg dat jou voornemens
sal geluk.
Dit is goed en reg om drome
te droom en planne te maak, mits jy terselfdertyd gewillig is om die totaal van
alles wat jy graag wil doen in God se hande oor te gee. En wanneer dinge dan
anders verloop as wat jy beplan het, moet jy stééds tevrede wees met God se
plan vir jou lewe – al verskil dit hémelsbreed van die planne wat jy beraam
het.
Alhoewel nie een van ons ons
omstandighede kan kies nie, kan ons wel kies hoe ons op ons omstandighede gaan
reageer. As jy dus vanjaar bid vir jou kind se huwelik en dit beland tog op die
rotse; as jy bid vir jou man se
werksomstandighede en hy verloor tog sy werk;
as jy bid vir gesondheid en jy beland tog in die hospitaal ... Onthou
dat dié gebeure deel van God se plan vir
jou is.
En God laat op die ou end
alles goed uitwerk vir sy kinders – ook al lyk dit op die oomblik vir jou asof
al jou drome skipbreuk gely het. God sal
negatiewe dinge soos krisisse, siekte en swaarkry vir jou in pluspunte
verander. Vertrou Hom net elke dag
onvoorwaardelik.
Here, vergewe my dat ek so
maklik tou opgooi wanneer my planne misluk.
Leer my opnuut om alles wat ek doen, aan U oor te laat. Dankie dat ek op
U kan vertrou om alles uiteindelik vir my ten goede te laat uitwerk. Amen
Nina Smit : Die
Groot Dagboek vir die Vrou na God se Hart
Koningsdogters vir
Jesus Bediening / Facebook
No comments:
Post a Comment