Showing posts with label EK IS. Show all posts
Showing posts with label EK IS. Show all posts

Wednesday, 13 September 2017

EK IS







EK  IS


Christus is in julle,  Hy is julle hoop op die heerlikheid.  -  Kol.  1:27


Geliefde, wees stil en weet Ek is die Christus wat opgestaan het in die krip van jou hart – in die kern van jou wese.


Wees dit wat Ek is in die kern van jou wese, en jou liefde sal uitblom, jou lig sal skitterblink, jou krag sal oorneem en jou omskep in dít wat Ek is in die kern van jou wese.


Die geheim van hoe om hierdie grootse waarheid jou eie te maak en uit te leef, lê in jou stil tyd saam met My,  *elke dag*.   Wees net stil saam met My  -  *elke dag*  - en jy sal word wat Ek is in die kern van jou wese.   Jy sal Lig wees, en Liefde, ‘n ware opregte Ligwese.


Dis nie so moeilik nie – vat net My hand vroeg in die oggend en laat in die aand, en stil, sonder basuingeskal, sal jy stadig maar seker al hoe meer word dit wat Ek is in die kern van jou wese.


Dankie, dankie, dierbare Heer van my hart.  Ek sal doen wat U sê, en saam met U leef vanuit die kern van my wese, en doen en wees wat U verlang!


Gebed:  Hóé groot die wonder!  Christus leef in my hart!


~ Uit Daelikse Woord ~  


Koningsdogters- en Seuns vir Jesus / Facebook



 


Monday, 19 March 2012





EK  IS

Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.  -  Joh. 14:6

Geliefde,  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”  Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.  Ek is die waarheid van jou wese.  Volmaakte lewenskrag en ewige rus en vrede, dit bied ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.  Ek is die lig wat jou lei.  Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.  Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.  Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.  Ek is Christus in jou hart.

Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday, 26 November 2011




EK  IS


Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?  -  1 Kor. 3:16


Luister geliefde:  Ek is die één teenwoordigheid en die één krag in hierdie liggaamstempel.  Laat alles in jou en om jou getuig van hierdie waarheid.  Ek is die lig in hierdie denke, die liefde in hierdie hart, en die krag in hierdie liggaam – altyd daar!

Laat My lig gehoor word in die woorde wat jy spreek – woorde vol wysheid en begrip, vir jou en vir almal om jou.

Laat  my liefde gevoel word in die deernis waarmee jy andere benader – gesien word in jou onbaatsugtige dade en leefwyse.

Laat my krag gesien word in die moed en durf waarmee jy alles aanpak – die moed en en durf onderliggend aan alles wat jy doen en alles wat jy sê.

Leef in My lig, gee in My liefde, wees sterk in My krag, en jou lewe sal My lewe in jou weerspieël.  Wees lig, wees liefde en wees krag, want dit is wat Ek is in jou – altyd daar!


Gebed:  Met U in my en ek in U, ís ek Lig, Liefde en Krag!


~ Uit Daelikse Woord ~