Showing posts with label Gods Genade. Show all posts
Showing posts with label Gods Genade. Show all posts

Monday, 15 September 2014

GODS GENADE





Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade.  -  Hand. 20:32


Liefdevolle Vader, ek dank U vir U genade wat my stok en my staf is, elke oomblik van elke dag.  Selfs nog voor ek vra, voorsien U alreeds in elke behoefte in my lewe.

Dankie vir die seëninge wat u so oorvloediglik op my uitstort, nie oor dit wat ek gedoen het of nie gedoen het nie, maar omdat U my liefhet en na my omsien, net soos ek is.  U maak my so sterk, dat niks en niemand my kan breek nie.

U genade is ‘n fondament van liefde waarop ek staan.  Dis so sterk onder my, dat ek nie bang word wanneer onbillike eise aan my gestel word of vreesaanjaende voorspellings gemaak word aangaande ons land of die wêreld nie.  Sag en teer vou U my toe in U liefde en genade.

Dankie Heer, vir U troue sorg en genade, vir my, vir my geliefdes – vir alles en almal in my lewe, ons land en ons wêreld.  Baie, baie dankie, dierbaarste Heer!


Gebed:  Dankie Heer vir U grenslose genade.



~ Uit Daelikse Woord ~



Thursday, 27 December 2012





GODS GENADE

Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.  -  Hand. 6:8

Waar ek ookal mag gaan, en wat ek ookal mag doen, Gods genade is altyd daar om my op te hef en te onderskraag.  Ek is Sy geliefde kind, en in Sy liefde en genade speel Hy ‘n aktiewe rol in alles wat my aangaan – en in alles wat ek doen.

As ek hierdie grootse genade van my Heer my eie maak, is die regte leiding op die regte tyd daar, en in Sy krag kan ek die hoogste sport behaal in wat ek ookal mag nastreef.  As ek aan die ander kant dalk ‘n fout maak, is dit weereens Sy genade wat my leer hoe om die fout te omskep in ‘n seën, tot my hoogste heil.

Alles wat ek doen en alles wat ek ontvang, is die direkte resultaat van die werkinge van Gods genade in my lewe.  Hy voorsien aan my die sleutels tot Sy koninkryk van oorvloed, en ek is ryklik geseën.  Ek gebruik die sleutels om deure oop te sluit wat lei tot ‘n gelukkige, vol en ryk lewe.

Seëninge uit Gods koninkryk van lig, te veel om op te noem, word op my uitgestort as ek my verlaat op die werkinge van Gods genade in my lewe.

Gebed:  Gods genade is aktief op elke gebied van my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~