Showing posts with label KRAG. Show all posts
Showing posts with label KRAG. Show all posts

Thursday, 12 March 2015

KRAG





God is my sterkte;  aan Hom behoort ek vir altyd.  -  Ps. 73:26


Ons het seker almal al die ervaring gehad om voor ‘n skynbaar onoorkomelike probleem te staan, en dan skielik al die moed en krag te hê om dit te oorkom.  Waarvandaan en van wie kom hierdie grenslose krag?  Alle krag kom van God.

Wat ‘n vreugde en voorreg om dit wat ons maar alte dikwels vergeet het, te herontdek – die krag, energie en moed van Gods Heilige Gees binne-in ons!  Terdeë bewus van ons eenheid met Sy Gees en álles wat dit ons bied, kan ons met entoesiasme uitroep:  “Ek is stérk, gesónd, energiék en gelúkkig!”  Ons sê hierdie woorde, ons gló dit, en word opnúút bewus van ál die krag, sterkte, lewensvreugde én energie in élke deel van ons wese.

Ons is sterk, gesond, energiek en gelukkig!  Hierdie woorde weerklink dwarsdeur ons wese, en kom terug as ‘n stil dankgebed tot God, die Bron van al ons krag, gesondheid en energie.


Gebed:  Dankie Jesus, ek is sterk, gesond, energiek, gelukkig en in staat tot enigiets deur  Ú wat my die krag gee!


~ Uit Daelikse Woord ~


✉  deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

Wednesday, 11 June 2014





KRAG


Die wat op die Here wag, kry nuwe krag;  hulle vaar op met vleuels soos die arende;  ... hulle wandel en word nie mat nie.  -  Jes. 40:31 OV


Hoe heerlik sal dit nie wees om op te vaar met die vleuels van arende, en te wandel en nie moeg te word nie!  Ons kan, sê Jesaja, ons moet net op die Here wag.  Want as ons op die Here wag, styg ons uit bo alles wat ons so vas bind op hierdie aarde.

Maar hoe wag ‘n mens op die Here?  Ons gaan ontmoet  Hom vroeg in die oggend en laat in die aand, en enige tyd deur die dag wanneer ons Hom dringend nodig het, of sommer net ‘n klein oomblikkie vry het om Hom op te soek in ons diepste heiligdom van krag.  Daar sal ons Hom ALTYD kry!

‘n Tyd om stil te word in sy Heerlikheid, Liefde, Lig en Krag – ‘n tyd om Hom toe te laat om ons hart en ons siel binne te kom, sodat ons ware opregte Ligwesens kan word wat woon in ‘n tempel van Lig.  Dit is wat ons moet doen om met die vleuels van arende oor al ons probleme heen uit te styg – só hoog sweef ons dan dat die uitdagings voor ons slegs geleenthede word!


Gebed:  Dankie, Here, op U wag ek, en kry ek nuwe krag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 27 April 2012





KRAG


Die Here is my krag en my beskerming. - Ps. 118:14


Binne-in my skuil daar 'n krag wat groter is as enigiets om my - dit is die krag van my eie inwonende Heilige Gees, die krag wat ek vind in gebed - die grenslose krag wat kom van my diepste heiligdom, waaruit ek kan put en put en nogmaals put.

Hierdie krag kom van God - dit is die krag waarin ek lewe, beweeg en bestaan. Hoe fel die aanslae teen my ookal mag wees - hoe groot die krisis, ek beskik oor die nodige krag om staande te bly en aan te gaan met my lewe. Nooit staan ek alleen nie, want aan my sy staan Hy wat my al die krag gee wat ek ooit mag nodig kry. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee, en ons sê dankie daarvoor.

Dankie Heer, vir U krag so mildelik tot my beskikking. Dankie dat ek dit altyd kan gebruik, waar nodig, wanneer nodig, soos nodig. Dankie dat ek in U krag 'n wenner kan wees.


Gebed: Dankie Heer, vir die krag van U Heilige Gees in my!


~ Uit Daelikse Woord ~