Showing posts with label LAAT LOS. Show all posts
Showing posts with label LAAT LOS. Show all posts

Wednesday, 28 August 2013

LAAT LOS, LAAT GOD






Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.    
1 Petr. 5:7


Dit is soms bitter moeilik om orde in ‘n probleem-situasie te sien.  Wanneer ek egter daarin slaag om God in beheer te plaas, is dit nie so moeilik nie en dit is vir my moontlik om sy orde raak te sien in selfs die mees ongewone omstandighede.

Ek laat los.  Ek laat los alle kommer en laat ook nie toe dat die kommer van andere my ontstig nie.  Ek laat los herinneringe wat dit vir my moeilik maak om te vergewe.  Ek laat los die drang om die blaam op myself of iemand anders te plaas.

Ek laat God.  Ek laat Sy lig in my denke en Sy liefde in my hart die werk doen, want waar lig is, en liefde, daar heers harmonie en vrede.  Niemand en niks kan dan die harmonie tussen my en my medemens versteur nie, en elke dag is ryk aan seëninge.

Dit is wanneer ek laat los en God toelaat om oor te neem, wat Sy lig helder in en deur my skyn, op alles en almal om my.  Ek weet dat alles wat met my mag gebeur, slegs bydra tot my geestelike groei as ek dit reg benader.  Sy wil is altyd tot my hoogste heil.


Gebed:  Ek laat los en laat God.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 17 July 2012





LAAT LOS,  LAAT GOD


Wie die wil van God doen, bly ewig lewe.  -  1 Joh. 2:17


Die hoogste doel waarna ons kan streef, is om meer bewus te word van ons geestelike eenheid met ons Hemelse Vader, en dit is dan ook wat ons daagliks doen deur ons tye van stilte en die lees van sy Woord.  Daar kom egter soms tye wanneer ons so vasgevang raak in ‘n krisis, dat dit voel asof ons vir elke tree wat ons voorwaarts neem twee treë agteruit  beweeg.

Hoe sal ons dan ooit weet of ons daarin sal slaag om ons lewens geheel en al in Gods troue sorg te plaas?  Die antwoord hierop is eenvoudig – ons moet net te alle tye, of dit nou goed gaan met ons of sleg, onthou dat ons geliefde kinders van ‘n Hemelse Vader is, en dat ons welsyn vir Hom baie belangrik is – Hy sal ons nooit  begewe of verlaat nie.  Sy wil is altyd tot ons hoogste heil.  God beproef ons, slegs tot groeipunt, nooit tot breekpunt nie.

Met hierdie grootse waarhede in gedagte, laat ons alles net so in Sy bekwame Vaderhande, en al lyk dinge vir ons op die oog af soms hóé verkeerd, ons weet Hy is in beheer, en in vrede laat ons Sy wil geskied.


Gebed:  Ek laat los en God neem oor!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 5 January 2012




LAAT LOS


Julle gees en gedagtes moet nuut word;  lewe as nuwe mense.  
Ef. 4:23-24


Enige tyd is reg om dankie te sê vir geestelike hernuwing.  Net soos bloeisels in al hul prag en skoonheid uit die doppe wat hulle gebonde gehou het, uitbars, so is ek ook vry om alles wat my gebonde gehou het in die verlede te los.

En as ek laat los en God laat oorneem, word ek bewus van die grootsheid van Sy polsende lewe in my en om my.  Ek aanskou die wonder van die ontluikende natuur, en word een met die wonder van Gods liefde en krag.

My denke is suiwer en skoon, want ek is vry van alle wrewel en onaangename herinneringe van die verlede.  Gods liefde vul nou die plek daarvan, en enige gedagte wat nog ‘n greintjie van twyfel in my gemoed wil saai, wis Hy onmiddelik uit.  Ek is rustig en ontspanne, bekommer my nie oor die toekoms nie, en is nie bang vir dit wat voor my lê nie.

Met nuwe oorgawe los ek alles wat my aangaan in God s bekwame hande, en is is heerlik, gelukkig en vry!


Gebed:  Ek laat los en laat God alles hanteer!


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 30 November 2011




LAAT  LOS,  LAAT GOD


Laat U wil geskied.  – Matt. 6:10 OV


Ek mag so seker wees dat dit wat ek dink reg is, dat ek in die pad van Gods volmaakte plan kan staan.  Om seker te maak dat  SY wil geskied, los ek alles in Sy hande en laat Hom oorneem.

Ek laat los.  Ek raak ontslae van alle vooropgestelde idees omtrent mense en gebeure, en laat die goeie op ‘n natuurlik, ordelike manier ontvou.  Ek sien net die mooie en die skone in alles en almal om my, en besef al hoe meer dat Gods plan besig is om te ontvou.

Ek laat Gods liefde deur my vloei.  Deur alles te los en Hom toe te laat om oor te neem in my lewe, maak ek my hart oop vir Sy liefde om dit binne te vloei en tot oorlopens toe te vul.  Hierdie grootse liefde kan gesien word in my handel en my wandel, en maak my vry van enige bande wat ek of andere vir my opgelê het.

Hierdie grootse liefde bring nuwe begrip en verdraagsaamheid in my verhouding met andere.  Dit maak my oë oop vir die mooie in my en om my – dit help my om die lig te sien..


Gebed:  Ek laat los en laat Gods liefde oorneem.


~ Daelikse Woord ~