Showing posts with label VOORSPOED. Show all posts
Showing posts with label VOORSPOED. Show all posts

Monday, 8 October 2012





VOORSPOED


Dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik.  -  Rom. 10:12


In die oggend roep ek my Heer aan – in die middag en in die aand soek ek Hom op diep in my hart, en ek is ryklik geseënd!

Wat is die seëninge waarmee Hy my so ryklik seën?  Ek hoef maar net om my te kyk, en ek sal verbaas wees oor wat God my bied.

My familie, my vriende en medewerkers, die dak oor my kop en die lug wat ek inasem en uitasem en wat my aan die lewe hou – is dit nie alles ryke seëninge vanuit ‘n Vaderhart vol liefde nie?

Hy sorg vir my – in tye van oorvloed sien Hy na my om, en in my tye van nood is Hy nog steeds daar om in al my behoeftes te voorsien.

Miskien is daar deure wat voor my toegaan – miskien verloor ek my werk en alles lyk duister, dan bly die waarheid nog steeds staan – ek is ‘n kind van ‘n liefdevolle Vader en Hy sorg vir my – Hy maak my voorspoedig.  En al is die seëninge op die oog af hoé min, ek soek hulle, ek vind hulle, en ek sê dankie!


Gebed:  Dankie Heer, vir u ryke seëninge ook vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 17 August 2012






VOORSPOED 


Maak my U wil bekend, Here, leer my U paaie.  -  Ps. 25:4


Sien ek myself as onsuksesvol, vasgevang in onsekere tye, ‘n swak ekonomie of beperkende omstandighede?

Nou, op hierdie oomblik, raak ek ontslae van hierdie soort gedagtes.  Ek weet dat ek, met Christus wat in my woon en in Sy krag, alles kan wees wat ek graag wil wees – en nog veel meer!  Christus is my geestelike leier, en plaas my voete op ‘n weg wat lei tot ‘n suksesvolle, oorvloedige lewe.

Ek verwelkom Sy idees en is gretig om hulle deel te maak van my lewe.  Wanneer ek Sy lig-idees volg en toepas, is daar altyd ‘n beter weg, plan of aksie wat my uit beperkende omstandighede sal uitlig.  Dit glo ek.

Sy wonderlike, heerlike Lig-idees, maak my lewe vol en ryk, en help my om ‘n stralende sukses te maak van wat daar ookal voor my lê.  Nuwe deure gaan voor my oop, en met ‘n lied in my hart, vry van kommer en vrese, gaan ek ‘n vol en ryk toekoms tegemoet.


Gebed:  Ek volg Gods lig-idees en is suksesvol!
            
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                               
~ Uit Daelikse Woord ~


Sunday, 6 November 2011



VOORSPOED


In alles wat hy onderneem het … het hy met sy hele hart gevra na die wil van God, en daarom was hy voorspoedig.  – 2 Kron. 31:21


Christus woon in my hart, en as ek Hom ken in alles wat my aangaan, en Sy leiding volg op elke gebied van my lewe, sal Hy my ‘n wenner maak.

Gedagtes aan gebrek, gedagtes wat sê ek kan nie, enigiets wat my inperk en aan bande lê, is soos onkruid en soos onkruid roei ek dit uit.  Slegs die lig, die liefde en krag van God groei in die altaar wat my hart is.

God het my lief en Hy sorg vir my.  Nuwe weë tot voorsiening gaan voor my oop.

God het my lief en lei my.  Hy voorsien my van die nodige insig, wysheid en goeie oordeel.

God het my lief en help my om nuwe talente te ontwikkel en om my vaardighede op lonende maniere te benut.  Nuwe idees inspireer my tot verdere optrede.

God het my lief en maak my voorspoedig.  Liefdevol lei Hy my op die pad wat strek tot my hoogste heil, en sonder die geringste twyfel of vrees volg en soek ek Sy wil in alles wat my aangaan.


Gebed:  Laat U wil geskied, Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~





Saturday, 22 October 2011




VOORSPOED


Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
Matt. 6:8


Kinders mag glo dat hulle gelukkig en tevrede sal wees as hulle presies dit wat hulle wil hê, kan kry, wanneer hulle dit wil hê.  Ouers weer weet dat hulle nie hulle kinders onvoorwaardelik hulle sin kan gee nie, want dit kan later probleme skep.

Hierdie reël geld ook vir ons.  As kinders van God vra ons soms vir iets wat nie tot ons hoogste heil sal wees nie, en dan is on aangenaam verras met dit wat Hy wel vir ons gee as antwoord op ons gebed, want dit bring soveel meer seëninge mee.  Wat ons hieruit leer, is dat Hy altyd baie beter as ons weet wat die beste vir ons is.

As ons Hom dus nader in gebed, moet ons alles in Sy hande laat, en op Sy wysheid staatmaak vir die volmaakte antwoord.  Hy weet so goed wat ons nodig het, en sal dit voorsien nog voordat ons dit van Hom vra.  In Sy oorvloed sal ons ‘n vol en ryk lewe geniet, en ons sal Hom loof en dank vir die wonder van Sy alwysheid en troue sorg.


Gebed:  Laat U wil geskied, Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~