Showing posts with label WAARDERING. Show all posts
Showing posts with label WAARDERING. Show all posts

Saturday, 25 February 2012





WAARDERING


Kyk daar, kyk na die lande;  hulle is ryp vir die oes.  – Joh. 4:35


‘n Toegewyde Ligvriend begin elke oggend met die woorde:  “Goeiemôre Hemelvader!  Reken my vandag asseblief  in by alles wat goed en mooi is!”

Om op so ‘n positiewe noot die dag te begin, is ‘n wonderlike manier om ons voor te berei vir die seëninge wat die dag mag bring.  Dit is ‘n houding wat ons meer oplettend maak teenoor alles wat gebeur.  Ons verwag die goeie, en sien tot ons verbasing raak dat dit orals om ons is.  Die voëltjies sing, mense glimlag en alles om ons getuig van ‘n mooie, blye dag.

So ‘n houding is ook so aansteeklik, en ons positiewe, entoesiastiese gesindheid beïnvloed almal met wie ons te doen kry, totdat hulle ook lag en net die mooie en goeie begin sien en waardeer.

Dit sal ook al hoe beter met ons begin gaan, want as ‘n mens die goeie verwag, maak jy jou gereed om dit te ontvang, en dit kom dan ook op jou weg.  Dis ‘n houding wat almal en alles waarmee ons te doen kry, aanraak en seën, en die lied in ons hart vind ‘n refrein in die hart van ons medemens.


Gebed:  Ek kyk, ek waardeer, en ek sê dankie dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 27 October 2011



WAARDERING


Ek hou ook nie op om God vir julle te dank nie.  – Ef. 1:16


In ‘n gebed van waardering seën ek my geliefdes: 

“Dierbaarste, ek het jou lief, ek seën jou en ek waardeer jou.  Ek sê vir jou dankie want vir my is jy spesiaal en uniek, en daar is niemand wat my of my wêreld tot soveel seën kan wees as juis net jy nie.

“Ek het jou lief en help jou om altyd jou bes te doen. Al stem ek nie altyd saam met alles wat jy wil doen of wat jy sê nie, een ding weet ek – elkeen van ons het verskillende doelwitte om na te streef, verskillende drome om te vervul.

“Ek aanvaar jou net soos jy nou is.  Die persoon wat jy laas jaar, of selfs nog gister was, laat ek gaan.  Ek is só bly om te sien hoe jy ‘n nuwe mens word namate jy groei en ontvou op jou lewenspad – om te sien hoe die lig van jou eie inwonende Christus al hoe helderder in jou, deur jou en om jou begin skyn. 

“Baie dankie dat jy jou lewe met my deel, en my eie lewe vir my soveel ryker en voller maak.  Dit is vir my ‘n seën om jou as metgesel te hê op my lewenspad.  Ek het jou lief, en waardeer jou elke dag al hoe meer.”


Gebed:  Dierbaarste, ek het jou lief!


~ Uit Daelikse Woord ~