Thursday, 24 November 2011



VERTROUE


U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap. 
 Ps 16:11


Ons vertroue in die Here neem van dag tot dag toe.  As ons daagliks ons vertroue op Hom stel, sal seëninge ons lewe begin binnevloei.  Hierdie vertroue wat ons so in Hom stel, beteken ook dat ons geen krag gee aan enigiets wat ons seëninge van ons mag weerhou nie.

Soms mag ons wens dat die dinge wat ons deurmaak liefs ‘n bietjie anders moet wees, meer aangenaam byvoorbeeld.  En tog, as ons mooi en diep begin kyk, sal ons vind dat daar ‘n seën in elke gebeurtenis in ons lewe skuil.

As ons sou terugkyk oor ons lewe tot hier, sal ons vind dat Gods volmaakte plan duidelik sigbaar is in alles wat ons ervaar het.  En met ons vertroue op God en Sy goedheid, kan ons seker daarvan wees dat Sy plan in die toekoms ook altyd tot ons hoogste heil sal werk.

Ons vertroue op God maak dit vir ons moontlik om ons seëninge raak te sien, in ontvangs te neem en te geniet.


Gebed:  Ek vertrou op God en vind rus vir my siel.


~ Uit Daelikse Woord ~




‘N WENNER

Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.  – Kol. 1:27

Voel jy dat die eise wat aan jou gestel word, meer is as wat jy kan bybring – miskien as gevolg van ‘n verandering van werk of lewenswyse -  lyk dit asof daar meer geld uitgaan as wat inkom en jy kan net nie bybly nie?

Hou goeie moed en aanskou die oorwinning!  Christus woon binne-in jou, en in Sy krag is jy altyd ‘n wenner, wat ookal die eise is wat aan jou gestel word.  Ken Hom op en in al jou weë – ken Hom in die aand en ken Hom in die môre.  Soek Hom op diep in jou hart.  Hy sal die poorte van die hemel vir jou oopmaak en al die krag, al die lig en leiding, geduld en liefde wat jy ooit mag benodig, sal mildelik op jou uitgestort word.

Met wysheid sal jy jou lewe in oënskou neem – jy sal weet wanneer om nee te sê en wanneer om ja te sê.

Midde-in die grootste krisis het jy nog steeds niks om te vrees nie, want Hy wat in jou hart woon is groter as enige uitdaging waarvoor jy ooit te staan sal kom in jou lewe!

Gebed:  In U krag, Heer, is ek ‘n wenner!

~ Uit Daelikse Woord ~

Monday, 21 November 2011



VOORSPEL POSITIEF EN GOED

U het alles aan hom onderwerp. – Ps. 8:7

Wanneer ek negatiewe voorspellings aangaande die toekoms hoor verkies ek om in God te glo as die een teenwoordigheid en die een krag wat aan die werk is in ons en in ons wêreld.

“Wat is die mens dat U aan hom dink,
en die mensekind dat U hom besoek?
U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n
goddelike wes
en hom met eer en heerlikheid gekroon
U laat hom heers oor die werke van U hande.”

Ek voel verhewe, gelukkig en optimisties.  Ek weet dat as ek in God glo, ek my eie positiewe voorspellings kan maak.  Ek vul my dae met voorspellings van vrede op aarde en welwillendheid jeens almal.  Ek voorspel vir my geliefdes konstante beskerming en die vervulling van elke visioen van goedheid.  Ek voorspel vir myself ‘n gedurig groter wordende geleentheid om aan die lewe te gee en om die lewe aan my te laat gee op nuwe en wonderbaarlike maniere.

Gebed:  My geloof is in God, die Goeie.

~ Uit Daelikse Woord ~







NOG ‘N KANS


Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  – 2 Kor. 5:17


Klein kindertjies wat hulle eerste treetjies begin gee, val oor en oor, maar hulle staan op en probeer weer en weer.  So hou hulle aan tot hulle kan loop, en uiteindelik selfs kan hardloop!

Ook as volwassenes struikel ons soms wanneer ons iets nuuts probeer en nie suksesvol is nie.  Maar ons weet, God sal ons nog ‘n kans gee.  Die tyd wanneer ons suksesvol is, en die mate waarop ons presteer, mag verskil van dié van ander, maar dit maak nie saak nie.  Ons glo in God – ons wandel in Sy lig, daarom kan en moet ons wenners wees!

Die feit dat ons nie ons doelwit vandag bereik het nie, is ook nie die einde van die wêreld nie.  Hy weet wanneer dit die beste tyd is vir ons om bo uit te kom, ons moet net ons deel vandag doen – Hy sal sorg vir môre.

Dankie, Heer, dat ons in U lig elke struikelblok, elke teleurstelling, kan oorwin, en in U krag kan opstaan en aangaan, al lyk dit vandag asof alles om ons in skerwe lê.


Gebed:  In U krag, Heer, is ek ‘n wenner!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 20 November 2011








‘N OPLOSSING


Ja, ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.  -  Jes. 43:19


Soms kyk ons na ‘n probleem waarvoor ons te staan gekom het, en sê moedeloos:  “Ek kan eenvoudig nie sien hoe dit kan uitwerk nie.”  Of waar dit iemand anders aangaan: “Ek weet nie hoe hy sy probleme kan oplos of sy verantwoordelikhede kan nakom nie.”  Dit beteken natuurlik ons kyk net na dinge soos dit vir ons op die oog af lyk – ons vergeet skoon om met die oë van ons siel te kyk.  Ons vergeet dat Hy wat werk daar waar ons nie sien nie, gereed is om ook hier te werk, ons moet Hom net nader in gebed en alles in Sy hande laat.  Hy sal oorneem, Hy sal alles wat verkeerd lyk reg maak.

Daar is nie een van ons wat nie weet van so ‘n probleem wat onoplosbaar gelyk het nie, en tog opgelos is, tot seën van elkeen by die saak betrokke.  Miskien het iemand tóg gebid, miskien het iemand tóg geglo in die wonderwerkende krag van God wat deur niks aan bande gelê kan word nie.

Ons moet net op ons hoede wees om nooit negatief te raak nie- om nooit te dink daar is geen oplossing nie.  By God is daar áltyd ‘n oplossing – áltyd ‘n weg!


Gebed:  Ek bid, ek glo, en U neem oor – dit weet ek nou!


~ Uit Daelikse Woord ~



Saturday, 19 November 2011




MY PLEK


“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”
Luk. 19:5


Al was Saggeus, die tollenaar, op ‘n baie ongewone plek – in ‘n wildevyeboom – was hy op die regte plek toe Jesus na hom toe gekom het.  Jesus het hom nader geroep, saam met hom na sy huis toe gegaan, en redding vir hom en vir sy huis gebring.

Soos Saggeus kan ons ook op die regte plek wees – die plek waar ons gehelp kan word en tot die meeste hulp vir andere kan wees.  Soms lyk dit ook na ‘n mees ongewone plek, maar ons kan altyd die beste daarvan maak.  In ons familie, ons werk en gemeenskap, is die plek wat ons beklee baie belangrik.  Die rol wat ons vul, kan deur niemand anders presies op dieselfde manier gevul word nie, want elke mens is uniek.

Omdat ons na God opsien vir leiding en inligting, word ons beskerm teen baie foute wat ons mag maak as ons net op onsself sou steun.

Die Heilige Gees wat binne-in ons is, doen Sy werke in ons en om ons, en ons weet ons is op die regte plek, op die regte tyd, besig om ons bes te doen.


Gebed:  Ek is op die regte plek.


~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 18 November 2011




TROOS


Vreugde en blydskap sal julle verkry;  kommer en gesug vlug weg.  Ek is dit wat julle troos.
Jes.  51:11-12 OV


Daar is net een plek waar ek weer rus en vertroosting sal vind as my hart in skerwe om my lê.  Net een plek waar al my kommer en gesug sal verdwyn en ek weer vreugde en blydskap sal verkry.  Dit is die plek diep in my wese waar my Heer self woon. Daar sal ek Hom vind, en Hy sal my toevou in Sy liefde, en rus bring vir my moeë siel.

Stadig maar seker sal Sy helende salf my wonde heel en my liggaam vul met nuwe krag en geesdrif.

Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee,” hoor Ek Hom sê, en uit my hart uit roep ek Hom aan – “Ek kom Heer – gee my die rus wat net U kan gee.  Hier is my stukkende hart Heer, heel dit met die balsem van U liefde.  Hier is al my kommer en my sorge, maak my las lig Heer in die krag van U liefde en lig.  Dankie Vader, ek weet U het my gehoor – dankie vir U vrede wat nou so saggies my hart en gemoed binnevloei.”


Gebed:  Dankie Heer, my siel sing weer!


~ Uit Daelikse Woord ~