Monday, 16 January 2012




EK IS NODIG

Maar wat ek het, gee ek vir jou.  -  Hand.  3:6

Ek is nodig omdat ek alle mense en alle situasies benader met ligbring-liefde.  Die ligbring-liefde wat ons so nodig het  in hierdie wêreld van ons.

Ek is nodig omdat ek optimisties van aard is, en my geloof in God en in sy goedheid vir ons, sy mensekinders, maak andere om my ook optimisties, vrolik en bly.

Ek is nodig omdat ek opgeruimd is.  Ek neem alles in ‘n goeie gees op, sien die ligkant van dinge, en help ander om ook opgeruimd te wees.

Ek is nodig omdat ek andere aanspoor om altyd hul bes te doen.  Ek sien net die mooie en die goeie in almal om my.  Ek sien hulle eie inwonende Christus as die Stuurman in hul lewens, en spoor hulle aan om Hom te volg.

Ek is nodig omdat ek die krag van Gods Heilige Gees binne-in my, my eie gemaak het.  Sterk en fier staan ek tussen andere – sterk en fier staan hulle saam met my –  as oorwinnaars in Gods krag.

Gebed:  Loof God, want ek U mensekind is nodig!

~ Uit Daelikse Woord ~







BID VIR ANDER

Hoor my gebed, o God, luister na my woorde.  – Ps. 54:4

As ek vandag bekommerd is oor ‘n dierbare, herinner ek my daaraan dat die heel grootste hulp wat ek aan hom kan verskaf, is om te besef dat die Gees van Christus binne-in hom woon en hom inspireer, hom lei, hom genees en die regte antwoorde aan hom verskaf.  Ek kan vryelik en liefdevol  so al my dierbares in Gods sorg plaas en weet dat daar aan ál hul behoeftes voldoen word.

As ‘n dierbare vir wie ek bid fisies of emosioneel van my verwyder is, herinner ek my daaraan dat daar geen verwydering is tussen God en en Sy kinders nie.  Ons is een in Sy liefde.

Vandag is my dankbare gebed:

Dankie Here, dat U vir my sorg waar ek ook al is en dat U vir my dierbares sorg waar hulle ook al is.  Hulle is geseënd en ek is geseënd.  Daar is vrede in my hart wat hulle aangaan.  Ek is daartoe in staat om my eie lewe gelukkig en ten volle te lewe in die wet dat U liefdevolle sorg ons almal omvou.

Gebed:  My dierbares is in Gods liefdevolle sorg elke oomblik van elke dag!

~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 15 January 2012




TEL JOU SEËNINGE


Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van Sy weldade nie.
Ps. 103:2 OV


Kom ons staan vandag ‘n bietjie stil om ons seëninge te tel, want as ons dit begin doen, sal ons voorwaar saam met die Psalm-digter uitroep – Loof die Here, o my siel!

Wanneer dit lyk asof ons hele wêreld heeltemal onderstebo is, kan ons help om dit weer reg te stel deur ons seëninge te begin tel – en daar is altyd seëninge, selfs in die donkerste nag.  So stuur ons ons gedagtes in ‘n ander rigting – ons kyk weg van die probleem af en ons sien die lig.

Ons sê dankie vir elke vriend wat ons bystaan in ons uur van nood – maar ook vir elke vriend vir wie ons kan bystaan. Ons sê dankie vir die son wat nog skyn bedags en die bed waarop ons kan rus in die nag.  Vir voedsel om te eet en die feit dat ons lewe, vir ons hande waarmee ons God kan dien, ja, vir alles waaraan ons kan dink sê ons dankie, tot ons soos die parapleeg uitroep – “Van alle mense is ek die mees ryklik geseënde!”

Elke uitdaging wat ons oorkom in Gods lig, is ook ‘n seën, want dit wys ons waartoe ons werklik in staat is in Sy krag, en dit neem ons een tree nader aan Hom!


Gebed:  Van alle mense is ek die mees ryklik geseënde!


~ Uit Daelikse Woord ~



Saturday, 14 January 2012





LAAT LOS,  LAAT GOD


Leer my om U wil te doen, want U is my God! Laat U goeie Gees my op 'n gelyk pad lei. - Ps. 143:10


Dankie, Vader, dat U ons altyd so sag en tog ferm, laat verstaan dat ons moet ophou worstel en spook met ons probleme. Ons moet laat los, sodat U kan oorneem. Wanneer ons dit doen, neem U werklik oor, dit het ons nou al oor en oor ervaar in ons lewens, en die regte oplossing, tot ons eie en andere se seën, geskied.

Help ons Heer, om nie so meegevoer te raak deur 'n uitdaging nie, dat daar nie plek oor is vir U lig-gedagtes nie. Neem weg alle vrese en kommer. Maak ons hart stil, sodat ons U stem kan hoor wat rus en vrede bring, U stem wat ons altyd lei en rig op die regte weg vir ons.

Met ons hand in dié van U, lei U ons op U pad van lig - 'n gelyk pad wat nuwe deure voor ons oopmaak, en nuwe lig werp op al ons vrae en twyfel. U het ons al so baie geleer, Heer, maar daar is nog so oneindig baie wat ons kan leer. Nuwe horisonne gaan voor ons oop, en met 'n lied in ons hart gaan ons die toekoms saam met U tegemoet!


Gebed:  Dankie, Vader, dat ek alles net so in U hande kan los!


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 11 January 2012




SELFBEELD


God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
1 Joh. 4:16


Ons besef dat ons kinders van God is, geseën met ongekende potensiaal en moontlikhede.  Hierdie selfbeeld maak ons suksesvolle, stralende, goddelike geïnspireerde Koningskinders.

Ons persoonlike tekortkominge of mislukkings doen geen afbreek aan die waarheid dat ons geestelike wesens is nie, steeds gerig en gelei in die lig, die liefde en krag van ons hemelse Vader.  Met Hom as ons Leidsman en Stuurman, kan ons seker daarvan wees dat die besluite wat ons neem reg en goed is, altyd tot ons hoogste heil.

Met ons vertroue gevestig op Hom wat in ons woon, beskik ons oor die vermoë om selfs die mees uitdagende situasie met welslae te oorkom.  Hy maak ons wenners in die arena van die lewe want ons weet waartoe ons in staat is met Hom aan ons sy.  Ons lewe is een groot seën – nie net vir ons nie maar ook vir hulle wat ons lewe met ons deel, want ons bly in die liefde van God.


Gebed:  Ek bly in die liefde van God.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 10 January 2012





VAT ONS BY DIE HAND

Here, Hier in die aanduur van hierdie jaar wil ons U kom vra om ons by die hand te vat.

Om ons te omgord met krag en moed vir die moeilike dinge op ons lewenspad. Sonder U kan ons nie, durf ons nie die pad te loop nie. By U alleen lê ons heil.

Vul ons met vrede en vreugde, Here. Laat ons beker oorloop van liefde en omgee vir ons naaste. Laat ons daagliks uitreik na dié in nood. Laat ons dit doen met opregtheid van hart en tot U eer alleen.

Vul ons harte met 'n lied, 'n soete melodie. Laat ons loflied weerklink oor die aarde. Here, ons harte, ons lewe behoort aan U.

Die Nuwejaar behoort aan U. Laat ons met dankbare harte leef en werk tot U eer. Laat ons hele lewe daarvan getuig dat ons aan U behoort.

Laat ons ja en ons nee wees volgens U wil. Laat ons daagliks ons dag begin en eindig met U Woord wat vir ons die pad aandui.  Laat ons voete U gewillig volg.

Maak ons bruikbaar en diensbaar vir U goeie werk. Here, laat ons U LIEFDE, HOOP en GELOOF uitleef.

Skenk ons vergifnis vir ons sonde, en help ons asseblief om ander te vergewe soos wat U van ons vra.  Ons smeek dit om U NAAMS ontwil alleen.

Laat ons hierdie jaar van 2012 'n JUBELJAAR beleef.  Dankie dat ons vir U mag vra. AMEN!

~ Lorraine Paynter ~








NUWEJAARSBOODSKAP

Dis ‘n nuwe jaar.

‘n Kans om die sleg en seer

van al die gisters te vergeet en

net die vreugde-mooi saam te neem.

Vanjaar, Here, wil ek regtig oor begin:

ek wil elke dag met ‘n skoon hart leef,

‘n rein gewete gaan slaap en

‘n vervullende lewe lei.

Vanjaar wil ek minder “ek” wees, en meer U;

minder kerm en kla en meer lag en dankie sê.

Ek wil nader aan U leef,

U en u Woord beter leer ken

en meer soos U wees.



My gebed vandag is:

Wees asseblief by my:

Wees elke oomblik van elke dag

my ewig Metgesel, my alwyse Raadgewer

en my begripvolle Trooster.

Help my om so op U gefokus te bly

dat ek elke dag met oorgawe sal leef

in die wete dat U die God van die Heelal

agter, langs, voor, onder en bo my is.

Van nou af tot in ewigheid.

AMEN

uittreksel uit Moed vir elke môre / en ons Kerkblaadjie van Die Vriendelike Gemeente Napier