Showing posts with label BID VIR ANDER. Show all posts
Showing posts with label BID VIR ANDER. Show all posts

Wednesday, 8 October 2014

BID VIR ANDER






In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal.  -  Fil. 1:4


Gods voorsiening vir my geliefdes oortref my stoutste verwagtinge aangaande hulle.  *Dankie, Dierbare Vader!*

Sy lewenskrag werk en straal in en deur en óm hulle, om hulle gesond en sterk te maak en in élke behoefte van hulle te voorsien.

Soms dink ek ek weet présies wat hulle moet doen of nie moet doen nie, en dra dit dan ook so aan hulle oor.  En *tog* - diep in my hart wéét ek dat ek slegs moet bid vir Lig, Liefde en Krag op hul lewenspad, en as hulle handel en wandel in Sy lig, sal Sy seëninge wat Hy op hulle uitstort soveel groter wees as wat ek kan droom in my wildste drome!

So innig lief soos wat ek my familie en vriende het, weet ek dat ons Hemelse Vader hulle lief het met ‘n veel inniger en dieper liefde, want hulle is ook kinders na-aan Sy vaderhart.  In Sy liefde lei en beskerm Hy hulle elke tree van die pad wat hulle moet loop.

“Hier is my geliefdes, dierbaarste Heer.  Ek weet Ú sorg vir hulle – leer my hoe om hulle met my hele hart en siel onvoorwaardelik en sonder kommer in Ú troue sorg te laat, want álleen *dan* kan ek ook met blydskap vir hulle bid!”


Gebed:  Met blydskap bid ek vir my geliefdes.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 6 August 2013

BID VIR ANDER





Mag Hy u gee wat u hart begeer, en al u voornemens laat geluk. 
Ps. 20:5


As ek onaangenaamhede in my geliefdes se lewens kon verander, sou ek nie vir ‘n oomblik wag om dit te doen nie.   Maar ek weet, die héél beste wat ek vir hulle kan doen, is om vir hulle te bid – om God in beheer van hul lewens te plaas, want dán, weet ek, word hulle in Sy lig gelei, in Sy liefde beskerm en vertroos, en kan hulle in Sy krag, sterk staan en wenners wees.   Ek bid en sê dankie:

“Dankie, Heer, vir U lig wat wysheid bring, en my geliefdes in staat stel om te kan onderskei tussen wat reg en wat verkeerd is.

Dankie, Heer, vir U liefde wat hulle toevou en beskerm, en vertroosting bring wanneer hulle diep bedroef langs die pad bly sit.

Dankie, Heer, vir U lewenskrag wat in en deur hul are pols om hulle te heel en te genees – U krag wat ook hulle krag is, en hulle sterk laat staan in wat ookal die uitdaging voor hulle is.

Dankie, Heer, dat ek my geliefdes, só in U troue sorg kan plaas en te weet  – U is daar!”


Gebed:  Seën U my geliefdes, Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~







Thursday, 16 May 2013





BID VIR ANDER


Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.  -  Filip.  1:3


As ek bekommerd voel oor iemand anders, word  ek stil, sluit my oë en sien die lig van die Vader helder in en om daardie persoon skyn – ‘nlig wat liefde bring en wysheid.  Dis ‘n eenvoudige vorm van gebed hierdie wat rus bring in my gemoed, en alle vrese laat verdwyn.

Wanneer my geliefdes voor ‘n probleem te staan gekom het, bid ek vir hulle.  Die omstandighede waarin hulle verkeer mag dit vir hulle moeilik maak om op God te konsentreer.  Dit is dan wanneer my bevestiging dat hulle toegevou word in Gods liefde, vir hulle baie kan beteken.

Ek kyk by die voorkomste verby en sien die lig, die liefde en krag van God in hulle en om hulle aan die werk.   Geen siekte, geen verlies of krisis, kan staande bly voor die werkinge van die Drie-enige God en Vader nie.  Ek glo dit, en sê dankie vir die onbekende seëninge wat hulle te beurt gaan val as gevolg van dit wat hulle nou ervaar.

My gebede vir my geliefdes onderskraag hulle, en maak hulle oop vir Gods krag om in en deur hulle te werk en wondere te laat geskied.


Gebed:  In U lig Heer, sien ek my geliefdes.


~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday, 16 December 2012





BID VIR ANDER

Die Voorspraak, die Heilige Gees … sal … julle alles  leer.  -  Joh. 14:26

Bekommerd oor ‘n geliefde wat na my mening die pad heeltemal byster geraak het?  Ek onthou – die Voorspraak, die Heilige Gees, sal ons alles leer, en hierdie Gees is in hulle, soos Hy ook in my is.

Daarom bid ek vir hulle, en ek weet, Hy wat vir my rig en lei, sal ook vir hulle rig en lei.  Hy wat my wonde heel wanneer my hart in duisend stukkies lê, sal ook hulle wonde heel.  Hy wat my krag gee wanneer my krag totaal uitgeput is, sal ook vir hulle krag gee.  Hy wat my gesond maak en hou, sal ook vir hulle gesond maak, en op die regte tyd, op die regte manier, sal hulle weer die lig vind, en saam met my stap op Sy helderverligte pad.

Dankie Hemelse Vader, dat U altyd ‘n Voorspraak is vir my en my geliefdes en vir elkeen vir wie ek mag bid.  Vas vertrouend op U lig op hul pad, U liefde wat hulle omvou en U krag wat ook hul krag is, laat ek hulle nou sonder enige sorge veilig in U troue Vaderhande.  Beter as ek, weet U wat vir hulle die heel beste is, en ek sê dankie dierbare Heer!

Gebed:  In U hande, Heer, laat ek elkeen vir wie ek bid.

~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 12 December 2012





BID VIR ANDER

Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.  -  Filip. 4:6

Dierbaarste, vandag het ek vir jou gebid.  Ek het al my drome en ideale vir jou voor God uitgestort.  Ek het Hom gevra om oor jou te waak, om jou toe te vou in Sy grootse liefde en om jou te seën, elke oomblik van elke dag.

En toe, reg in die middel van my gebed vir jou, het ek skielik besef dat God alles wat ek so ernstig vir jou vra, alreeds vir jou gegee het.  Toe verander my gebed en smeking in danksegging:

“Heer, dankie vir U onvoorwaardelike liefde wat hierdie geliefde wat vir my so na aan die hart is, steeds omvou en beskerm.  U liefde so wonderbaar, heel en inspireer, lei en krag gee waar en wanneer nodig, en is ‘n beskermende muur teen alles wat nie van die lig is nie.

En … dankie, Heer, dat ek so my geliefdes, vriende, bure, kennisse, my Ligvriende, ons land en ons wêreld, ook aan U kan opdra in gebed, en rus kan vind in die wete – U HEERS OOR ALLES HEEN!”

Gebed:  Dankie, Vader!  U heers oor alles heen!

~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 29 September 2012





BID VIR ANDER


Bid vir mekaar.  -  Jak. 5:16


“Vandag Heer, dra ek my geliefdes op aan U.  Niemand weet beter as U wat hulle nodig het nie – niemand weet beter as U wat tot hul hoogste heil is in die skool wat ons die lewe noem nie.

Ek vra nie dat U sekere dinge vir hulle moet gee en ander weerhou nie, Heer, want wanneer ek begin eise stel, hou ek dalk die goeie wat U vir hulle in gedagte het, van hulle weg.

Wees net met hulle, elke oomblik van elke dag.  Lei hulle en beskerm hulle in U lig en liefde, en wees U die krag wat hulle die moed gee om op te staan en aan te gaan, al is die uitdagings soms hoe groot.

Dankie, Vader, vir die voorreg om elkeen wat so na aan my hart is volkome in U troue sorg te kan plaas, en te weet, al lyk die weg wat hulle wil inslaan vir my mense-oë soms hóe verkeerd, ek sien hulle soos U hulle sien, en weet, net goedheid en guns sal hulle volg al die dae van hul lewe.”

Geliefde, ek het jou nou veilig in Gods sorg geplaas.  Daar is vred in my hart sover dit jou aangaan, en ek sê dankie, want Hy is nou jou hulp, jou sterkte en jou seker Leidsman.


Gebed:  Ek dink aan jou met liefde, ek bid vir jou met geloof.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 20 June 2012






BID VIR ANDER


Bid vir mekaar. – Jak. 5:16


Of ek nou baie aan almal wat na aan my hart is dink omdat ek besorgd is oor hulle, of omdat ek ‘n spesiale vreugde met hulle deel, my gebede vir hulle bly dieselfde – gebede van geloof en seënwense.

“Dierbare, ek wens jou die vrede toe wat jy sal ontdek in die teenwoordigheid van jou eie  inwonende Christus.

Ek wens jou die tevredenheid toe wat jy sal vind in Sy liefde wat jou steeds omvou.

Ek wens jou die vreugde toe wat joune sal wees as jy Hom jou metgesel maak deur jou dae heen.

Ek wens jou die krag toe wat jou in staat sal stel om ‘n wenner te wees in die arena van die lewe – Sy krag in jou!

Ek wens jou die vervulling toe wat jy sal ondervind as jy jou vrede, jou liefde en vreugde vandag met andere deel.”

My gedagtes en gebede wat ek in harmonie bring met Gods lig, liefde en krag, vorm ‘n kragtige baan van lig waarlangs God Sy wonderwerke kan doen.  Dit bring heling mee, maak foute reg, en bring vrede, liefde, vreugde en geluk, ons lewens binne.


Gebed:  Dierbare, ek wens jou net die beste toe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 15 April 2012





BID VIR ANDER


As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry. Matt. 18:19


 Ongeag die omstandighede waarin andere hulle mag bevind of hoe ver hulle van my af is, daar is iets wat ek altyd vir hulle kan doen - ek kan vir hulle bid.

Net hier waar ek nou is, kan ek in die krag van my eie inwonende Heer, 'n kragtige gebed van lig vir hulle opstuur. Geen uitdaging is te groot vir gebed om te oorkom nie.

Vir andere is my bevestiging die volgende: Gods lig lei jou, Sy liefde omvou jou en Sy krag maak jou sterk en gesond.

Vir kinders wat gereeld skool toe gaan en terug moet ry en vir volwassenes op reis, is my gebed die volgende: Jy is veilig en beskermd in die lig van God wat altyd in jou en om jou skyn.

As ek hoor van mense wat deur 'n tyd van beproewing gaan, is my gebed vir hulle die volgende: In die liefde van God is jy toegevou - Hy sorg vir jou en sal jou nooit begewe of verlaat nie.


Gebed: Heer, maak my gebede vir andere kragtig in U lig en liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 16 January 2012




BID VIR ANDER

Hoor my gebed, o God, luister na my woorde.  – Ps. 54:4

As ek vandag bekommerd is oor ‘n dierbare, herinner ek my daaraan dat die heel grootste hulp wat ek aan hom kan verskaf, is om te besef dat die Gees van Christus binne-in hom woon en hom inspireer, hom lei, hom genees en die regte antwoorde aan hom verskaf.  Ek kan vryelik en liefdevol  so al my dierbares in Gods sorg plaas en weet dat daar aan ál hul behoeftes voldoen word.

As ‘n dierbare vir wie ek bid fisies of emosioneel van my verwyder is, herinner ek my daaraan dat daar geen verwydering is tussen God en en Sy kinders nie.  Ons is een in Sy liefde.

Vandag is my dankbare gebed:

Dankie Here, dat U vir my sorg waar ek ook al is en dat U vir my dierbares sorg waar hulle ook al is.  Hulle is geseënd en ek is geseënd.  Daar is vrede in my hart wat hulle aangaan.  Ek is daartoe in staat om my eie lewe gelukkig en ten volle te lewe in die wet dat U liefdevolle sorg ons almal omvou.

Gebed:  My dierbares is in Gods liefdevolle sorg elke oomblik van elke dag!

~ Uit Daelikse Woord ~