Saturday, 16 June 2012





DEUR DIE LEWE HEEN


Dierbare Heer,
Dankie vir U lewe
En vreugde en liefde;
Dankie vir die wete
Dat ook ek ‘n plek en ‘n doel het
In U grootse plan …
Dankie dat U altyd daar is
Om my hand te neem en my te lei
Deur al die probleme van die lewe heen.

Ek praat met U Heer,
Ek luister na U stem diep in my hart.
Met blink idees inspireer U my –
So natuurlik, so eenvoudig is dit
Dat ek dink ek het alles self uitgedink!
Wanneer ek egter terugkyk,
Sien ek dit was nie ek nie,
Dit was al die tyd U!
En opnuut besef ek hoe U my lei en rig
Wanneer ek stil word en luister.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 15 June 2012





DRA DIT OOR


As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra. 
Matt. 21:22


‘n Probleem wat yslik groot lyk wanneer ons dit alleen aanpak, krimp sommer baie as ons dit deel met ‘n betroubare vriend.  Ons grootste, mees medelydende vriend is Christus wat in ons woon.  Ook is die sekerste manier van kommunikasie met hierdie altoos-luisterende Teenwoordigheid in ons, die gebed.  Deur middel van gebed kan ons al ons kommer, ons verwarring, ons besluite en ons drome met Hom deel.

Wanneer ‘n saak swaar op ons gemoed lê en ons dra dit oor aan Hom in die gebed hou dit op om ons tyd en ons aandag in beslag te neem.  Ons kan op Hom vertrou vir die harmonieuse verloop en vir die regte oplossing van alle situasies.

Wanneer ons ons tot ons Heer in die gebed wend, is ons gevul met lig en hoop, is ons geseën met liefde en vrede en ons sake floreer.  Dan voel ons die volle maat van Sy goedheid in en deur ons lewe vloei, tot oorlopens toe.


Gebed:  Ek bid en verwag die regte oplossing.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 14 June 2012





VERGEWE


Spreek vry (vergewe), en julle sal vrygespreek word.  – Luk. 6:37


As daar een ding was wat Jesus beklemtoon het, dan was dit vergifnis.  Luister: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie.  Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”

Ons weet maar alte goed hoe vergifnis ons lewe voller en ryker maak, met liefde en vrede wat die botoon voer waar ons ookal mag woon of werk.  Daarom bid ons elke dag vir die nodige wysheid en begrip – wysheid en begrip wat dit vir ons makliker maak om te vergewe waar en wanneer nodig.

Daar is egter net een probleem, al bid ons HOE hard, as daar nie liefde in ons hart is nie, sal ons nie kan vergewe nie.  Ons sal sê ons vergewe, maar diep in ons hart sal die wrok bly.

Hierdie hemelse liefde is so na aan ons – diep in ons diepste heiligdom sal ons al die liefde vind wat ons ooit nodig mag hê by Hom wat daar woon.  In Sy liefde kan geen wrok of seer staande bly nie, en daar sal vrede wees, in ons en om ons.


Gebed:  U liefde Heer, is my vergifnis.


~ Uit Daelikse Woord ~



Wednesday, 13 June 2012




EK KAN!


Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Fil. 4:13



Dit help as iemand anders vir ons sê: "Jy kan!" maar die mees oortuigende stem is die innerlike stem wat sê: "Ja, ek kan!"

Elkeen wat iets van waarde bygedra het  tot wat ook al, het dit gedoen omdat hy in sy hart oortuig was: "Ek kan!" As ons mismoedig voel oor skynbare gebrek aan sukses, as ons luister na die stem van pessimisme wat sê: "Ek kan nie, dis onmoontlik", laat ons daardie stem stil maak en na die versekering wat van Christus kom, luister: "Ja, jy kan".

Ja, ek kan!  Ek kan gelukkig wees.  Ek kan genees word.  Ek kan suksesvol wees.  Ek kan vry wees.  Ek kan alles wees wat God bedoel het ek moet wees.

Ja, ek kan!


Gebed: JA, ek kan!!


~ Uit Daelikse Woord ~



Tuesday, 12 June 2012





EK IS DIE CHRISTUS

‘Ek is dit in jou wat lewe,
Ek is dit in jou wat beweeg.
Ek is dit in jou wat skyn
            Ek is die Christus

Ek is dit in jou wat mooi is,
Ek is dit in jou wat onbevrees is,
Ek is dit in jou wat onverganklik is
            Ek is die Christus.

Ek is dit in jou wat goddelik is,
Ek is dit in jou wat heilig is,
Ek is dit in jou wat volmaak is,
            Ek is die Christus.’


Bly in My, soos Ek in julle.   Joh. 15:4





BID VIR ANDER


Julle is die lig vir die wêreld.  – Matt. 5:14


Daar is baie maniere waarop ek tot seën kan wees vir ander;  daar is baie maniere waarop ek my lig kan laat skyn.  Die volgende is my gebed vir vandag:

Liewe Here, help my om aan te bied:

my hand vir iemand wat vriendskap nodig het,
my hart vir iemand wat liefde nodig het,
my begrip vir iemand wat wil hê ‘n ander moet luister,
my bedagsaamheid vir iemand wat nodig het om te weet
          dat ‘n ander omgee,
my vriendelikheid vir iemand wat onvriendelik deur die
          lewe behandel word,
my geselskap vir iemand wat eensaam is,
my kalmte vir iemand wat onseker, verward
of verdwaas is,
my vertroosting vir iemand wat treur,
my welwillendheid teenoor heel U skepping,
my deernis vir alles wat lewe.

Liewe Here, help my om my lig te laat skyn.


Gebed:  Liewe Here, Help my om vir ander tot seën te wees.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 11 June 2012





BID SAAM


Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.
Matt. 18:20


Die krag van gesamentlike gebede is baie groter as wat ons ons kan indink.  Dis ‘n krag wat opgebou word deur die gebed en geloof van duisende gelowiges dwarsoor die wêreld.  Ons geloof dat wondere sal geskied wanneer mense verenig in gebed, is gegrond op die belofte van Jesus:  “Waar twee of drie in My naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Ons vra ook nie vir die verwesenliking van drome en ideale wat ons weet heeltemal buite ons bereik is nie.  Ons gebede is ons manier om God te loof vir dit wat ons alreeds het, en vir dit wat ons kan wees saam met Hom!  Ons sê ook op hierdie manier dankie vir al Sy heerlike seëninge wat daagliks op ons uitgestort word.

Om dankie te sê nadat ons gebede beantwoord is, is ‘n manier om ons waardering te toon vir dit wat Hy vir ons doen en is;  om vooruit dankie te sê terwyl ons nog vra, is ‘n demonstrasie van ons geloof in God en in Sy goedheid en liefdevolle sorg vir ons.

Kom ons bid vandag saam – in geloof en in danksegging.


Gebed:  Laat U Lig skyn dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~