Showing posts with label VERGEWE. Show all posts
Showing posts with label VERGEWE. Show all posts

Thursday, 10 March 2016

Vergewe








VERGEWE


Toe sê Jesus:  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”  -  Luk. 23:34


‘n Onwilligheid om te vergewe, dra by tot disharmonie tussen mense.  Laat ons dus onmiddelik ontslae raak van elke greintjie van onvergewensgesindheid.  Vergifnis – vir onsself en vir andere, maak ons vry om vol en ryk lewens te geniet.


Om te vergewe beteken dat ek in harmonie met Gods liefde en lig werk, wat dit wat verkeerd is, regstel, wat elke toedstand heel en elke mens weer op sy voete plaas.  As ek begryp dat elke mens maar net dit doen wat vir hom reg lyk, is dit vir my maklik om alles te los en God te laat oorneem.  Ek weet dat alles sal regkom waar Hy in beheer is.  Ek is vry van enige kommer.


Hierdie nuutgevonde vryheid is opwindend.  Die hele wêreld en alles daarin kry vir my nuwe betekenis.  Ek is vry om die seëninge wat daagliks op my uitgestort word, raak te sien, te waardeer en dankie te sê daarvoor.  Vergifnis maak my na gees, siel en liggaam vry – heerlik vry!  Ek behou hierdie vryheid as ek bereid is om steeds te vergewe en te vergeet.



Gebed:  Ek vergewe en is heerlik vry!




~ Uit Daelikse Woord ~


  Vergifnis is ‘n Keuse / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!



(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)





Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com




Tuesday, 17 November 2015

Vergewe








Vergewe


Wat is makliker?  Om te sê: “Jou sondes is jou vergewe,” of om te sê: “Staan op en loop”?  -  Luk. 5:23


As ek maar net nie daarin kan slaag om vir my malende gedagtes te sê, “Staan op en loop”, nie, omdat ek nie ‘n seer herinnering kan vergeet en ‘n ander of myself kan vergewe nie, het dit tyd geword om my tot my Heer te wend.  Net Hý kan my help om te doen wat ek nie uit my eie kan doen nie.  Net Hý kan my help om te vergewe.


God is krag, en in Sý krag binne-in my vergewe ek en gaan ek vry en bly voort op my pad van lig.


God is wysheid, en in Sý wysheid binne-in my, verstaan ek alles soveel beter, en dis soveel makliker om te vergewe.  My insig en begrip spoor andere ook aan om te vergewe en ‘n beter lewe na te streef.


God is liefde, en in Sý liefde ook in my, is ek liefdevol en vriendelik teenoor andere.  Hulle reageer daarop, en waar liefde en vriendskap aan die orde van die dag is, is daar vergifnis, en waar vergifnis is, kan álmal opstaan en loop.  Vry en bly, sonder énige lastige herinnering, staan ons op en ons loop!


Gebed:  Ek vergewe en ek staan op en loop!



Daelikse Woord




  Koningsdogters vir Jesus / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!



(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)



Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com





Tuesday, 15 September 2015

Vergewe






VERGEWE



Liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God.  -  1 Joh. 4:7



Hóé vergewe ek iemand wanneer die seer  té diep is – die onreg vir my té groot lyk.  Álleen mag dit vir my feitlik onmoontlik voel, maar met my Héér aan my sy, sál ek die krag en vrede vind wat bo álle omstandighede heen uitstyg!


In gebed word ek één met God, een met Sý liefde, en my héle denkpatroon verander.  Líg-gedagtes, líéfde-gedagtes, begin oorneem, en met grip en líéfde kyk ek weer na die gebeure wat my só seer gemaak het.  Ek besef dat *dít* wat aan my gedoen is nié my goedkeuring wegdra nie, maar dat ómstandighede dit kon veroorsaak het.  Ek vergéwe dus die persoon, ek sien hom of haar vrý en bly voortgaan op my pad van lig.


Vrý omdat géén seer van die verlede my aan bande kan lê nie, blý omdat ek so vry kan wees en vry kan blý, want ek ken God op ál my weë, en ek maak Sý liefde my eie.  ‘n Liefde só groot, ‘n lig só helder, neem die angel uit énige onvriendelike daad, en vergifnis is ónmiddellik en spóntaan!


Gebed:  Ek ken God en ék vergewe!



~ Uit Daelikse Woord aangepas ~


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!



mamma333  @  gmail.com

Thursday, 11 September 2014

VERGEWE






By U is daar vergifnis.  -  Psalm 130:4


Hoe wonderlik die wete – by God is daar vergifnis, want by Hom is daar liefde.  En waar daar liefde is, kan geen wrok bly staan nie, geen teleurstelling kan ‘n houvas in ons gedagtes kry nie, geen herinnering uit die verlede kan ons meer ongelukkig maak nie, want die liefde van God wat heers in ons hart, is groter as al hierdie dinge.

Soos ‘n swaar las wat ons aflê, so is die vryheid wat ons ervaar wanneer ons andere, en ook onsself vergewe.  Ons daad van vergifnis maak ons nie net los van die verlede nie.  Dit lei ons ook een tree verder op ons pad van lig, ‘n nuwe toekoms met nuwe geleenthede tegemoet, vry van laste wat ons met ons saamgedra het – miskien vir dae, vir weke, maande of selfs jare.

Om nie te vergewe nie is om met ‘n ketting om ons enkels aan te struikel van dag tot dag – om te vergewe is om al die kettings te breek.  En as ons vergifnis gekleur is met die liefde van ons Heer, gaan ons fier en regop, vry en bly, ‘n nuwe toekoms tegemoet.


Gebed:  In U liefde, Heer, vergewe ek.



~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday, 21 April 2013





VERGEWE

Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees.   -  Ps. 51:12

Wat moet ek doen om ‘n rein, vergewende hart te bekom?  Ek vra en ek ontvang.  Ek vra vir liefde, en soveel liefde vloei my hart binne, dat ek sonder enige inspanning maklik vergewe en vergeet.  Liefde en vergifnis is nodig vir God om Sy werke deur my te doen.

‘n Hart vol liefde is vry van enige wrok of kwade gevoelens.  Vrede vul my gemoed.  Hoop, geloof en blye afwagting omskep my in ‘n stralende ligmens.  Ek is gereed, en God skep ‘n vergewende hart in my.

Hierdie vergewende, liefdevolle hart is egter nie iets wat sommer aangeskakel kan word nie.  Dit mag ‘n tydjie neem voordat ek hierdie eienskappe my eie kan maak en regkry om dit met oorgawe uit te leef.  Ek raak dus nie moedeloos as ek nie daarin slaag om onmiddellik alles en almal te vergewe nie.  Ek doen net my deel – ek lees elkde dag my Bybel en my dagstukkie, ek word stil voor die Heer van my Hart, en die vergifnis, liefde en geloof wat ek daagliks toepas en uitleef omskep my stadig maar seker in ‘n stralende Ligmens, met ‘n rein, vergewende, liefdevolle hart.

Gebed:  Skep vir my ‘n rein hart, o God.

~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday, 27 January 2013





VERGEWE

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.  -  Kol. 3:13

Wanneer ons op reis gaan, besluit ons wat ons met ons sal saamneem.  Ons sal beslis nie ‘n warm jas na ‘n tropiese eiland saamneem nie.

As reisigers op ‘n pad van lig, wil ons elke mooi dag deur God aan ons geskenk, ten volle geniet.  Om dit te kan doen, moet ons ook besluit wat ons met ons gaan saamneem.   Ons kan ou wrokke, griewe, seer, selfveroordeling en foute uit die verlede met ons saamdra – oortollige bagasie wat ons reis minder aangenaam sal maak.   Dit het ons nie nodig nie!   Hoe nou gemaak?

Daar is net een manier om van al hierdie oortollige bagasie ontslae te raak, en dit is deur die liefde van ons Heer.   Ons gaan ons diepste heiligdom binne en maak ons hart wawyd oop vir Sy liefde om dit binne te vloei, en alles wat nie liefde georiënteerd is nie, sal van ons af wegval soos mis voor die son.   Ons bagasie sal lig wees, ons dag vol en ryk.  Vry en bly sal ons voortgaan met ‘n lied in ons hart, en hope liefde om te gee en te deel met ons medemens.

Gebed:  Vergifnis maak my vry, en liefde maak my bly.

~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday, 22 November 2012




VERGEWE

Vergeef ons ons oortredings soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree.  -  Matt. 6:12

Sê ek miskien, “Ek kan nie vergewe of vergeet nie …”?  Dan sê ek maar net dat ek nie gewillig is om te vergewe of vergeet nie.  As gevolg van my klein menslike siening is ek onwillig om te vergewe ….

Maar ek kan darem iets daaraan doen – ek kan my gedagtes ophef en Christus en Sy liefde in my ken.  Deur Hom wat gesterf het vir al my sondes aan die kruis, is ek tot énigiets in staat!  Ek kan vinnig en volkome vergewe.  Ek kan bó menslike beperkinge uitstyg en met Sy oë na die omstandighede kyk.  Ek kán ‘n liefdevolle, vergewende en begrypende mens wees.  Ek kán enige neiging om hipersensitief, vol wrewel en onvergewend te wees, oorkom in Sy liefde.

My hart is gevul met liefde, en ek stort dit op alles en almal om my uit.  Ek is tot álles in staat deur Christus wat in my woon.  Ek rus in die vrede wat Sy liefde my bied, en dis vir my maklik om enigiemand wat my te na kom, onmiddellik te vergewe.  Ek word geseën en is tot seën van my medemens.

Gebed:  Deur Christus in my vergewe ek maklik en volkome!

~ Uit Daelikse Woord ~


Thursday, 14 June 2012





VERGEWE


Spreek vry (vergewe), en julle sal vrygespreek word.  – Luk. 6:37


As daar een ding was wat Jesus beklemtoon het, dan was dit vergifnis.  Luister: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie.  Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”

Ons weet maar alte goed hoe vergifnis ons lewe voller en ryker maak, met liefde en vrede wat die botoon voer waar ons ookal mag woon of werk.  Daarom bid ons elke dag vir die nodige wysheid en begrip – wysheid en begrip wat dit vir ons makliker maak om te vergewe waar en wanneer nodig.

Daar is egter net een probleem, al bid ons HOE hard, as daar nie liefde in ons hart is nie, sal ons nie kan vergewe nie.  Ons sal sê ons vergewe, maar diep in ons hart sal die wrok bly.

Hierdie hemelse liefde is so na aan ons – diep in ons diepste heiligdom sal ons al die liefde vind wat ons ooit nodig mag hê by Hom wat daar woon.  In Sy liefde kan geen wrok of seer staande bly nie, en daar sal vrede wees, in ons en om ons.


Gebed:  U liefde Heer, is my vergifnis.


~ Uit Daelikse Woord ~



Tuesday, 8 May 2012






VERGEWE


Wat is makliker?  Om te sê:  “Jou sondes is jou vergewe,” of om te sê:  “Staan op en loop”?   -  Luk.  5:23


Om met gedagtes rond te loop wat maar net nie kan vergewe en vergeet nie, is om ‘n muur te bou tussen ons die die Heer van ons hart.  Dit sal ons sielerus verstoor, en ons ontneem van die vermoë om skeppend te dink en te handel.

Die enigste manier om van hierdie dodelike las ontslae te raak, is om onsself daaraan te herinner dat die liefde van Christus in ons en ook in andere woon.  In gebed doen ons ‘n beroep op hierdie liefde om ons hele wese te deurspoel.  Ons ontspan en laat dit helder in ons en om ons vloei, tot seën van elke mens en elke gebeurlikheid.

Die liefde van ons Heer reinig ons hart van alle wrewel.  Wat ‘n rukkie gelede nog moeilik was om te vergewe, word nietig en klein.  Dit verdwyn in die lig van Sy liefde wat insig en begrip bring.  Die seer gevoelens van negatiewe gedagtes wat ons aan bande gelê het, word vervang deur die liefde van Christus, en ons siel begin weer sing.  Ons weet ons kan vergewe, en ons doen dit ook!


Gebed:  Ek kan vergewe en ek doen dit ook!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 7 April 2012





VERGEWE


Maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.
Matt.  5:24


Vir Jesus was vergifnis so uiters belangrik.  Selfs terwyl Hy sterwend was, het Hy nog gevra dat die Vader die mense moet vergewe.  En omdat ek in Sy voetspore volg, gaan ek ook vandag ‘n dag van vergifnis maak, ‘n dag waarin ek dit wat skeef is, gaan regmaak.  En dit is ook nie so moeilik nie, want ek gaan dit doen met Jesus se lig, liefde en krag wat gister my skoongewaste hart binne-gevloei het en daarmee is ek tot alles in staat!

As iemand my te na gekom het – vergewe en vergeet ek dit.

As iemand my diep seergemaak en teleurgestel het – vergewe en vergeet ek dit.

Enige beledinging, enige gruweldaad, hetsy teenoor my of teenoor my geliefdes, vergewe ek onvoorwaardelik, want met elke grief en wrok waarvan ek so ontslae raak, maak ek ‘n oop plekkie in my hart vir Gods liefde.  En hoe meer liefde daar in my hart is, hoe makliker word dit om vrylik te vergewe en te vergeet – hoe makliker word dit om my pad van lig met ‘n lied in my hart te bewandel.


Gebed:  Vandag vergewe en vergeet ek!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 4 April 2012





VERGEWE


Vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.  Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.  -  Kol. 3:13


Soos die Here ons vergewe het, moet ons mekaar ook vergewe, sê vandag se teks vir ons. So baie kere word ons daaraan herinner om te vergewe.  Waarom dan?  Omdat dit so verskriklik belangriks is – nie net vir onsself nie, maar ook vir diegene teen wie ons ‘n wrok koester.  Maklik is dit nie.  Maar as ons dit nie doen nie, kan die wrewel en die seer al hoe erger word, en waar daar lig behoort te wees, kan later net duisternis wees.

Gelukkig is daar ‘n manier om van die duisternis in ons hart ontslae te raak. Ons kan ons wend tot die Heer van ons hart, en Sy lig werp op dit wat seermaak.  Ons kan Sy liefde daarop uitstort, uit ons hart uit vergewe, en vry en bly voortgaan op ons pad van lig.

Hierdie manier van vergewe maak nie net vir ons vry nie, dit maak ook die persoon wat ons te na gekom het vry, en ons kan ongestoord voortgaan op ons pad van lig.


Gebed:  Ek vergewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 4 December 2011





VERGEWE


Vader, vergewe hulle.  -  Luk. 23:34


Here Jesus, vandag dink ons aan U.  Ons dink na oor wat U met ons probleme sou gedoen het.

As u vandag hier was en in ons strate gestap en in ons vliegtuie gery het, sou u ‘n ander soort wêreld gesien het, maar U sou ook geweet het dat die mens maar nog net ‘n mens bly.

Here Jesus, ons het groot behoefte aan die gees van vergewensgesindheid wat U so selfloos uitgelewe het.  Ons het behoefte daaraan om daagliks te bid:  Ek vergewe, en ek word vergewe.”

As elke mens in elke land sou bid vir ons liefdelose gedagtes, sou ons nuwe mense in ‘n nuwe wêreld wees.

As ons almal saam om vergifnis sou bid, sou hierdie wêreld wees wat U vir ons bedoel het om te wees.

Here Jesus, in geloof reik ons uit na U.  Help ons om andere te vergewe, maar ook om onsself te vergewe, oortredinge waarvan ons bewus is – maar ook oortredinge waarvan ons nie bewus is nie.


Gebed:  Ek vergewe en ek word vergewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 16 November 2011




VERGEWE


Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. – in Engels: Forgive and you will be forgiven.  – Luk. 6:37


Heer, met U liefde in my hart is ek nou gereed vir vergifnis, of dit nou vir my is of vir iemand anders.  Ek is maar ge gewillig om nou van al my griewe ontslae te raak.

Almal van ons maak foute, want niemand is volmaak nie.  Help my, Heer, om dit te onthou, wanneer ek dit moeilik vind om ‘n diep seer of teleurstelling te vergewe.

Gee my die insig en begrip om te besef dat ek uit elke aanval, reg hanteer in U liefde, geestelik al hoe sterker word in U krag.  As ek dan later terugkyk en sien hoeveel baat ek geestelik gevind het deur die teleurstelling, die onmin en die seer heen, word my daad van vergifnis soveel makliker – dit word uiteindelik omskep in ‘n dankgebed!  Dankie, Heer!

Wat is vir God belangrik?  Ons geestelike groei natuurlik.  En vir die sielegroei wat elke ervaring ons bied, sê ons dankie, en dan is daar niks om te vergewe nie!


Gebed:  Ek vergewe en ek word vergewe.  Dankie, Vader!


~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday, 5 November 2011



VERGEWE


Toe sê Jesus: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  - Luk. 23:34


Kyk net na die teks hier bo en dink aan die omstandighede waaronder Jesus kon vergewe. Sal ons kan?

Eintlik is dit ‘n baie hard werk om iemand nie te vergewe vir ‘n onreg ons aangedoen nie, want met ons wrewel en onvergenoegdheid bou ons ‘n muur tussen ons en die liefde van ons Heer, totdat dit haas onmoontlik word om te vergewe.  Sy liefde in ons harte is soos ‘n suiwer rivier van helende water, en elke gedagte van blaam is soos ‘n swaar klip wat ons aandra om die muur tussen ons en hierdie hemelse liefde al hoe hoër te bou.  Hoe uitputtend is so ‘n werk nie!

Maar daar is ‘n ander opsie.  Ons kan daardie suiwerende liefdestroom deur ons hart laat vloei.  As ons dit in alle opregtheid doen, sal die wrewel en seer wegvloei, liefde en vrede sal ons hart binnevloei, en soos Jesus, kan ons ook vergewe.

Dankie, Heer van my hart, vir U liefde wat my hart weer die suiwer, skoon kanaal gemaak het wat kan vergewe en vergeet, hoe groot die onreg ookal was.


Gebed:  Vader, dankie vir U liefde waarmee ek kan vergewe.


~ Uit Daelikse Woord ~