Thursday, 7 February 2013

Liewe Lesers-maats

Wanneer julle nie boodskappies van my sien nie, wees maar asb geduldig, ek het julle nie vergeet nie!  Die enigste rede sal wees dat ek netwerk-probleme het en gou die agterstand sal probeer inhaal.   Ek woon in Napier in die Weskaap, 'n ou klein dorpie tussen Bredasdorp en Caledon, waar ons baie kragonderbrekings kry en dit het weer tot gevolg probleme met baie van ons se internet konneksies.

Dankie dat julle my boodskappies lees.  Dit beteken vir my so baie, dat daar honger siele is wat soek vir Sy kosbare Woord.

Ek het ook 'n epos-groep en julle kan ook so jul boodskappies ontvang om weer aan te stuur na mense in jul eie epos-groepe.  Stuur maar net vir my jul epos adres en ek voeg jul naampie by op my eposlys.

Die pragtigste daggie vir julle!

Poppie 




GODS  ORDE

Vanself  bring die aarde die graan voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die vol koringaar.  -  Mark. 4:28

Gods orde heers oor heel die heelal heen, en dit heers ook op hierdie wonderskone planeet wat ek my tuiste noem.   Ek hoef maar net rondom my te kyk om te sien hoe hierdie orde aan die werk is:   die son kom op en hy gaan onder volgens ‘n vasgestelde ordelike patroon.  Die seisoene kom en gaan, terwyl alles wat hier bestaan deur swaartekrag veilig is in die sorg van die aarde.  Dit is so geskep deur God onse Vader.

Vas oortuig daarvan dat hierdie hemelse orde ook in my lewe alles onder beheer het, gaan ek my ook nie staan en moeg maak om die een of ander verandering af te forseer nie.   Ek hou op om te beplan wie wat en wanneer moet doen.   Ek staan vas in my geloof dat Gods orde aan die werk is in my lewe en alles wat my aangaan, en alles werk ten goede mee – vir my en vir wie ookal my lewe en belange met my deel.  Dit het God ons tog gesê en op Sy oplossings kan niemand ooit verbeter nie!

Hoe wonderlik die sielerus wat nou myne is omdat ek glo alles wat my aangaan is reg en goed, want Gods orde heers in my lewe.

Gebed:  Gods orde heers in my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~








TROOS

Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.  -  Matt.  5:4

Toe Jesus Sy oë oor die skares wat Hom gevolg het, laat gaan, het Hy baie meer gesien as wat vir die blote oog sigbaar was.   Hy het diep gekyk en hulle kommer, hulle siektes en hartseer raakgesien en dit dan ook genees, omdat dit is wat hulle van Hom verwag het.

Nadat  Hy met so ‘n skare te doen gehad het, het Hy Sy bergpredikasie gelewer.   Bo-op ‘n berg het Hy gaan sit, met Sy dissipels om Hom, en aan hulle het hy die wonder van die geestelike lewe –‘n lewe in Hom, verduidelik.  Oor elke probleem in die mense se lewe, het Hy ‘n seën uitgespreek.

Lees maar gerus self die bergrede in Matt. 5, en laat die waarheid daarvan diep in u wese insink.  -  “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.   Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”  Geseënd is, geseënd, geseënd …  Wonderlike woorde van vertroosting – maak dit u eie en vind rus vir u moeë siel.

Gebed:  Dankie Heer, vir U seëninge so wonderbaar!

~ Uit Daelikse Woord ~






Wednesday, 6 February 2013





‘N  DANKBARE  HART

Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer. 
Ps.  86:12  (OV)

Wanneer is ons so dankbaar dat ons ons Here en God wil loof met ons hele hart en sy Naam vir ewig eer?   Wanneer Christus sy intrek in ons hart geneem het  - wanneer ons gedagtes helder verlig word in die vlam van sy liefde in ons  -  wanneer elke sel en atoom in ons liggaam helder verlig word in hierdie helder stralende vlam wat deur niks en niemand uitgewis kan word as dit eers eenkeer begin brand nie, en ons omskep word in ligwesens, dit is wanneer daar geen perke aan ons lof en dank is nie!   Dit is wanneer ons met ‘n lied in ons hart rondloop, en God vir ewig eer.

En hoe eer ons Hom?   Ons eer Hom deur die liefde en deernis wat ons toon teenoor ons medemens.  Ons eer Hom deur die lig-idees waarmee ons ook lig bring vir andere om ons.  Ons eer Hom met ons diep geloof in sy werke in ons en om ons, in ons land en in ons wêreld.

Voor die wonder van ons mens-wees in Hom, voor die wonder van soveel lig in ons gedagtes en liefde in ons hart, hoe kan ons óóit genoeg dankie sê?

Gebed:  U Naam Heer, eer ek vir ewig!

~ Uit Daelikse Woord ~






Sunday, 3 February 2013





JY IS BELANGRIK EN NODIG

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:   Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.   -  1 Joh. 3:1

KINDERS VAN GOD  -  besig om te groei tot volwasse seuns en dogters wat Hy kan gebruik om sy koninkryk meer sigbaar te maak op hierdie aarde.   Ja, Hy het ons só nodig  -  Hy het vir jóú nodig!!   Jou moed is nodig, jou geloof, jou gebede, jou sin vir humor, jou intelligensie, jou deernis en begrip en talle ander kosbare waardes van jou – te veel om op te noem – is so ontsettend baie nodig ter bevordering van ons Hemel Koning se koninkryk!

En moet nou nie skrik nie!   Jy kan alles gee wat Hy só nodig het, want Hy wat binne-in jou woon, is jou krag en moed, liefde, deernis en begrip.  Hy is jou álles en álles wat jy ooit mag nodig kry op hierdie aarde om vir Hom te werk en diens te lewer vir sy Koninkryk!   GLO dit en gebruik al die talente wat Hy so liefdevol in jou hande plaas!  

Plaas Hom maar net élke dag in beheer van jou hele wese en bestaan, en dit wat Hy so graag wil doen vir sy mensekinders sal Hy deur jóú kan doen!  Jou woorde en jou dade sal reg wees, want Hy wat nou in en deur jou werk, se werke is volmaak.  Asb moenie nou jou rug draai en iets anders doen nie, jy kan nóú op hierdie oomblik iets vir Hom doen!!!  Gebruik die geleentheid!

~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 2 February 2013





MENSE VAN DIE LIG

Leef dan as mense van die lig. – Ef. 5:8

Leef dan as mense van die lig – sê Paulus – as ligwesens.  En ons kan ook, want ons het al die krag tot ons beskikking om dit te kan doen.  Nou waarom dan soms so traag om aan die gang te kom?   Waarom te moeg om iets te probeer – miskien as gevolg van van ‘n gebrek aan slaap?  Nee, dit is geen verskoning nie!

Ons leef as normale mense op ‘n normale aarde in normale drie-dimensionele menslike liggame, maar as ons al die geheimenisse ken en daarvolgens leef, leef ons as mense van die lig – ligwesens binne-in die koninkryk van God, vanwaar ons die werk doen wat Hy verlang.

Aan ons energie is daar geen einde nie, en nooit is ons te moeg om nog die ekstra tree te stap waar nodig nie, nooit te verward om nie te weet wat ons hoe en wanneer moet doen nie, nooit te laat en nooit te vroeg nie, maar altyd op die regte tyd op die regte plek waar God ons kan gebruik.  Dit is wat dit beteken om te leef as mense van die lig – ware Ligwesens!

Gebed:  Ek leef as ‘n ware ligwese.

~ Uit Daelikse Woord ~

Friday, 1 February 2013





DROME

Die Engel van God het my in die droom geroep:  “Jakob!”  en ek het geantwoord:  “Hier is ek!”  - Gen. 31:11

Ek het ‘n baie goeie rede om nooit feite in my pad te laat kom waar ek my drome nastreef nie.   Feite mag verander, maar die waarheid verander nooit.  Inspirasie van Bo – dit is waar ek my idees vandaan kry, en die vaste oortuiging dat dit wat ek nastreef, reg is vir my.

Ek styg uit bo die menings van andere omtrent dit wat ek kan of nie kan doen nie, en volg my eie innerlike rigtingwysers soos dit aan my openbaar word.  Dit is nie net sommer dagdrome wat ek nastreef nie, dit is idees en drome gegrond op die lig en leiding wat ek kry vanuit my diepste wese wanneer ek stil word in gebed voor God, en Hy my gedagtes helder verlig.

Mense mag sê ek is ‘n regte ou dagdromer, maar wat hulle nie weet nie, is dat my drome God geïnspireerd is.  Dit is lig-gedagtes – engel gedagtes – wat ligdade tot gevolg het, en ek weet ek is op die regte pad – ek weet my Heer is saam met my op hierdie pad!

Gebed:  Saam met U, Heer, is ek ‘n wenner!

~ Uit Daelikse Woord ~