Sunday, 28 April 2013





EK  GLO!


Dit gaan goed met die mens ... wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.  -  Ps 146:5


As daar nou een ding is wat onwankelbaar is in my lewe, is dit my geloof in God en sy liefde vir ons.  Soos ‘n vaste rots waarop ek staan, is dit.

Dit is ‘n baie sterk rots wat nie geroer kan word deur enige gebeure of terugslae wat ek nie vinnig kan oplos nie.  In Hom lewe, beweeg en bestaan ek – dit glo ek, en hierdie grootse waarheid maak ek my eie.  As ek dan in Hom lewe, wie kan my nog te na kom?  Hoe kan ek dan nog twyfel aan sy liefde en sorg vir my?

Ek glo in Gods stralende lewenskrag wat in en deur my werk en straal, en my sterk en gesond maak.

Ek glo in Gods oorvloed ook daar vir my – ‘n oorvloed van seëninge, te veel om op te noem, in hierdie mooi wêreld deur Hom geskep.

Ek glo in Gods liefde wat blom in al my menslike verhoudinge.

Sterk in my geloof, seker van Gods nabyheid, sê ek dankie vir die vaste rots waarop ek kan staan.


Gebed:  My hoop is gevestig op die Here!


~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 25 April 2013





CHRISTUS  IN  ONS

Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.  -  Kol.  1:27

As die Here Jesus Christus in ons is, en ons voed Hom net met melk en heuning, sal Hy die babatjie bly wat een of ander heuglike tyd in ons hart gebore is – Hy sal nie groei tot volle wasdom soos in Jesus nie!

Maar hoe moet ons Hom dan voed?   Wat is die vaste spyse?  Dit is ons toewyding – ons spesiale stil tydjie van gebed diep in ons diepste heiligdom – gebede só vol dankbaarheid, só vol toewyding, só diep en innig dat alles om ons doodstil word voor hierdie grootse wonder – dít is hoe ons Hom voed.  En Hy sal groei en gedy in ons, en die beloning wat ons s’n is, kan nie in woorde omskryf word nie!

Die wonder is – ons hóéf dit nie in woorde te omskryf nie – hierdie Grootse Waarheid sal gesien word in die warm gloed in ons oë, gevoel word in ons aanraking só sag en só teer, en ervaar word in die krag waarmee ons vasstaan, wat ookal die eise wat aan ons gestel word!

Dan kan ons ook sê – dit is nie ék wat die werk doen nie, maar die Here Jesus Christus ín my!

Gebed:  Dit is nie ék wat die werk doen nie, maar Christus in my!

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday, 24 April 2013






U DAG,  HEER!

Ek het die Here altyd by my omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.    Ps.  16:8

Vandag is U dag, Heer van my hart.  Ek weet ek sal nie struikel nie, want U is by my.  In diepe ootmoed dra ek hierdie dag op aan U – gebruik my Heer, soos en waar Ú wil.  Laat dit wat Ú in gedagte het vir vandag, mý doelwitte word, sodat dit tot stand kan kom net hier waar ons nou is – U en ek.

Neem my hand dierbare Heer, en lei my op die regte weg vir my.   Laat U liefde in my hart mý liefde wees, en duidelik gehoor word in alles wat ek doen.   Laat die goeie wat Ú wil Heer, die goeie word wat ek doen, en die goeie uitlok in almal wat vandag ons pad mag kruis.

Neem my hand Heer, en lei my op die regte weg vir my.   Laat U lig my gedagtes verlig, en duidelik gesien word in die insig en begrip waarmee ek alles benader wat op ons weg mag kom.  Op Ú lig, U liefde en krag is alles wat ek vandag mag doen of besluit, geskoei, dierbare Heer van my hart.  Die wonder van U by my en in my, laat my siel sing van pure vreugde!

Gebed:  Vandag is U dag, Heer van my hart!

~ Uit Daelikse Woord ~



Tuesday, 23 April 2013





LAAT LOS LAAT GOD

Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug.    
Jes.  26:4

Hierdie is seer sekerlik een van die populêrste dagstukkies, want wie van ons weet nie hoe moeilik dit is om midde-in die grootste uitdaging, nadat ons dit in gebed aan God opgedra het, alles net so te laat los, al weet ons hóe goed dat Hy aan die werk is daar waar ons nie kan sien nie, en dat ons met ons kommer en oorhaastigheid, weer alles kan vernietig wat ons met ons gebed opgebou het.

Om rus te bring in ons gemoed – kom ons dink aan ‘n skoenlapper wat heen-en-weer fladder van blom tot blom.  Sodra daar ‘n briesie kom, veg die skoenlappeer nie daarteen nie.  Intééndeel – hy mors nie sy energie deur hom teen te sit nie – hy gebruik die briesie om hom te dra, en waar hy ookal land, weer ewe vrolik voort te gaan met sy taak.

Net so gaan ek ook nou met die vloei van omstandighede saamwerk.  Ek gaan laat los en God toelaat om oor te neem, want dan kom ek in harmonie met sy grootse Plan vir my, en ek sê dankie vir sy insig en begrip wat nou ook my insig en begrip is.

Gebed:  Ek verstaan en laat los laat God met volle oorgawe!

~ Uit Daelikse Woord ~






Sunday, 21 April 2013




JOU RESTOURASIE

Maak toe die deur van jou negatiewe verlede. Maak toe die deur van jou vernederings en verwerping. Ek leef nie in jou verlede nie. Nee, Ek droom oor jou spesiale toekoms. Maak oop die deur van my onvoorwaardelike liefde vir jou. Ek stap met jou ‘n pad van restourasie en goddelike genesing, sê die Here. Maak oop die deur vir jou nuwe denke en emosies. Daar is nuwe geleenthede wat vir jou lê en wag. Droom my wonderlike drome vir jouself. Ek en jy stap saam die toekoms in, sê die Here. Ek is met jou!

~ Hansie Smit ~






Die Here se maatstaf .........................


Ek wou só baie doen vir die Meester –
groot werke wou ek vir Hom doen.
Toe sê Hy vir my:  “Kyk bietjie om jou –
wie dan, sal die klein werkies doen?”


Ek sê: “Maar dié plekkie is nietig en klein,
en niemand sal weet dat ek dien.
Nie een sal hier weet van my Liefde
of die Lig van my lampie kan sien.”


“Nou reken nou net,” sê die Meester –
“Só was dit met My ook – omtrent;
Want Nasaret was nie juis groot nie
en Bethlehem nie wêreldbekend.”









LEWENSAVONTURE

In U lig sien ons die lig.  -  Ps. 36:10  (OV)

Die meeste dae verloop maar volgens ‘n vasgestelde patroon, maar geen twee dae is ooit presies dieselfde nie.  Elke dag is uniek met sy eie avonture in die ure opgesluit, wat op my wag om ontgin te word.

Maak dít die lewe nie self ‘n wonder nie?  Enige oomblik kan enigiets opwindends gebeur  -  enige oomblik kan nuwe geleenthede voor my oopgaan tot ‘n ryker en voller lewe, en met God in beheer van my lewe, met  my voete stewig op my pad van lig, sal ek gereed wees vir wat die volgende oomblik ookal vir my mag bied.

Seker daarvan dat daar in elke avontuur wat ek beleef ‘n bedekte seën skuil, gaan ek met moed en durf voort op my lewenspad.  Vir die uitdagings is ek nie bang nie, want Hy wat saam met my stap, hou deurgaans my hand stewig vas, en vir die seëninge sê ek dankie vir Hom wat saam met my stap deur al my lewensavonture heen.

Gebed:  My lewe is een heerlike avontuur!

~ Uit Daelikse Woord ~