Saturday, 1 February 2014





LEIDING


Loof die Here, o my siel.  -  Ps 146:1  (OV)


Nóóit kan ons die Here genóég loof en dank vir sy wónderlig op ons wónderpad van lig nie, en tóg – skielik op die onmoontlikste tyd gebéúr daar iets in ons lewe, en ons láát toe dat dáárdie gebeure, óf iemand óf situasie, ons hééltemal van balans af gooi, en ons vergéét om ons loflied te sing!

Maar dán onthou ek – élke uitdaging is eintlik ‘n splinternuwe gelééntheid vir ons om geestelik verder te groei, en ek word stil in ootmoed voor die Heer van my hart ...   My gebéd raak die vlam van Chrístus binne-in my aan, en hélderder en hélderder word hierdie lig ... My bréin word daardeur verlig, my hárt word daardeur verlig, en dit skyn al hoe hélderder in my, en ook deur my en om my!  ‘n Báán van lig skyn voor my uit op die pad wat ek moet volg, en my gebed verander in ‘n líéd van lof:  “Lóóf die Here, ó my siel!”

Dankie, dierbáárste Heer van my hart, dat Ú áltyd maar áltyd daar is vir my.  Mag ek dit élke oomblik van élke dag onthou, sodat ek nóóit U helderverligte pad byster raak nie.  Ek wéét nou – met my héle wese weet ek:  “Gód sien daarna om.”  Wát ookal die uitdaging of wát ookal die probleem!


Gebed:  Lóóf die Here, ó my siel, want Hý lei my!


~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 30 January 2014





HELP  ANDER  DEUR  GEBED


“Here, help my” ...   “o Vrou, groot is jou geloof;  laat dit vir jou wees soos jy wil hê.”  -  Matt.  15:25, 28 (OV)


Die manier waarop ons soms iets sê, of die omstandighede waaronder ons dit sê, gee groot betekenis aan dit wat ons sê.

Ons mag byvoorbeeld vriendelik aan tafel sê: “Help jouself.”   Of aan die ander kant weer mag ons sag en ferm, uit die diepte van ons siel, vir iemand wat van ons afhanklik of terneergedruk is, sê:  “Help jouself!!”

Maar hoe kan mense hulself help as hul wêreld om hulle in duie stort en hulle op moedverloor se vlakte sit?   In ons poging om hulle te help, is die heel beste manier om hulle in ons gebed op te dra aan God.  Ons bid dat Christus in hulle in al Sy glorie sal deurbreek, om hulle te onderskraag en te lei – kan enigiemand groter hulp as juis dit kry?

Ons kan as volg bid:  “Dierbare, Christus werk ín jou en óm jou.  Hy sál jou paaie wéér gelyk maak.”  Dié geestelike voedsel wat ons só aan ons geliefdes bied, sal hul lei tot oorwinning.


Gebed:  Dierbare, laat God jou help!


~ Uit Daelikse Woord ~









GEE   JOU  GAWE


Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien.  -  1 Petr. 4:10 (OV)


Het  jy al aan jouself gedink as nódig en belángrik, met ‘n geskenk wat net  jý aan hierdie wêreld kan gee?   Jy behoort dit te doen, want jy ís uniek en só spesiaal en jy het ‘n geskenk wat wónderlik en goed is!  Iemand wag nóú om daardie geskenk te ontvang wat net  jý het om te gee.

Wat is jou spesiale geskenk?  Dit kan een van die volgende dinge wees:  Waardering – ‘n warm handdruk of drukkie;  ‘n klop op die skouer;  vriendskap – ‘n helpende hand of  ‘n aanbod om iemand te help;  kommunikasie – ‘n telefoonoproep of ‘n briefie of selfs net ‘n vriendelike glimlaggie;  vredemaking – ‘n oop gemoed en ‘n begrypende hart;  ondersteuning – materieël of geestelik om iemand wat in nood is te help;  aanmoediging – ‘n luisterende oor of ‘n woord van aanmoediging;  gebed – positiewe geloof en bevestigings.

Wát ookal jou geskenk is – die wêreld het dit só bitter nodig en jy word hónderdvoudig geseën wanneer jy dit gee.  Wát ookal jou geskenk – die wêreld is onvolledig daarsonder!


Gebed:  Uit U oorvloed, Heer, gee ek vandag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 26 January 2014





LIG


Wie My volg ... sal die lig hê wat lewe gee.  -  Joh. 8:12


Ek word stil, diep in my diepste heiligdom, en in hierdie oomblik van stílle bepeinsing stroom Ú lig my gedagtes binne – stroom Ú liefde my hart binne – neem Ú krag oor, en ‘n helder stroom van Lig en Liefde straal ín en déúr my héle wese.

Elke liggaamsdeel word nou hélder verlig, en ek staan op, ‘n strálende Ligwese wat Lig bring waar ek is en wáár ek ookal mag gaan, wat met liéfde en mensedeernis reageer op élke behoefte wat onder my aandag mag kom, en met krag optree waar en wánneer nodig.

In Ú krag dierbare Heer, staan ek nou op, en saam is ons ‘n reinigende vlam wat álles uitwis wat nie van die lig is nie, en die leemtes wat so gelaat word, vul met dit wat Ú is in my!

Ú omskep my in ‘n magtige Boodskapper van Ú Lig – Ú onderskraag my met U Leërskare van Engele, sodat ek sterk genoeg kan wees om onwríkbaar en suksésvol vas te staan voor énige sinistêre mag.


Gebed:  Ú volg ek, Heer, élke dag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 24 January 2014






TROOS


Ek sal geen onheil vrees nie;  want U is met my:  U stok en U staf dié vertroos my.   Ps.  23:4 (OV)


My dierbare Heer vertróós my.   Hy is my krág en my stérkte, my vréde en wýsheid, te álle tye en onder álle omstandighede.  Sélfs al gaan ek deur ‘n báie groot uitdaging, ook dáár sal Sy seëninge my pad verlig, en ek weet verséker, álles dien slegs tot my hóógste heil.  Hy is met my, élke tree van die weg waarop ek my mág bevind.

As die pyn báie diep is en die teleurstelling báie groot, en ek smag na ‘n plekkie van stilte  waar ek net ‘n biétjie kan rus – is Hy dáár!   Hy wéét van die seer, Hy verstáán die teleurstelling, en in sy liefde vóú Hy my toe.

Sag en teer hoor ek Sy stem diép  in my wese:   “Kom my geliefde kind, kom sit hier bý My – laat My toe om jou wonde te genees met My salf van liefde, om al jou seer te verság met My lig wat wysheid en begrip bring, om met My krag ook jóú krag tot oorwinning te wees.  Kóm, sit net hiér by My.”

“Dankie, Hemelvader.   Ek wéét nou – géén seer is te groot, géén teleurstelling te diep, géén uitdaging te duister, voor Ú heerlikheid, liéfde en líg nie!   Dánkie, dánkie, Vader!”


Gebed:  Dankie Hemelse Vader, vir die rus wat net Ú kan gee.


~ Uit Daelikse Woord ~








TEMPEL VAN GOD



Die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.  -  1 Kor. 3:17



Die tempel van God is heilig en dit is ek!   Wat ‘n grootse gedagte van Paulus – dit maak mens skoon bang!   Dit is waarom ons dit maar liewer heeltemal ignoreer – hoe kan ons, die mense van hierdie wêreld, nou heilig wees – en tog – Christus woon in ons!  Dus kán ons sê:

“Ek is die een krag en die een Teenwoordigheid wat oorgeneem het in hierdie liggaam, besig om dit te omskep in ‘n stralende Tempel van God, met Lig só helder in ons gedagtes, Liefde só innig en diep in my hart, met al die Krag wat my tot alles in staat stel tot my beskikking tot ek waarlik hierdie liggaam kan omskep in ‘n volwaardige tempel van God.”

Dankie, Heer, want dit is Ú wat my maak wat ek is in Ú heerlikheid, liefde en lig.   Hou net my hand elke dag stewig vas, sodat ek nie voor die geringste negatiwiteit wat onder my aandag kom, weer optree soos iemand in wie die Heilige Tempel nog toegerank is onder al die onkruid en dorings wat nie daar hoort nie!   Maak my tempel heilig, dierbare Heer!



Gebed:  Die Tempel van God is Heilig, en dit is ek!



~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday, 23 January 2014





TROOS


Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar.  -  Ef.  4:32  (OV)


Die deernis en begrip waarmee die Heer van my hart my altyd benader, is ook die deernis en begrip waarmee ek ander om my benader, want sy liefde heers in my hart.   Die vriendelikheid en genade wat Hy teenoor mý openbaar, is ook die vriendelikheid en genade wat ék teenoor andere moet openbaar.  Ek is oop, en o, só gewillig, om die wonder van sý kosbare liefde nie net vir myself te hou nie, maar óók teenoor andere uit te leef.

Jesus het immers vir die mens ‘n nuwe gebod gegee – ons moet mekaar liefhê, het Hy gesê.  Hý het vir ons gewys hoe ons Gods liefde in ons hart ten vólle moet uitleef teenoor ons naaste, en met my héle hart en siel volg ek Hom.

“Lê Ú die woorde in my mond dierbaarste Heer, wanneer iemand met ‘n stukkende hart mý hand in syne neem.  Wees Ú die deernis wat ‘n ander toevou in mý arms Heer.  Wees Ú die woorde wat heel – die stilte wat rus in ‘n uitgeputte siel se hart en vrede in sy gemoed bring.  Wees Ú die lig-bring liefde in mý hart, dierbaarste Heer van my hart!”


Gebed:  Wees Ú die ligbring-liefde in my hart, Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~