Monday, 9 June 2014





KIND VAN DIE LIG


Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid!  -  Kol. 2:27


Kind van die Lig, aanvaar die feit dat Ek binne-in jou is!  Diep in jou diepste wese sal jy My vind, met al My krag, al My liefde en lig vrylik tot jou beskikking.  Gebruik dit en maak julle hoop op die heerlikheid ‘n werklikheid in jou lewe!

Staan op!  in die magtige glorie van jou Ware Self. 

Gaan voort!  ‘n magtige oorwinnende teenwoordigheid so ver jy gaan.

Wees!  die lig wat Ek is in jou wat nooit verdof nie, en laat dit al hoe helderder en helderder in en deur jou werk en straal, tot seën van jou wêreld en sy mense.

Beweeg!  geklee in die lig van jou eie glorieryke Christus-self, en die heerlikheid sal nie net ‘n hoop bly nie, dit sal ‘n werklikheid word!

Wees vry!  want Ek is in jou – die rigtinggewende intelligensie in jou brein, die deernisvolle liefde in jou hart, en jou alles-oorwinnende krag.


Gebed:  Ja, Here!  U is my hoop op die heerlikheid!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 7 June 2014





LEIDING


U lei my met u raad.  -  Psalm 73:24


Onder die leiding van Gods liefde en lig vind ons die werk en vriende wat pas by ons behoeftes en belangstellings.  Ons weet ons word gelei in die liefde van God want alles gebeur so stap vir stap en ordelik, en ons begin let en reageer op die geringste gebeurlikheid.

In die loop van vandag sal ons baie besluite moet neem – sommiges belangrik en ander weer van minder belang.  As ons in ons stil gebedsuur ons hand in dié van ons Heer geplaas het, kan ons rus in die wete dat wat ons ookal vandag mag besluit, of dit nou groot of klein is, in Sy liefde en lig sal elke besluit die regte een wees.  Hy lei ons, en ons volg Sy leiding.

Al gaandeweg is Hy besig om ons te lei tot dit wat vir ons die heel beste is, daarom bid ons en luister ons aandagtig.  Dit wat Hy aan ons openbaar mag ‘n fyn uitgewerkte plan wees of ‘n skielike inspirasie.  Hoe dit kom, is egter nie van belang nie;  wat wel van belang is, is dat ons in harmonie met Sy liefde bly en die pad volg wat Hy voor ons oopmaak.


Gebed:  Lei my Heer, op U pad van lig.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 6 June 2014






LOOF  GOD!


Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.  -  Gen. 1:31


Wat 'n heerlike, kraakvars, nuwe dag is dit net nie!  Oral ontdek ons die aanraking van ons Skepper. Vrolik en bly begroet begroet ons hierdie nuwe dag.

Sodra ons bewus word van enige vorm van negatiwiteit, staan ons vas in ons geloof in God - die een krag en Teenwoordigheid in die heelal. In Hom glo ons, vertrou onskwade van alle krag ontneem word - die goeie sal seëvier. Christus sal weer na die aarde terugkeer!

Ons is oop en ontvanklik vir enige vorm van leiding van Bo, en ons loof God, want ons weet Hy waak steeds oor ons, ons geliefdes en ons wêreld!
  en ons WEET hy heers oor alles heen. In Sy krag sal die 
Elke dag bied iets nuuts wat ons kan geniet en bewonder - elke dag is nóg 'n mooier dag wat ons met oorgawe kan leef in die liefde, lig en krag van 'n almagtige hemelse Vader. SO almagtig is Hy, en tog so liefdevol, dat nie eens 'n voëltjie sal val sonder dat Hy daarvan weet nie! Wat 'n wonderlike wêreld het Hy net nie geskep nie!


Gebed:  Gods goedheid heers oor alles heen vandag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 5 June 2014





JY IS UNIEK


Met die koninkryk van God gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels.  As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.  -  Matt 13:45-46


Is ons gedurig besig om onsself met andere te vergelyk en dan minderwaardig te voel?  Is ons geneig om te sê:  “Ek wens ek kon meer soos ...”  of  “Ek wens ek was so deftig, so aangetrek of ryk soos ...”?

Ons het seker almal al sulke gedagtes gekoester.  Die waarheid is egter dat daar ongekende skatte binne-in elkeen van ons skuil.  Ons is almal unieke kinders van ‘n grootse hemelse Vader, en al deel ons hierdie wêreld saam met baie ander mense soos ons, is daar nie twee mense op die aarde wat presies dieselfde is nie.

Met ons eie talente en vaardighede is elkeen van ons gebore, en niks keer ons om dit te gebruik soos Jesus syne gebruik het nie, tot voordeel van ons medemens en ons wêreld.

Ons is waardevolle pêrels, unieke seuns en dogters van ‘n hemelse Vader, en ons wys ons dankbaarheid in die diens wat ons lewer tot seën van ons wêreld.


Gebed:  Ek is ‘n unieke kind van God.


~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday, 4 June 2014





EK IS VEILIG


U is by my.  In U hande is ek veilig. – Psalm 23:4


Wat ‘n groot bevestiging is die woorde van die Psalmis net nie, “In God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie!”

Liewe Heer, ek dank U vir die besef dat U my beskerming, my moed, my hulp, my veiligheid, my voorsiening, my inspirasie, my wysheid, my lewe, my alles is.

Dit sal my nie langer die moed ontbreek om te doen wat ek moet doen nie.  Ek sal nie langer vrees om te gaan waar ek wil gaan nie.  Nie meer sal ek my eie innerlike stem wantrou nie, my eie wysheid, my eie vermoëns, my eie talente nie.

Liewe Heer, ek sal my nie langer as minderwaardig, as minder as ander, as enigiets minder as U volmaakte kind sien nie.

Nie meer sal ek nalaat om U liefde, geluk en blydskap in my en deur my te laat werk en straal nie.

Liewe Heer, nooit weer sal ek vergeet om U te vertrou nie – om my absolute vertroue in U en U alleen te plaas nie.


Gebed:  In U, Heer, stel ek my vertroue.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 3 June 2014





LIG


Julle is die lig vir die wêreld. – Matt. 5:14


Of jy nou daarvan hou of nie, maar as ‘n mens eers een keer sy lewe aan God gegee het en Christus in sy hart verwelkom het, ís ons die lig vir die wêreld.  En hierdie feit lê vasgelê in ons brein.  En dis waarom ons elke dag bid, “Laat Lig vanuit die denke van God, die denke van die mens helder verlig.”

Die Lig is daar – die Lig is onderliggend aan God se hele skepping.  God het gesê:  “Laat daar Lig wees, en daar was lig.”  Die Lig is dan ook die Intelligensie van alles wat bestaan.  Die swaeltjie wat hom laat migreer.  Die blom wat die mooiste skouspel van kleure vertoon.  Alles in die lewe is onderliggend aan heel Gods skepping.

Toe blaas God sy asem in die mens, en Hy gee aan die mens die vermoë om, as kind van God, skeppende werk te doen soos Hy.  En daarna kom Jesus en Hy sê ons is die Lig vir die wêreld!  Is jy???


Gebed:  Ek wil die lig wees, Heer!  Sal U my help asseblief?


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 31 May 2014





Liefste Heer van my hart ...................


U wat altyd met my is,  U wat my ophef,
     U in Wie se ewige arms van liefde
          en krag ek veilig is –

     aan U sing my hart hierdie lied van
                     lof en dank.

Met vreugde wy ek my aan
          U werk en diens.
Met dankbaarheid ontvang en gee  ek
U seëninge wat oor my uitgestort word.

     Met toewyding laat ek U Lig,
U Liefde en Krag in en deur my straal
     om alles en almal in my wêreld en
          U wêreld te lei en te rig volgens
                    U volmaakte Plan



~ Uit Daelikse Woord ~