Friday, 20 March 2015

Sukses





Die Here sien die hart aan. - 1 Samuel 16:7 (OV)


Wat beteken sukses vir ons?  Dink ons dadelik aan voorspoed en welvaart en ‘n oorvloed van alles?  Maar dit is tog uiterlike standaarde – is dit regtig al wat tel? Is dit hoe God sukses sien?  Kom ons word stil voor die Heer van ons hart, en luister hoe HY sukses sien:


Elke keer as jy bid, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy in My glo, of in jouself, of in iemand anders, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy kommer-gedagtes vervang deur die waarheid van My werke in en deur jou, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy ‘n taak afhandel, tevrede dat jy jou heel beste gelewer het, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy iemand anders kan opbeur met ligbring-liefde vanuit jou hart, is jy ‘n sukses.
Elke keer as iemand uit die diepte van sy hart vir jou dankie sê, is jy ‘n sukses.


Onthou net, jy is ‘n kind van die lig op ‘n pad van lig, besig om geestelik te groei en te leer uit jou ervaringe, en met My altyd daar,  IS  jy ‘n sukses!


Gebed: Baie dankie, Here, dat U binne-in ons is en van ons ‘n sukses maak.


~ Uit Daelikse Woord ~


Koningsdogters vir Jesus  @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!
.



Thursday, 12 March 2015

Jou God is Koning





Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: "Jou God is Koning!" - Jesaja 52:7


“Jou God is Koning!”  Onthou hierdie woorde baie goed – spits jou gedagtes daarop toe en bêre dit in jou hart, wat jy ookal mag doen, waar jy ookal mag gaan of watter diens jy ookal mag lewer.  Ons God is Koning, en waar Hy Koning is, daar heers Hy in al Sy glorie en mag.  God is lewe, en Sy lewe is die Lig vir die mens.  God is JOU lewe, en jou lewe is nooit somber of vevelig met Sy aanwesigheid nie.  Die Lig van God, jou Vader, skyn helder in jou en om jou.  As jy hierdie lig deur jou gedagtes, woorde en dade ook op andere laat skyn, sal jyself ‘n baken van lig word in jou wêreld.  ‘n Helder stralende tempel van lig sal jy wees, tot seën van almal wat jou pad mag kruis, tot seën van jou hele Ligvriendekring en tot seën van jou land en jou wêreld.

Toe Gods kinders die pad byster geraak het, en vergeet het dat Hy die Lig van die wêreld is, het Hy Sy geliefde Seun gestuur om aan die wêreld die goeie tyding van heerlike, lewegewende krag en gesondheid, van liefde en lig, van oorvloedige, stralende, ewige lewe, vir ons Sy kinders te bring.  God het Sy geliefde Seun gestuur as Verlosser van die wêreld, as groot Geneesheer wat mense sou gesond maak, as Leermeester wat hulle sou lei op die weg van vrede, vryheid en heelheid.

Jesus Christus wat Sy lewe gegee het om ‘n verloregaande wêreld te red, woon nou binne-in jou en my, en deur Hom is al die lig, liefde en krag wat jy ooit mag nodig kry daar vir jou en jou medemens deur jou.  Jesus Christus was en is en sal altyd die Boodskapper van ‘n tyding van Groot Blydskap wees vir die hele mensdom, en elkeen wat by die fontein van die lewende water drink wat Hy aanbied, SAL die ewige lewe beërwe!


Gebed:  Baie dankie, Here Jesus, dat  U deur  u kruisdood my verlossing bewerkstellig het.  In ruil DAARVOOR  gee ek nou vir  U  my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~


✉  deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

KRAG





God is my sterkte;  aan Hom behoort ek vir altyd.  -  Ps. 73:26


Ons het seker almal al die ervaring gehad om voor ‘n skynbaar onoorkomelike probleem te staan, en dan skielik al die moed en krag te hê om dit te oorkom.  Waarvandaan en van wie kom hierdie grenslose krag?  Alle krag kom van God.

Wat ‘n vreugde en voorreg om dit wat ons maar alte dikwels vergeet het, te herontdek – die krag, energie en moed van Gods Heilige Gees binne-in ons!  Terdeë bewus van ons eenheid met Sy Gees en álles wat dit ons bied, kan ons met entoesiasme uitroep:  “Ek is stérk, gesónd, energiék en gelúkkig!”  Ons sê hierdie woorde, ons gló dit, en word opnúút bewus van ál die krag, sterkte, lewensvreugde én energie in élke deel van ons wese.

Ons is sterk, gesond, energiek en gelukkig!  Hierdie woorde weerklink dwarsdeur ons wese, en kom terug as ‘n stil dankgebed tot God, die Bron van al ons krag, gesondheid en energie.


Gebed:  Dankie Jesus, ek is sterk, gesond, energiek, gelukkig en in staat tot enigiets deur  Ú wat my die krag gee!


~ Uit Daelikse Woord ~


✉  deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

Thursday, 5 March 2015

Wees hoflik





Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol,  goedhartig,nederig.
 – 1 Pet. 3:8


Ons veraangenaam die alledaagse lewe grootliks deur hoflik teenoor mekaar op te tree – te alle tye.  Hoflikheid is die sigbaargeworde liefde van God wat binne in ons woon. Deurdat ons die liefde van God deur bedagsaamheid en hoflikheid sigbaar maak, dra ons daartoe by om ander hulle waarde as kinders van God te laat besef. Deur bedagsaam en hoflik te wees teenoor ander, ontvang ons dieselfde behandeling
van hulle, en is ons almal geseënd. Gedurende baie besige tye in ons lewens, mag ons soms geneig wees om onverskillig en vinnig te handel of te praat, maar  laat ons gerus daaraan dink dat minsaamheid en bedagsaamheid die weg tot harmonie en orde aandui, en dat ’n bietjie hoflikheid almal tot seën is. ’n Klein bietjie bedagsaamheid werk kalmerend in op alles en almal, en stel ons instaat om die menigvuldige takies waarmee ons belas is, vreugdevol en gemoedelik af te handel. Dit maak nie net ons eie werk ligter en aangenamer nie, maar ook ander sin. En, wat ons aan die minste doen, doen ons aan die Meester.


Gebed: DEUR HOFLIK IN WOORD EN DAAD TE WEES, WORD DIE LIEFDE VAN GOD IN MY WEERSPIEëL.


~ Uit Daelikse Woord ~



Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!





Gee in liefde





“Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”
– Mark. 12:44.

In elkeen se lewe kom daar tye wanneer ons ’n innige behoefte om te gee, ondervind. Miskien is dit ’n geskenkie vir ’n vriend; miskien is dit vir ons kerk of een of ander saak waarin ons aktief belangstel.  Maar, soms het ons so min om aan te bied. Gepaard met die begeerte om te gee, kom daar ook die gawe om tot seën te wees. Hoe duur of hoe groot die
geskenk of bydrae is, is nie van belang nie. Wat wel van belang is, is die hoeveelheid liefde waarmee ons dit gee. Wat ons ook al met ander deel, is dit in liefde gegee en gedeel word, sal dit die waarde van die “goud, mirre en wierook” wat die drie Wyse Manne uit die Ooste aan Jesus se voete gelê het, aanneem.

As ons die drang om te gee ondervind, moet ons dit nooit onderdruk nie. Op die een of ander wonderlike manier vloei die stroom van mededeelsaamheid altyd in twee rigtings. Dit oorspoel beide die gewer
en die ontvanger met seënige wat gewoonlik ver verby die materiële waarde van die gawe strek. Die grootmoedige drang van ’n liefdevolle hart het ’n wonderlike krag om dinge te vermeningvuldig.


Gebed: EK GEE IN LIEFDE EN MY GAWE IS GESEëND.


~ Uit Daelikse Woord ~


.
Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!
.

Laat los laat God





Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. – Eks. 3:5 (OV)


Om op God te vertrou, is miskien nie so moeilik nie, maar om ons geheel en al los te maak van een of ander moeilike situasie, blyk nie altyd so maklik te wees nie. Oor en oor maal die omstandighede in ons
gedagtes, en die spanning bou op in ons gemoed. Hiervoor is daar maar net een antwoord, en dit is die antwoord en die oplossing wat ons kry diep in ons diepste heiligdom van krag – die plek waar ons ons skoene van ons voete moet aftrek. In hierdie heilige stilte saam met ons Heer, raak ons van alles wat so swaar op ons gemoed lê, ontslae. En as enige kommer oor die toekoms dreig om weer pos te vat in ons gedagtes, herinner ons onsself daaraan dat ons ’n ooreenkoms met God aangegaan het – en ons is dit aan Hom verskuldig om by daardie ooreenkoms te bly.

Ons vind rus vir ons siel as ons op Hom vertrou, en nie op mense en
omstandighede nie. Ons laat dus los en laat Sy vrede ons hart en gemoed binnevloei.


Gebed: EK LOS ALLES IN GOD SE HANDE EN SY VREDE HEERS IN MY GEMOED.



Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!


Sunday, 1 March 2015

Ek het jou lief






Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. – Matt.22:39


Hier is uitstekende raad as jy in die geselskap van mense is van wie jy nie hou nie, en wat jou irriteer:

Seën hulle totdat jy hulle liefhet.  Deur ander te seën (lees Matt.5:44), beroep ons ons op die goedheid van God.  As hierdie goedheid in
onsself en in ander na vore kom, kom liefde vanself tot stand. Dan hou ons van ander en hulle voel dit aan terwyl hulle op hul beurt toegeneë teenoor ons voel.

Elke persoon in ons lewe is daar sodat ons ’n seëning met hom of haar kan deel. ’n Negatiewe houding of handeling kan die seëning wat die Here deur ’n persoon in ons lewe wou bring, verlore laat raak. Ons kan tereg ’n lewensmaat of ’n vriend kies, maar ons kan nie diegene uitkies deur wie ’n seëning moontlik na ons toe kom nie. Die Here beperk nie die goeie in ons lewe tot ’n paar mense nie. Hy gebruik baie mense, hetsy individue of groepe, om ons lewe met die goeie aan te raak en te verryk.

Om te alle tye die goeie te laat geskied, moet ons ander seën en
deur hulle te seën vind ons die goeie in hulle en leer ons om hulle lief te kry.


Gebed: Ek het my naaste lief.  Ek het myself ook lief.


~ Uit Daelikse Woord ~





Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!