Sunday, 7 June 2015

HERE VERGEWE MY TOG





Here,

Vergewe my tog
dat ek so geneig is om te wanhoop
eerder as om op U te hoop,
dat ek die afgelope tyd
die situasie in ons land, in die wêreld,
met negatiewe gevoelens bekyk.
Ek is jammer, Here.

Sal U my asseblief leer hoe om
van voor af op U te hoop,
om vandag positief te lewe
en ook die mense rondom my
positief te beïnvloed sodat
hulle sal weet dat daar altyd nog hoop is
omdat ons ‘n God het wat Hom
in die onmoontlike verlustig.

Help my om te werk
aan my gesindheid van negatiwiteit ...
Om vandag te werk en te hoop
sodat ek môre die vrugte kan pluk.
Om vandag te lewe en te hoop
sodat ek môre nog beter kan lewe.

Hou my hoop helder, Here,
omdat U self die Bron
van daardie hoop is.

Amen

Uit Nina Smit Versameling  :  Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing

  :  Jesus se Dogterkind @ Facebook
Aan God die drie-enige , alleen die eer!

VROLIK EN BLY





Ek wil die Here loof met my héle hart.  -  Ps. 9:2  (OV)

Vrólik en bly, met ‘n liéd in my hart, hand aan hand sáám met my Heer, gaan ek vandag voort op my hélderverligte pad.

Maar wáárom is ek so gelukkig en bly??  Waarom sing my siel binne-in my?  Ómdat ek élke oomblik van élke dag leef in die liéfde en líg van my Heer, en álles  wat ek doen in Sý krag – waaraan daar géén einde is nie, doen.

Hóé kry ek dit reg om élke oomblik van élke dag in Hóm te leef en te beweeg?  Ek begin om my seëninge te tel en dánkie te sê daarvoor! Sódra ek die Here begin loof en dank met my héle hart, begin my síél sing en my léwe word ‘n plesier.

My gemoed is  óóp en ontvánklik vir die leiding van God, Sý lig skyn hélder voor my uit en met óórgawe en vréúgde volg ek Sy leidende lig – en dien en éér ek Sý wil vir my.

In my hándel en my wándel lóóf ek die Here met my héle hart.  My medemens sien dit raak en word óók daardeur geseën en opgehef.

Gebed:  Ek loof die Here met my hart, siel én liggaam en my héle wese getuig daarvan!

~ Uit Daelikse Woord ~


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige , alleen die eer!

Sunday, 24 May 2015

Wierook van Christus





Here,

Wanneer ek na my eie lewe kyk,
is daar so weinig van u liefde,
verdraagsaamheid, geduld, gehoorsaamheid
en gebedsvertroue sigbaar.
Ek doen so min om die kennis van
u evangelie na ander te versprei.

Ek is jammer dat my wierook ter ere van U
meestal so flou is dat die meeste mense
dit sekerlik nie eens kan agterkom nie.
Sal U my nie asseblief help om van nou af
werklik hard te probeer om
‘n geur tot eer van U te wees nie?

Here, help my om so te lewe
dat ek in alles wat ek sê en doen
al hoe meer soos U sal word
sodat die geur van Christus die mense sal
bereik met wie ek elke dag te doen kry.

Amen

Nina Smit Versameling : Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing


  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige , alleen die eer!

DIE REGTE PLEK





Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en liefhet ... Moenie bang wees nie, Ek is by jou.  -  Jes. 43:4-5


Wat ‘n heerlike gedagte!  God het my lief – net soos ek is, net hier waar ek nou is!  In my lewe was ek al op baie verskillende plekke, en het ek al baie dinge beleef.  Nuwe ervaringe sal my nog verder neem op my lewenspad.  Ek is nie daarvoor bang nie, want ek wéét dit wat ek ervaar stem ooreen met die geestelike vlak wat ek alreeds bereik het as kind van God.  Hoe nader ek aan Hom beweeg, hoe meer sien Hy na my om op élke gebied van my lewe.

Met Hóm aan my sy is ek áltyd op die regte plek, ‘n plek wat ek met vriende en medewerkers deel, ‘n plek wat bydra tot my verdere geestelike groei.  Die kamer waarin ek woon, die woonstel of huis, is vir my ‘n aangename tuiste, omdat ek dit deel met Hom wat in die begin van my lewe vir my gesê het: “Ek en jy!”

Hy sien my met die oë van liefde, en ek ontspan en vou myself toe in hierdie hoë visie wat Hy van my het.


Gebed:  Ek is op die regte plek, omvou in die liefde van my Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~




  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige , alleen die eer!



Saturday, 16 May 2015

Gee in Liefde





“Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”   – Mark. 12:44


In elkeen se lewe kom daar tye wanneer ons ’n innige behoefte om te gee, ondervind. Miskien is dit ’n geskenkie vir ’n vriend; miskien is dit vir ons kerk of een of ander saak waarin ons aktief belangstel.  Maar, soms het ons so min om aan te bied.

Tesame met die begeerte om te gee, kom daar ook die gawe om tot seën te wees.  Hoe duur of hoe groot die geskenk of bydrae is, is nie van belang nie. Wat wel van belang is, is die hoeveelheid liefde waarmee ons dit gee.

Wat ons ook al met ander deel, as dit in liefde gegee en gedeel word, sal dit die waarde van die  “goud, mirre en wierook” wat die drie Wyse Manne uit die Ooste aan Jesus se voete gelê het, aanneem.

As ons die drang om te gee ondervind, moet ons dit nooit onderdruk nie. Op die een of ander wonderlike manier vloei die stroom van mededeel-saamheid altyd in twee rigtings. Dit oorspoel beide die gewer
en die ontvanger met seënige wat gewoonlik ver verby die materiële waarde van die gawe strek. Die grootmoedige drang van ’n liefdevolle hart het ’n wonderlike krag om dinge te vermeningvuldig.


Gebed: Ek gee in liefde en my gawe is geseënd.


~ Uit Daelikse Woord ~
   :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige , alleen die eer!
.

Monday, 11 May 2015

Wees Hoflik





Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig,nederig.
 – 1 Pet. 3:8

Ons veraangenaam die alledaagse lewe grootliks deur hoflik teenoor mekaar op te tree – te alle tye.  Hoflikheid is die sigbaargeworde liefde van God wat binne in ons woon. Deurdat ons die liefde van God deur bedagsaamheid en hoflikheid sigbaar maak, dra ons daartoe by om ander hulle waarde as kinders van God te laat besef. Deur bedagsaam en hoflik te wees teenoor ander, ontvang ons dieselfde behandeling
van hulle, en is ons almal geseënd. Wanneer ons ‘n druk program het, mag ons soms geneig wees om onverskillig en op te tree of te praat, maar laat ons gerus daaraan dink dat minsaamheid en bedagsaamheid die weg tot harmonie en orde aandui, en dat ’n bietjie hoflikheid almal tot seën is. ’n Klein bietjie bedagsaamheid werk kalmerend in op alles en almal, en stel ons instaat om die menigvuldige takies waarmee ons belas is, vreugdevol en gemoedelik af te handel. Dit maak nie net ons eie werk ligter en aangenamer nie, maar ook ander sin. En, wat ons aan die minste doen, doen ons aan die Meester.


Gebed: DEUR HOFLIK IN WOORD EN DAAD TE WEES, WORD DIE LIEFDE VAN GOD IN MY WEERSPIEëL.


~ Uit Daelikse Woord ~


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God, Vader van ons Here Jesus Christus, alleen die eer!

Sunday, 3 May 2015

Onveranderlike Rots van die eeue





Onveranderlike Rots van die eeue


Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.  -  Heb. 13:8


Dit is net natuurlik dat die beeld wat ons van Jesus Christus sou hê, dié sou wees van iemand met ‘n Palestynse agtergrond uit die Romeinse goue tydperk.  Dit was in daardie tyd God se behae om Hom aan die wêreld te openbaar en van toe af reeds dink mense aan Christus in die drag en gewoontes van daardie tydperk.  Omdat ons Hom in ons gedagtes binne daardie tyd voorstel, laat ons die ewigheid en onveranderlikheid van Christus maklik uit die oog.

Hy kan slegs doeltreffend in jou lewe intree as jy Hom in die konteks van die moderne tyd en in die tydperk van jou eie bestaan beleef.  Omdat Hy “ewig” is leef Hy vandag!  Hy is kragtig in jou lewe aanwesig en Hy wag angstig om vir jou leiding te gee.

Jy mag dink dat jy in ‘n unieke tydperk leef – en in ‘n sekere sin is dit waar.  Maar die basiese probleme van die wêreld van vandag is nog presies dieselfde as toe Jesus op aarde was.

Inhaligheid, wellus, selfsug, kleinlikheid, haat en bitterheid is nog steeds magtige invloede in ons menslike bestaan.

Net soos eeue gelede kan Hy vandag nog hierdie siektes en afwykings hanteer.  Op hierdie standvastige Rots kan ons ons lewe bou!


Heilige Meester, dit gee my gemoedsrus om te weet dat U tydloos en onveranderlik is in hierdie snelveranderde wêreld.  Dankie dat ek my lewe hierop kan waag.


Solly Ozrovech  :  In die holte van God se hand


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
°˚˚° Aan God alleen die eer! ˚°°˚