Thursday, 10 March 2016

Vergewe








VERGEWE


Toe sê Jesus:  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”  -  Luk. 23:34


‘n Onwilligheid om te vergewe, dra by tot disharmonie tussen mense.  Laat ons dus onmiddelik ontslae raak van elke greintjie van onvergewensgesindheid.  Vergifnis – vir onsself en vir andere, maak ons vry om vol en ryk lewens te geniet.


Om te vergewe beteken dat ek in harmonie met Gods liefde en lig werk, wat dit wat verkeerd is, regstel, wat elke toedstand heel en elke mens weer op sy voete plaas.  As ek begryp dat elke mens maar net dit doen wat vir hom reg lyk, is dit vir my maklik om alles te los en God te laat oorneem.  Ek weet dat alles sal regkom waar Hy in beheer is.  Ek is vry van enige kommer.


Hierdie nuutgevonde vryheid is opwindend.  Die hele wêreld en alles daarin kry vir my nuwe betekenis.  Ek is vry om die seëninge wat daagliks op my uitgestort word, raak te sien, te waardeer en dankie te sê daarvoor.  Vergifnis maak my na gees, siel en liggaam vry – heerlik vry!  Ek behou hierdie vryheid as ek bereid is om steeds te vergewe en te vergeet.



Gebed:  Ek vergewe en is heerlik vry!




~ Uit Daelikse Woord ~


  Vergifnis is ‘n Keuse / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!



(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)





Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com




Tuesday, 8 March 2016

Leun op My









LEUN  OP  MY


Kom na My toe ... Ek sal julle rus gee.  -  Matt. 11:28


Die boodskap wat Ek vandag vir julle wil gee – wat julle in jul hart moet ínbrand en as stok en staf moet gebruik dwarsdeur hierdie nuwe dag en élke dag van jul lewe, is, *Leun op My*, want as julle *dit* doen, sal My krág julle dra, My líéfde julle vertroos en My líg julle lei, elke oomblik van *elke* dag!


En as julle op My leun, as julle My liefde ook die liefde in julle hart maak, is Ek in staat om andere só *deur* julle te seën.  Kyk om julle, en seën jul medemens met krag indien hulle gebroke langs die pad sit;  met liefde indien hulle eensaam en God en mens verlate voel, en met lig indien hulle die pad byster geraak het, totáál verlore in die rigtinglose paaie van ‘n lewe sonder lig.  Lig, liefde en krag, die drie diamante wat Ek julle gee – gebruik dit.  Wees ‘n seën, en julle sál geseënd wees.


My geliefde kind, onthou, dis Ek en jy – dis die vreemdeling langs die pad, dis die soekende siel.  Dis die verwarde mens.  Dis die geteisterde land en deurmekaar wêreld wat jou gebede en ons hulp so bitter nodig het.  Jy kan!  Leun net op My.  My liefde is genoeg vir jou en almal om jou!


Gebed:  Ek wil, Heer, ek wil!  Ek leun op U!




~ Uit Daelikse Woord ~



Trane in God se Fles / Facebook







Gebed - Nina Smit - Toekomsblik








Hemelse Vader,


U weet dat ek baie wonder, en soms bang is
oor wat die toekoms vir my mag inhou.
Soms wens ek dat ek net so ‘n vinnige kykie
in die toekoms kan kry.
Soms kan ek nie help om my te bekommer
oor wat vir my mag voorlê nie.
Vergewe my asseblief vir hierdie mosie van wantroue in U,
want ek weet mos reeds dat my toekoms séker is by U.
Al weet ek dalk nie vandag presies wat met my sal gebeur nie
weet ek wel dat U vir my in die toekoms sal onderneem:
dat U vir my ‘n nuwe toekoms waarborg
dat ek eendag na my dood vir áltyd by U in die hémel sal wees
en dat U daar alles vir my nuut sal maak
en vir altyd ‘n einde sal maak
aan die dinge wat vir my moeilik is hier op die aarde.
Baie dankie dat U in die toekoms vir altyd by my sal wees
dat U al die trane van my oë sal afdroog
en dat ek U dáár van aangesig tot aangesig sal sien.


Amen



Nina Smit  :  ‘n Vonk van God




God se Spierwit Klippies / Facebook



Monday, 7 March 2016

Genade en Liefde









GENADE  EN  LIEFDE


Ek het die Heer altyd voor oë ... Daarom is my hart bly en my tong  jubel.  -  Hand. 2:25,26


Ek lewe en beweeg élke dag in die genade en liefde van God – ek síén dit en ek vóél dit en ek sê dánkie vir die wonder daarvan!

In die sagte oë van almal wat vir my na aan die hart is síén ek dit.  In die kos wat ek eet en in my huis wat ‘n hawe van rus en vrede is, erváár ek dit.

In die líéfde en blydskap wat my siel laat sing, vóél ek dit.  En hóé diep word hierdie liefde nie, hoe gróót die blydskap, as ek stil word in gebed sáám met my Heer.

In die Here se genade, in Sy liefde wat gesê het, “Ek sal julle nooit begewe of verlaat nie,” lewe en bestaan ek.  Is daar ‘n gróter wonder as juis dit?  En dit is iets wat ek nie net vir mýself mag hou nie.

Ek *wíl* en *móét* dit deel met my naaste – ek wil hê hulle moet hierdie grootse liefde sien in my *oë* en hoor in my *wóórde*.  Ek wil graag *dít* wat ek in my díépste wese is, in my handel en my wandel élke dag weerspieël.  Help *Ú* my Heer, om die mens te wees wat ek in U is.


Gebed:  My hart is só bly want ek het my Heer áltyd voor oë.


~ Uit Daelikse Woord aangepas ~


  Jesus vra net liefde / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!





Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com



Gebed - Nina Smit - Hoe ouer ek word








Here Jesus,

Hoe ouer ek word, hoe vinniger vlieg die tyd verby.
Hoe duideliker besef ek hóé verganklik ek is
en hoe meer hinder dit my dat ek
dalk nie altyd Ú doel vir my lewe nagestreef
óf die dinge gedoen het waarvoor U my
spesiaal gemaak het nie.
Ek weet dat U ‘n besóndere taak aan my opgedra het en
dat die tyd wat ek nog oorhet kosbaar is
en optimaal benut behoort te word.
Ek wil dit van nou af graag aan die goeie dade wy
waarvoor U my bestem het.
Baie dankie vir gawes en talente wat ek van U ontvang het.
Help my om daardie gawes te gebruik om ‘n positiewe inset
te lewer in die lewe van mense wat swaar kry.
Wys my asseblief wat ek kan doen
om die lewe van ander mense te verryk
en maak my vol geesdrif en gewillig
om dié dinge te doen wat U van my vra.
Gee my ook asseblief genoeg liefde sodat
al my gawes daardeur
in ‘n sinvolle eenheid bymekaargehou sal word.

Amen


Nina Smit  :  ‘n Vonk van God




Senior Burgers is God se Kroonjuwele / Facebook








Saturday, 5 March 2016

Vergifnis









VERGIFINIS


Al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.  -  1 Kor. 13:2


Heer van my hart, niks wil ek tog nie wees nie!  Neem U intrek in my hart, en vul dit met Ú liefde.  Gee my ‘n hart wat stil en rustig klop in U liefde, ‘n hart wat die bron is van ál die liefde en geduld en vriendelikheid wat enigiemand naby my ooit mag nodig hê.


U liefde is geduldig, U liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, nie verwaand nie.  Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.  Dit bedék alles, gló alles, verdrá alles, vergééf alles.


En dit Heer, is wat ék begeer.  Om álles te bedek, om álles te glo, álles te hoop en te verdra – hóé wonderlik geseënd sal my lewe net nie wees as ek dit kan doen nie – hoe wonderlik geseënd sal my omgewing net nie wees as ek *dit* élke dag kan doen – en in Ú liefde, kán ek!


En nou bly geloof, hoop, liefde – hiérdie drie;  maar die gróótste hiervan is die liefde.  Dankie Vader, vir hiérdie gróótse liefde van Ú in my hart, waarop ek élke dag kan steun.


Gebed:  In Ú liefde, Heer, vergéwe ek!




~ Uit Daelikse Woord ~



  Vergifnis is ‘n Keuse / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!



(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)





Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com




Thursday, 3 March 2016

Christus in jou








CHRISTUS  IN  JOU


Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en ... jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  -  Mark. 12:30. 31


Aan jou wat ek wil seën, aan jou vir wie ek wil bid, aan jou wat ek wil help, sê ek in stilte:


“Ek sien die Christus in jou – Christus wat vertrou kan word om jou te lei op die weg wat reg is vir jou – sy weg van lig.


Ek sien sy Gees in jou, wat jou aanspoor en help, wat jou bystaan en krag gee wanneer nodig, wat jou toevou en beskerm in sy liefde, waar jy ookal mag woon of werk.


Ek sien die Christus in jou wat jou in sy krag heel en genees – ‘n hemelse krag wat jou in staat stel om op te staan en te loop, hoe erg die aanslae ookal mag wees.


Ek sien die Christus in jou wat jou in staat stel om in vrede en harmonie met ander saam te leef, omdat sy liefde in jou hart en in jou denke heers.


Ek sien die Christus in jou.  Mag jy in sy heerlikheid, liefde en lig, in staat wees om gebruik te maak van jou talente en vermoëns, want dan sal jy ‘n wenner wees!


Gebed:  Ek sien die Christus in jou.




~ Uit Daelikse Woord ~

  Koningsdogters vir Jesus / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!
  
(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)





Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com