Saturday, 16 February 2019

KOMMUNIKEER MET GOD






KOMMUNIKEER  MET  GOD
Daelikse Woord


Die Here jou God is by jou ...  Hy is stil-tevrede in Sy liefde. 
- Sef. 3:17


Wanneer ek stil word in gebed, binne-in my diepste heiligdom van krag, kommunikeer ek met God.  Dit is in hierdie stil-tevrede tye wanneer ek ópnuut bewus word van Sy liefde ín my en óm my.
Terwyl ek praat, luister Hy, en as ek luister, lei Hy my.  Élke keer wanneer ek bid word ek opnúút gevul met lig, met liefde en krag, en die vreugde, wysheid, geloof en vrede wat daarmee gepaard gaan.  Ek besef hóé belangrik dit vir my is om gereeld te bid, daarom sonder ek élke dag 'n tyd daarvoor af.
Ek bid in stilte of ek bid hardop;  ek sing my gebede;  ek bid met woorde of sonder woorde;  ek bid deur vir God briewe te skryf, ek bid saam met mense of ek bid alleen.  My gebedstyd is nie in 'n vaste vorm gegiet nie.  Ek kan énige tyd, op énige plek, vir 'n oomblik of twee vinnig met my Heer kommunikeer in gebed.
Ek luister, maar terwyl ek wag op Sy antwoord, besef ek dat daar báíe maniere is waarop God met my praat.  Ek hou my oë en my ore wyd-óóp, en volg die leiding wat Hy my bied deur Sy Heilige Gees in my.


Gebed:  Dánkie Heer, vir U stil-tevrede liefde.  Ek is líéf vir Ú Here!!   Amen.


Geplaas deur:  Koningsdogters- en Seuns vir JESUS / Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!






 

Sunday, 10 February 2019

DIE DAG






DIE  DAG
Daelikse Woord 


Dit is die dag wat die HERE gemaak het.  -  Ps. 118:24


Watter soort dag sal vandag wees?  Die antwoord op hierdie vraag hang van mý af:


'n Gelukkige dag, want dit is die dag wat die HERE vir my gemaak het, my oë laat oopgaan het vanoggend en my laat asemhaal.

'n Dag waarop ek na binne reik en tyd máák om stil te wees sodat ek bewus kan word van my eenheid met GOD, en Sy nabyheid kan aanvoel.

'n Dag waarop ek na buitentoe uitreik na almal om my, in 'n gees van liefde, eenheid en begrip.

'n Dag van weet dat GOD in bevel is, dat Sý liefde my omring en omvou, en dat Sy lig en wysheid my die regte pad aanwys.

'n Dag van geloof, lof en dank.

'n Dag van krag, gesondheid en voorspoed, 'n dag om goedheid van alle kante te ontvang.
Watter soort dag sal vandag wees ... ??

Hemelse Vader, ek dank U dat vándag 'n dag is om vréúgdevol, vry, gelukkig en liefdevol te léwe;  'n dag om te deel en om te onthóú en te weet dat U mý Skepper en die Skepper van die hele wêreld en ál Sy mense is en U ons álmal liefhet.


*** Dit is die dag wat die HERE gemaak het - Op Ú Heer, leun ek op my pad van lig! ***


Geplaas deur:  Koningsdogters- en Seuns vir JESUS / Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!




 


Sunday, 23 December 2018

ONS IS GENOOI!







Ons is genooi 
deur Stephan Joubert

Wat ‘n geboorteplek vir die heelal se Heer! Ek praat van daardie eenvoudige voerbak vir diere waarin Hy grondgeraak het hier tussen ons! En wat ‘n feestelike ontvangs! Ek praat van die herders wat daardie nag opgedaag het as eregaste kort na Jesus se geboorte. Nee, herders was in daardie tyd lankal nie meer helde soos in die tyd van koning Dawid nie. Hulle was toe as so onbetroubaar beskou dat hulle nie eens in ‘n Joodse hof as getuies toegelaat sou word nie. Nogtans verskyn hulle name heel bo aan God se uitnodigingslys na sy Kind se feestelike aankoms hier in ons wêreld. Hule is genooides na die nederige aankoms-saal van Jesus hier op aarde. Jy en ek ook. Saam met die herders is ons ook aanhoorders van die engele se feesmusiek daar bokant Betlehem. Dit vertel dat God se vrede uiteindelik hier op aarde gewen het. En dat redding vir die wêreld aangebreek het. Jesus het gekom. Hy het aangeland. Hoop wen. Hemelse vrede triomfeer, ook al moor mense mekaar uit en al skakel almal alle hoop af. Kom sing saam. Daar’s hoop! Die voordeur na God se nuwe wêreld staan wawyd oop. Jesus het dit vir jou en my kom oopmaak. Ons kan saam met Hom feesvier. Ons kan saam met die engele sing: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy groot geluk en blydskap vind.”



 




WEES 'N STER







WEES  'N  STER
deur Martha Smock


Elke keer as daar 'n kindjie gebore word, is dit so asof hy net die tyd afgewag het om op die verhoog te verskyn, om 'n ster te wees en sy rol te speel in die spel wat die lewe genoem word.
Het jy al jóú plek op die verhoog gevind, is jy al 'n ster of wag jy nog jou beurt af?  Toe  JESUS in die wêreld gekom het, is daar 'n Ster gebore.  JESUS het Sy rol geken, maar miskien weet jy nog nie wat jou rol is nie, miskien soek jy nog jou plek, betekenis en doel in die lewe ...
Wat is 'n ster?  Dit is 'n lig-gewer.  Om jou rol op die verhoog van die lewe te speel, moet jy 'n liggewer wees.  Nie almal kan 'n ster in 'n toneelstuk wees nie, maar ons kan almal 'n ster in ons eie omgewing wees, ons kan almal lig-gewers wees.
Jy sê miskien: "Ek is onbelangrik, eintlik niks om oor huistoe te skryf nie en boonop sonder enige noemenswaardige talente", maar dit verhoed jou nóg nie om 'n ster in jou éie kringetjie te wees nie en jy kan 'n ster in iemand ánders se hemelruim wees, deur jou lig van geloof ómhoog te hou.
Dalk voel jy dat jou lig nader aan 'n kers is as 'n ster, maar dis ook waar dat die gróótste duisternis in die wêreld nie die kléinste kersie se liggie kan doof nie.  Dis ook waar dat één klein kersie báie ander kerse aan die brand kan steek sonder om self dood te gaan.
Laat *jóú* liggie dus helder skyn vir JESUS of dit nou gloei soos 'n helder ster of soos die klein vlammetjie van 'n kersie.  Élke lig-gewertjie is *só* belangrik vir JESUS, want óral is daar mensies wat ons liggies nódig het om húlle pad te verlig, op pad na die Hemelhuis.


Geplaas deur:  Kersfees Elke Dag / Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!