Tuesday, 10 January 2012





GODS ORDE


God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd. – Pred. 3:11


God het ‘n heelal van oneindige skoonheid en orde geskep. Blomme en bome, mere en strome, wolke en sterre – al hierdie skoonheid en orde in ons wêreld is ‘n rede om fees te vier.  Die orde van God is duidelik in die natuur, en ons verheug ons in die wondere van die wêreld om ons.

Ons geniet die harmonie en skoonheid om ons.  Die kleurryke sonsondergange en ontelbare skitterende sterre in die hemelruim vul ons met diepe ootmoed.  Maar ons is ook nie minder waarderend teenoor die skoonheid en orde van die mensekind nie.  Die liefde wat ons deel met andere, die vriendelikheid en begrip wat ons ondervind waar ons ookal mag gaan, die waardering vir die liefde van God wat ons saambind as broers en susters – al hierdie dinge herinner ons steeds aan die harmonie en skoonheid in ons en in andere.

Ons besef dat ons geseënd, nodig en geliefd is – want ons het ‘n belangrike rol om te speel in die harmonie van die wêreld.


Gebed:  Dankie, Heer, vir die orde in my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 8 January 2012




Genade het my gesoek

Genade het my gevind

Genade het my staande gehou

Genade het vir my gesorg

Genade het my gedra

Genade het my geroep

Genade het my geleer:

Ware liefde is – genade.







GELOOF

Jesus sê toe vir hulle:  “Julle moet geloof in God hê!”
Mark. 11:22

          Hemelse God en Vader, hoe kan ek ooit nie in U glo nie – U die Skepper van die grootse heelal, so wonderlik en asemrowend mooi.
          En Heer, vir U troue sorg en liefde is ek so innig dankbaar.  Die grootsheid van U liefde laat my stom wanneer die warm strale van die son op ‘n koue dag deur die uitgestrekte hemelruim my gesig liggies aanraak.  En wanneer ‘n kind uit pure vreugde en liefde sy hande na my uitstrek, besef ek nog meer hoe groot U liefde vir my werklik is, en my geloof in U neem steeds toe.
        Hoe meer ek kyk na die wonder van U skepping om my, hoe meer ek U teenwoordiheid in my en om my begin ontdek en raaksien, hoe beter verstaan ek dit wat U vir my sê met die woorde:  “Kyk, Ek is met jou.  My koninkryk is binne-in jou.”
        Dankie Vader, vir U, en dankie vir U liefde, U grootse wysheid en intelligensie so duidelik sigbaar in die gang van die son en die sterre, en in elke saadjie wat ontkiem.
Gebed:  In U, Heer, glo ek!

~ Uit Daelikse Woord ~






DIE ANTWOORD


Roep My aan, Ek sal jou antwoord.  -  Jer. 33:3


Ja, My geliefde kind van die Lig, Ek het jou oproep gister gehoor, en vandag gee Ek vir jou ‘n baie spesiale besem wat ek gelaai het met My Lig, My Liefde en My Krag, en al die seëninge van ons Hemelse Winkel.  Vat nou hierdie besem en vee al die spinnerakke, al die stof en versperrings in jou brein daarmee uit, en Ek sal weer jou denke helder verlig.

Vee die kommer, sorge en wrewel in jou hart uit.  My liefde sal oorneem, en jou hart sal ‘n hart word vol liefde en mense-deernis so ver jy gaan.

Vee al die vrese en twyfel en gevoel van swakheid uit jou gemoed, en my krag sal oorneem en jou weer op jou voete plaas – jy sal ‘n wenner wees!

Bêre nou hierdie besem op ‘n plek waar jy dit nooit kan miskyk nie.  Gebruik dit, en jy sal saam met My veilig en vrolik kan voortgaan met jou lewe so skoon en rein, altyd gereed om te gee wat jy kan en het om te gee, op hierdie tyd en op hierdie plek.


Gebed:  Dankie, Heer, vir die wonderbesem wat gebed is.


~ Uit Daelikse Woord ~


Thursday, 5 January 2012




LAAT LOS


Julle gees en gedagtes moet nuut word;  lewe as nuwe mense.  
Ef. 4:23-24


Enige tyd is reg om dankie te sê vir geestelike hernuwing.  Net soos bloeisels in al hul prag en skoonheid uit die doppe wat hulle gebonde gehou het, uitbars, so is ek ook vry om alles wat my gebonde gehou het in die verlede te los.

En as ek laat los en God laat oorneem, word ek bewus van die grootsheid van Sy polsende lewe in my en om my.  Ek aanskou die wonder van die ontluikende natuur, en word een met die wonder van Gods liefde en krag.

My denke is suiwer en skoon, want ek is vry van alle wrewel en onaangename herinneringe van die verlede.  Gods liefde vul nou die plek daarvan, en enige gedagte wat nog ‘n greintjie van twyfel in my gemoed wil saai, wis Hy onmiddelik uit.  Ek is rustig en ontspanne, bekommer my nie oor die toekoms nie, en is nie bang vir dit wat voor my lê nie.

Met nuwe oorgawe los ek alles wat my aangaan in God s bekwame hande, en is is heerlik, gelukkig en vry!


Gebed:  Ek laat los en laat God alles hanteer!


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 4 January 2012




Jou Altyd-by-jou-God

Die Feesvier-dae, familiebyeenkomste en rustyd het saam met die laaste 2011-brander weggesypel en 2012 lê uitgetrek voor ons. Natuurlik sou dit lekker wees om nog so ‘n paar sorgvrye dae in ons tasse te pak sodat ons dit deur die jaar weer kan gebruik. Ons sou ook graag die vrede wat ons in hierdie tyd mekaar toegewens het in ons strandhanddoeke wil toedraai sodat ons dit deur die jaar weer op ons harte kon strooi. En dan wens ons heimlik dat wáre seën werklik vanjaar ons deel sal wees. Want saam met die opwinding en uitdagings van ‘n nuwe jaar, lê daar tog maar onsekerheid en vrees oor die onbekende.

Kom ons pak 2012 aan met moed, verwagting en die stille wete dat ons ‘n Verlosser het wat gekom het om ewige vrede te bring, dat ons ‘n Vader het wat vir ons wíl en sál sorg en dat sy Gees hier en nou ín ons is. En tot in ewigheid by ons sal bly. Kom ons word vir ‘n oomblik stil by die Een wat ons lewensreis ken, lank reeds ons pad vir ons beplan het, ons eindbestemming voorberei het en ons so graag ook in hierdie jaar met sy goedheid en teenwoordigheid wil bederf...


Here, dankie vir u geskenk van donskombers-vrede 
wat ek in hierdie dae kon ontvang. 
Dankie dat ek weer daaraan herinner kon word 
dat U Mens kom word het 
sodat ek u koningskind kan wees

Dankie vir die gawe van u oorloop-liefde 
wat U elke dag aan my wil uitdeel en 
dat u Woord en Gees my elke dag 
daaraan wil herinner 
dat ek u geliefde is.

Dankie Here, vir die kosbaarheid 
van u altyd-se-bý-my-wees. 
Help my om te onthou 
dat U nooit u verbintenis met my sal verbreek nie 
omdat ek u uitgesoekte bruid is.

Vanjaar wil ek vashou aan 
u onwankelbare beloftes van trou, 
die waarheid van u Woord, 
en die wonder dat U my elke dag 
wíl seën.

Ek wil nie die 2012-pad sonder u loop nie, Here! 
As ek dalk soms van U vergeet ... 
sal U asseblief dan aan my hart se deur klop 
en my net weer kom herinner aan die 
sagtheid van vrede, 
die onvoorwaardelikheid van u liefde 
en die sekerheid dat U, my Bruidegom, 
altyd by my ís?




MY GAWE


Ons dank God vir Sy onuitspreeklike gawe.   2 Kor. 9:15


Die grootste gawe wat ‘n mens kan ontvang, is die gawe van Gods Heilige Gees.  Hierdie gawe is aan elkeen van ons gegee.

Die gawe van Gods Heilige Gees is die gawe van die lewe self.  “Die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus.”  Laat ons die gawe van die lewe aanvaar – lewe wat genees en vernuwe, lewe wat deur ons vloei as ‘n magtige helende stroom.

“Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.”  Ons het elkeen sy eie spesiale gawe van God wat ons uniek maak.  Laat ons hierdie gawe gebruik want ons dra by tot die welsyn en die geluk van ander sowel as tot ons eie innerlike geluk en welbehawe as ons ons God-gegewe gawes gebruik.

“Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie.”  “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het … soos ‘n vuur moet aanblaas.”

Daar lê groot kragte en moontlikhede in ons want ons het die gawe van Gods Heilige Gees.


Gebed:  Dankie Heer, vir U onuitspreeklike gawe.


~ Uit Daelikse Woord ~