Wednesday, 9 January 2013





DIE  MOONTLIKE  DROOM

Vir die een wat glo, kan alles.  -  Mark. 9:23

As dit wat ek in gedagte het soms heeltemal buite my bereik skyn te wees, weier ek om moedeloos te word.  Ek het immers tog al ver gekom in die lewe.

Sommige mense mag my ‘n dromer noem, maar nou dat ek ‘n pad van lig bewandel, het ek al geleer dat ‘n mens se drome en hoop tog bewaarheid word.  En dit, weet ek, is moontlik omdat ek tot alles in staat is deur Christus wat in my woon!

EK DINK EK KAN!   As ek vir my ‘n doelwit  daarstel, dank ek heel eerste my Heer, want dit is Hy wat my die visie en insig gee om die moontlikhede wat voor my lê, raak te sien.

EK WEET EK KAN!   Die vertroue wat ek in my eie vermoëns om die doel wat ek voor oë het, te bereik, is gegrond op my geloof in Gods wysheid en krag altyd daar vir my.

EK KAN DIT DOEN!   Daar is ‘n ou gesegde wat sê dat die reis van ‘n duisend myl met een enkele tree begin, en met dié doelwit wat ek vir myself daargestel het, het ek die eerste tree geneem!

Gebed:  Ek glo, en ek  KAN  ALLES in JESUS!!

~ Uit Daelikse Woord ~






Tuesday, 8 January 2013





EK HOOR!

Die koninkryk van God is ‘n saak van krag.  -  1 Kor. 4:20

Die koninkryk van God ‘n saak van krag – dit hoor ek, en dit is my krag en my sterkte, want hierdie wonder-koninkryk is mos binne-in my!

Weet  U, dierbare Heer, vandat U my hart oorgeneem het, leef ek in ‘n wêreld van wonder-werke – die wonder van U werke wat ek elke dag sien en hoor en oor jubel en juig en dankie sê!  U het vir my gevra om op te staan in die krag van my Ware Self – en ek kan en ek sal, want U is my krag en my sterkte – en Ware Self!

U het gevra dat ek my lig helder moet laat skyn, en ek kan en ek sal, want U is my lig, U is my krag en my sterkte wat hierdie lig so helder laat skyn in my en deur my!

Dierbare Heer van my hart!  Ek het mooi geluister – ek het gehoor wat U vir my sê, en in U krag en U sterkte kan ek vandag en elke dag hierna, alles doen en wees wat U van my verwag!

Gebed:  Ek staan op en is ‘n wenner  in U nimmereindigende krag!

~ Uit Daelikse Woord ~










EEN MET GOD

Ons sal … in alle opsigte groei na Christus toe.  -  Ef.  4:15

‘n Sakeman is gevra waarom hy ‘n vakansiedorp in die stilte van die winter besoek het.   Hy het geantwoord: “Ek het gekom om my houding aan te pas.”

Sonder nou tyd af om jou houding aan te pas – om te groei na die Here Jesus Christus toe.

Maak jou oë oop vir alles wat mooi is.  Sonder ‘n oomblik af om van naby na die eenvoudigste blommetjie te kyk, jou te verluister na die minnelied van hadeda voëls in die vroegaand, tel ‘n skulp op en luister weer ‘n slag na die “gedruis van die see”.  Kom in harmonie met die gedreun van die golwe, die gezoem van die bye en die skaterlag van kinders. Gaan sit op die sypaadjie, trek jou skoene uit en hou jou voete in die koel water – nooi iemand wat verbystap om dieselfde te doen en met jou te kom sit en gesels!

Sien die goeie in jou buurman, in sy glimlag; sien sy vriendelikheid, sy liefde vir sy gesin.  Sien die goeie in almal, want almal het goeie kwaliteite – ons is almal geskape deur ‘n Volmaakte Hemelse Vader!  Soek in jou gedagtes na woorde van liefde en goedheid, en gebruik hulle om jou familie en vriende en kennisse te seën, sommer ook die verflenterde werklose man of vrou langs die pad – daar is baie van hulle as ons net kyk met oë wat sien!

Bid en ontvang die waarheid wat in die stilte aan jou openbaar word.  Besef dat jy één is met álles wat goed is, wat waar is, wat mooi is in die heelal, want ons is almal verbind met mekaar deur een Skepper God en een met Hom.  Jy lewe ín Hom en Hy lewe in jou!

Gebed:  Ek kyk, ek sien, en is één met God!




Saturday, 5 January 2013





GELOOF


As julle maar geloof  het so groot soos ‘n mosterdsaadjie.  -  Matt.  17:20


Ons bid, ons vra, en dan móét ons glo, al is ons geloof net so groot soos ‘n mosterdsaadjie.  Dit het Jesus tog gesê.  Nou wáár ís ons geloof dan?  Waar is die berg wat ons kan versit?

Diep binne-in ons hart is dalk so ‘n berg.  ‘n Berg waarvan net ons en ons eie innerlike Christus-self weet.  Is daar dan ‘n beter manier om hierdie berg te oorkom as met die hulp van Hom wat in ons woon en presies weet waaroor alles gaan?  En as ons dan alles in Sy hande gelaat het, en glo in Sy werke daar in die stilte waar ons mense-oë nie kan sien nie, en onwríkbaar glo tot die geloof ‘n seker wete word, dan sál die berg wegskuif – ons sál weer vry kan asemhaal!

Dierbare Heer van my hart – net U weet van die probleem – U weet van hierdie berg wat ek moet oorkom – U ken my só goed, en weet ook presies wat vir my en my geliefdes die beste oplossing sal wees.  Kom, dierbare Heer, híér is die probleem.  Ek plaas dit nou in U Vaderhande en ek sê byvoorbaat  báie dankie want ek wéét, waar U werk, dáár word berge verskuif!


Gebed:  In U Heer, én die wonder van U werke, glo ek met my héle hart, siel en verstand!


~ Uit Daelikse Woord ~









LEIDING


Ek sal altyd op Hom vertrou –  Hebr.  2:13


Stil en rustig is my gedagtes, vrede vul my gemoed, want ek het vanoggend stil geword en my vertroue op my Dierbare Heer gestel.  Hy het my hand saggies gevat, en vol moed en vertroue begin ek hierdie nuwe dag saam met Hom.  Hy lei my, Hy onderrig my, Hy praat met my!  Diep in my diepste binneste hoor ek Sy stem – só sag en só teer.  “Ek is die lig en die waarheid en die lewe.  Wandel in My lig vandag en Ek sal jou lei in wat wát ookal vandag jou pad mag kruis.  In My lig, My liefde en My krag het jy gekom tot hier, en Ek sal stééds daar wees vir jou só ver jy gaan!”

Met nuwe oë kyk ek nou na my hele lewe, en ek sien hoe alles altyd vir my ten goede meegewerk het, en my gebring het tot waar ek vandag in is.  Met die wonder van soveel Lig en Krag deur heel my lewe heen, word my geloof in God en die wonder van Sy werke ín my en déúr my al hoe stérker en stérker.  Sonder die geríngste twyfel of vrese, vol vertroue in die wonder van Sy werke, volg ek hierdie dag en elke dag Sy Lig en leiding, en dit is gaan goed met my hele menswees.


Gebed:  Op U stel ek AL my vertroue, Dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 4 January 2013





SOEK JY NA MY

Soek jy na My?   Ek is hier!
Jy kan my nie sien nie, en tog is Ek die lig waarby jy sien.
Jy kan my nie hoor nie, en tog spreek Ek deur jou stem.
Jy kan My nie voel nie, en tog is Ek die krag in jou hande.
Ek is besig om te lei, al verstaan jy nie My weë nie.
Ek is besig om te werk, al herken jy nie My werke nie.
Ek is nie vreemde visioene nie.  Ek is geen misterie nie.
Net ‘n absolute stilte, waar die eie ek nie meer bestaan nie, sal jy My ken soos Ek  is, en selfs dan sal dit net ‘n gewaarwording en geloof wees.
Tog is Ek hier.  Ek hoor.  Ek antwoord.
As jy My nodig het, Ek is hier.
Selfs al ontken jy My, is Ek hier.
As jy eensaam en allenig is, is Ek hier.
As jy bang is, is Ek hier.
As jy in pyn is, is Ek hier.
Ek is hier wanneer jy bid, en selfs wanneer jy nie bid nie.
Ek is in jou, en jy is in My.
Al slaag jy nie daarin om My te vind nie, Ek sal jou nooit faal nie.
Al is jou geloof in My nóg só klein, My geloof in jou wankel nooit nie, want … Ek ken jou, en Ek het jou lief.
Geliefde, hier is Ek!

~ James Dillet Freeman ~

Gebed:  Ek is hier, sê U!   Dankie, dankie Heer van my hart!





Thursday, 3 January 2013






HELING

Julle gees en gedagtes moet nuut word;  lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskape is.  Ef. 4:23-24

Wat beteken dit om nuut te word?  Dit beteken om in elke opsig ‘n nuwe mens te word, na gees, siel en liggaam.  Dit beteken om deur die lewenskrag van God omskep te word in ‘n nuwe mens – om Sy lig, liefde en krag wondere te laat verrig in elke sel, elke orgaan, in my denke en in my liggaam.

Ek is ‘n kosbare kind van God, geskape deur Hom na Sy beeld, en ek lê nie hierdie grootse waarheid aan bande deur aandag te gee aan simptome of omstandighede nie.  Alle pyn, alle ongerief, dra ek in gebed op aan Hom.  Ek sien Sy lig helder in en deur my skyn, en my liggaam word, omskep in ‘n stralende tempel van lig.

In hierdie proses omvou my hele lewe in harmonie met Gods wil.  En sou genesing nie onmiddellik kom nie, sien ek dit as net nog ‘n tree op my lewensweg volgens God se wil, wat my al hoe nader na Gods troon toe lei.  My ongemak word omskep in ‘n trap van lig op my pad van lig.  Stadigaan sal ek al hoe beter voel – ek sal al hoe gelukkiger word – ‘n stralende kind van die lig, genees deur Gods nimmereindigende krag volgens sy plan en tyd!

Gebed: Gods lewenskrag hernu my!

~ Uit Daelikse Woord ~