Saturday, 14 September 2013
Friday, 6 September 2013
REGVERDIGHEID
Maar laat die
reg en geregtigheid te voorskyn kom.
- Amos 5:24
Glo ek dat
dit nie reg is dat een of ander iets wat ek begeer, van my weerhou word
nie? Glo ek dat iets of iemand in my pad
staan en alles vertraag?
Vandag
herinner ek my daaraan dat niks enige seën wat my toekom, van my kan weerhou
nie. Op ‘n natuurlike manier sal dit op
die regte tyd na my toe kom. Ek glo in
die reg en geregtigheid van God en koester geen gedagtes wat betrekking het op
onregverdigheid nie.
Ek glo dat
God dít wat tot my hoogste heil is, my lewe inbring. En elke ervaring wat ek mag deurgaan skuil ‘n
bedekte seën, en alles dra by tot my geestelike groei.
Ontslae van
enige gedagte aan onregverdigheid, vind ek rus vir my siel. Ek seën alles en almal in my lewe, en blymoedig
gaan ek voort op my pad van lig saam met my Ligvriende, want ek weet dit wat
tot my hoogste heil strek, sal op die regte tyd, op die regte manier, my lewe
binnekom.
Gebed: Die regverdigheid van God heers in my lewe.
~ Uit Daelikse Woord ~
Wednesday, 4 September 2013
LAAT LOS LAAT GOD
Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou
voornemens geluk.
Spr. 16:3
Miskien is die laaste ding wat ons wil doen om tou op
te gooi teenoor enigiets of mens waarby ons betrokke is. Maar ons ywer om iets te laat slaag, of om ‘n
persoon te help, kan ons geestelik, emosioneel of fisies totaal uitput. Ons kan so vasberade wees om nie tou op te
gooi nie, dat ons later skoon by die rede van ons oorspronklike betrokkenheid
verbykyk ....
As ons egter nou erken dat ons slegs teenoor God
rekenskap moet gee, sal ons besef dat dit nie ‘n teken van swakheid is om iets
te los nie. Dit is slegs ‘n manier
waarop ons ontslae raak van ons eie idee van hoe iets gedoen of nie gedoen moet
word nie, en alles in Gods hande laat.
Ons glo dat Hy sal toesien dat net die beste sal gebeur, vir ons en vir
almal by die saak betrokke.
*Laat los laat God* beteken om ons
gedagtes, ons dade en planne in Gods hande te plaas, en met Hom saam te
werk. *Laat los laat God* beteken om ons lewens volgens Sy
volmaakte plan vir ons te laat omvou en ons eie plan te laat vaar.
Gebed: Ek *Laat
los laat God* oorneem.
~ Uit Daelikse Woord ~
Wednesday, 28 August 2013
LAAT LOS, LAAT GOD
Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir
julle.
1 Petr. 5:7
Dit is soms bitter moeilik om orde in ‘n
probleem-situasie te sien. Wanneer ek
egter daarin slaag om God in beheer te plaas, is dit nie so moeilik nie en dit
is vir my moontlik om sy orde raak te sien in selfs die mees ongewone
omstandighede.
Ek laat los. Ek
laat los alle kommer en laat ook nie toe dat die kommer van andere my ontstig
nie. Ek laat los herinneringe wat dit
vir my moeilik maak om te vergewe. Ek
laat los die drang om die blaam op myself of iemand anders te plaas.
Ek laat God. Ek
laat Sy lig in my denke en Sy liefde in my hart die werk doen, want waar lig
is, en liefde, daar heers harmonie en vrede.
Niemand en niks kan dan die harmonie tussen my en my medemens versteur
nie, en elke dag is ryk aan seëninge.
Dit is wanneer ek laat los en God toelaat om oor te
neem, wat Sy lig helder in en deur my skyn, op alles en almal om my. Ek weet dat alles wat met my mag gebeur,
slegs bydra tot my geestelike groei as ek dit reg benader. Sy wil is altyd tot my hoogste heil.
Gebed: Ek laat los en laat God.
~ Uit Daelikse Woord ~
Saturday, 24 August 2013
VASTE GELOOF
En
die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike
rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
Jak. 1:4
Soms wanneer dit voel asof my hele lewe om my in flarde
lê, is al wat my staande hou my geloof.
My geloof is in God en in Sy almag, waarteen geen duisternis
ooit staande kan bly nie.
My geloof is in God en Sy geregtigheid, wat sal toesien
dat niks wat myne is van my af weggeneem kan word nie.
My geloof is in God en Sy lewegewende krag wat enige
ongesteldheid na liggaam of gees kan en sal genees.
My geloof is in God en Sy liefde wat altyd vir my sê
"Ek is hier", hoe alleen en verlate ek ookal mag voel.
My vaste geloof laat my rus in Sy ewige arms wat altyd
onder my is om my te onderskraag.
Gebed: Ek glo in God en in Sy almag.
~
Uit Daelikse Woord ~
Wednesday, 14 August 2013
GOD MET MY
Vir my help God altyd, die Here hou my lewe in
stand. -
Ps. 54:6
Heer, U is nou hier met my – hóé waardeer ek net nie
die teenwoordigheid van U teenwoordigheid nie!
Wat ookal die uitdaging wat ek moet deurgaan, U is met my. Niks kan tussen ons kom staan nie – niks kan
my laat twyfel aan U liefde, krag en lig in my en om my nie!
Elke las word ligter, elke dag skyn helderder, elke
verpligting word makliker, want ek weet U staan hier langs my.
U vra nooit dat ek my optrede moet verduidelik nie, of
dat ek moet verskoning maak vir iets wat ek gedoen het of nie gedoen het
nie. U vra net dat ek U hand moet vat,
dat ek my ou inperkende en uitgediende manier van lewe moet agterlaat en saam
met u ‘n nuwe toekoms moet binnegaan – ‘n toekoms baie ryker en meer vervullend
as dit wat ek agterlaat.
Dankie dat U altyd met my is, altyd besig om my te
lei, te ondersteun en na my om te sien.
In U liefde voel ek veilig en beskermd.
U Heer, hou my lewe in stand – vandag, móre en elke dag.
Gebed: U Heer, hou my lewe in stand!
~ Uit Daelikse Woord ~
Subscribe to:
Posts (Atom)




