Tuesday, 31 December 2013




GELOOF 


Vertrou volkome op die Here. – Spr. 3:5 


Heer, of dit nou goed gaan met my, of sleg, ek weet U is áltyd daar vir my! Ek gló dit en ek wéét dit, want hoé baie kere het U my nie al bygestaan deur al die op en af tye in my lewe nie! 


Dánkie Heer, vir U lig en leiding elke liewe dag – dankie dat ek kan wandel in Ú lig. 

Dánkie Heer, vir die vrede in my gemoed – vrede gebore uit U liefde in my hart. In U liefde Heer, voel ek beskermd en veilig. 

Dánkie Heer, vir die kosbare mense in my lewe. Help my Heer, om altyd vir hulle tot seën te kan wees, soos hulle ook vir mý tot seën is. 

Dánkie Heer, vir die lug wat ek kan inasem en wat my aan die lewe hou – dankie vir voedsame kos wat ek kan eet. Klere om aan te trek en ‘n plek om te woon. 

Dánkie Heer, vir U lig waarin ek elke dag kan wandel saam met my Ligvriendekring – dankie vir U liefde waarin ek kan handel en vir U krag waarin ek sterk en vol moed kan voortgaan. 

Die heel gróótste dankie wat ek U kan gee, Heer, is my liefde en geloof in U, en dit gee ek vandag met my héle hart! 


Gebed: Dánkie, Vader! 


~ Uit Daelikse Woord ~



Saturday, 14 December 2013





HIERDIE DAG

Dit is die dag wat die Here gemaak het.  -  Ps. 118:24

Dit is enige maand van die jaar ‘n goeie plan om een dag op ‘n keer te lewe en een treetjie op ‘n keer te neem, maar dit is veral gedurende die maand Desember ‘n uitstekende plan om dit te doen.

Ons wil nie graag die gevoel kry van haas en spanning nie en ons wil ook nie voel dat ons moet jaag om dinge gedaan te kry nie.  Dit is ook nie nodig dat ons so voel nie.

Een dag op ‘n keer en een treetjie op ‘n keer.  Met Gods hulp doen ons vandag dit wat belangrik is.  Ons neem een treetjie op ‘n keer en ons bereik ons doelstellings  en mikpunte vir hierdie een dag.  Dit gee vir ons ‘n gevoel van vrede, van verfrissing, hernuwing en entoesiasme.

Laat ons elke dag geniet en laat ons elke dag tel – tel as ‘n dag waar ons iets bereik het, tel as ‘n dag van vrede, tel as ‘n dag waarop ons iets kan bydra tot die welsyn en geluk van ander.

Maar mees belangrikste om ons Heer, wat hierdie dag aan ons genadiglik geskenk het, se hart te verbly hierdie dag!



~ Uit Daelikse Woord ~




EEN MET GOD

Die Here is naby almal wat Hom aanroep.  -  Ps. 145:18

Is daar een mens wat nie daarna smag om altyd na-aan God te voel nie – altyd veilig gekoester in Sy liefde en lig nie?  Die waarheid is dat ons nooit geskei is van hierdie hemelse Teenwoordigheid nie.  As ons alleen, bevrees en verlate voel, is dit maar net ons wat self die muur tussen ons en die Heer van ons hart gebou het.

En hoe maklik is dit nie om hierdie muur af te breek nie!  Hoe maklik is dit nie om stil, in gebed, ons diepste heiligdom binne te gaan en Hom daar te vind nie .... “Heer van my hart, U liefde maak my hart tot oorlopens toe vol – ek weet dit, ek voel dit, en my siel sing van vreugde oor die grootse wonder van U teenwoordigheid wat my so sag en liefderik toevou en omvou.  U ken my verlangens, my drome en my behoeftes.  Ek plaas alles nou in U bekwame hande, en in stilte luister ek sodat ek kan weet wat U wonderlike wil vir my is.  In my tye van gebed beweeg ek elke dag al hoe nader aan U, o Heer.  Hoe heerlik om so een te word met U lig, U liefde en krag!  Dankie, dierbare Hemelvader!”

Gebed:  Dankie Heer, dat U altyd so na aan my is!

~ Uit Daelikse Woord ~

Thursday, 12 December 2013





VOL  VERTROUE

Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie:  dit hou groot beloning in.  -  Hebr. 10:35

Hoé heerlik die wete dat my Heer vandag hand aan hand met my saamstap.  Dat Hy my in Sy lig deur álles heen lei wat vandag ookal met my mag gebeur. 

As onmin sy kop uitsteek tussen my en ‘n geliefde, ‘n medewerker, of selfs ‘n vreemdeling, bly ek kalm.  Ek weet dat lig-gedagtes opgevolg word deur woorde en dade wat orde en harmonie herstel.

Nooit, vir géén oomblik, verloor ek my vertroue in God en in Sy lig wat so helder in my en om my skyn nie.

Waar ek ookal is, wat ek ookal doen, en wat ookal met my mag gebeur, ek hou my oë op Sý lig gevestig, ek hou my hart oop vir Sý liefde, en ek bly gereed om in Sý krag die oorwinnaar te wees oor my emosies, my vrese en my twyfel.  Met my drie diamante is ek ‘n wenner!

Hoe gróót die beloning en hoe héérlik om so vol vertroue voort te kan gaan op Gods pad van lig wat so helder voor my en al my Ligvriende uitgestrek lê!  Dankie Heer, vir my drie helder stralende diamante!

Gebed:  Ek bly kalm en vol vertroue.


~ Uit Daelikse Woord ~

Sunday, 1 December 2013





DANKIE VADER!


Dank Hom, prys sy naam. – Ps. 100:4


Dankie vir hierdie skone môre, dankie vir hierdie sonskyndag – dankie vir hierdie wonderpad vandag so saam met U!  ... kom, sing saam liewe mensies, maak jul eie woorde en sing die héle dag deur, want al sing ons ons danklied dwarsdeur die dag en in die nag, dan skiet dit nog vér te kort in die dank wat ons vandag aan ons Heer wil oordra!

Dierbare Heer van my hart, ek weet U hoor my lied, ek weet U verstaan dat dit gevul is met lof en waardering vir hierdie mooie dag, en al die mense wat my dag sal vul.

Vir hierdie liggaam waarin ek lewe en beweeg, Heer, my diepste diepste dank – vir U Lig wat elke sel en atoom van my liggaam deurstraal, en my gesond en sterk genoeg maak om U te dien en eer, en Lig en Liefde oor te dra aan elkeen wat my pad mag kruis, met diepste, diepste dank.

Dankie Vader, vir ons Ligvriendekring waarvan ek deel mag wees – met wie ek kan saambid, saamsing en saamwerk en dankie sê!  Dankie, Heer, vir die harmonie wat U is in my!


Gebed:  Dankie Vader, vir die wonder van U in my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 30 November 2013





WONDER


Dit was die wil van die Vader om die koninkryk aan julle te gee.  -  Luk. 12:32


Die koninkryk wat ons dierbare Vader aan ons gee, maak die lewe ‘n wonder.  Dit is Sy lewe waarin ons lewe en bestaan wat ons van die nodige energie en krag voorsien.  Dit is Sy lewe wat heling bring.  Dit seën ons met liefde, vreugde, vrede, orde en alles wat mooi en goed is, as ons dit maar net wil aanvaar en waardeer.

Is ons miskien moedeloos en bedruk?  Dan is vandag die aangewese tyd om ‘n ommeswaai te maak.  Die lewe is ‘n wonder, met veelvuldige seëninge wat God daagliks op ons uitstort.  Daar bestaan nie ‘n tyd, plek of situasie waarin ons nie gebruik kan maak van die wonderlike eienskappe van Gods lewe om ons te seën en met nuwe krag te vul nie.

Laat ons vandag begin met die volgende gedagte:  “Met vreugde sien ek uit na die wonder wat God vir my in gedagte het!”   Nou is ons gereed om daardie wonder raak te sien en te geniet.  Dankie, Heer, vir die wonder van U lewe wat my so bly maak!


Gebed:  Met vreugde sien ek uit na die wonder wat God vir my in gedagte het.



~ Uit Daelikse Woord ~



Monday, 18 November 2013

WOORDE VAN LIG







As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan;  as jy ‘n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.  -  Spr. 9:12


Vriendelike woorde teenoor my, van familie of vriende, helder sommer my dag op.  Gelukkig kan ek ook dieselfde vir hulle doen!

Met woorde van lig, gebore uit lig-gedagtes, hef ek andere om my op, en die spontane vreugde wat ek in hul oë sien by die aanhoor van sulke mooi woorde, hef my óók op.  Hoe héérlik om die lig van liefde en waardering op iemand na-aan my te fokus.

Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar.  Soos ek andere kan seën en ophef met my mooi woorde, net so kan ek óók vir hulle en vir myself seermaak  met woorde wat nié gebore is uit liefde nie.   Dink net, my eie woorde kan ophef  óf aftakel – dit hang dus van mý af of ek gelukkig met andere gaan saamleef of nie.   Waarom sal ek dan nie alles in my vermoë doen om áltyd vriendelike en opheffende woorde te gebruik nie?  Hiervoor is lig-gedagtes nodig – lig-gedagtes van Christus wat in my diepste heiligdom woon en deur my praat, omskep my woorde in lig-woorde.


Gebed:  U Lig in my gedagtes, dierbare Heer, kan gehoor word in my woorde.



~ Uit Daelikse Woord ~