Saturday, 19 July 2014





HART VOL LIEFDE


God is baie goed ... vir dié wat rein van hart is. - Ps 73:1


'n Hart vol liefde is 'n vrolike hart, 'n harmonieuse hart. 'n Hart vol liefde is 'n hart wat vrede gevind het, 'n hart in staat tot diepe vreugde en vervulling. 'n Hart vol liefde voed die liggaam, maak gesond en gee krag. 

In my gebede dink ek aan Gods onvoorwaardelike liefde vir heel Sy skepping - ook vir my. Ek maak my hart oop vir Sy liefde om dit te vul - tot oorlopens toe. Dit vloei in en deur my hele liggaam, en elke sel, orgaan en spier word daardeur nuut en skoon gemaak.

Ek maak die vensters van my hart wawyd oop, en hierdie hemelse liefde waarvan dit so vol is, vloei ook om my, om elkeen met wie ek in aanraking kom, te seën met God se ewige, kosbare en reine liefde.

Liefde bring vrede, en die vrede wat die liefde in my hart om my skep, is soos helende salf op elke rustelose siel. Gemoedere word kalmer, samewerking is moontlik, waar liefde heers. En vredeblommetjies kom in oorvloed op, omdat so baie mense geseën word met die liefde in my hart.


Gebed: My hart is vol liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 17 July 2014





HELING


Weet julle nie dat julle die tempel van God is nie en dat die Gees van God in julle woon nie?  -  1 Kor. 3:16


Dink net!  Hierdie liggaam waarin ek woon, is ‘n tempel van God, en Christus woon in al sy glorie binne-in hierdie tempel.

Onder die invloed van sy hemelse liefde, werk al my selle, organe, spiere, en my hele senuweestelsel, in volmaakte harmonie saam om my liggaam gesond en sterk te maak.

Gods lewenskrag pols in my hart en vloei in my are, en die lig wat dit in my liggaam versprei, suiwer, hernu, herbou en voed elke sel.  Al hoe helderder skyn dit in my en deur my, werp alles uit wat nie van  Sy lig is nie, totdat daar niks oorbly wat die glans van hierdie stralende lig kan verdof nie.

Dit is ‘n verkwikkende, lewegewende stroom van energie wat my sterk en gesond maak, met genoeg energie om te doen dit wat ek moet doen om hierdie aarde ‘n beter plek te maak vir alles en almal wat daarop woon.  Dit is sy lig, liefde en krag wat immer in en deur my werk en straal, wat hierdie liggaam omskep in ‘n stralende tempel van God.


Gebed:  Gods, lewenskrag pols in my hart en vloei in my are.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 10 July 2014





VOL  LEWE


Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.  -  Joh. 8:12


Christus in my is krag.  Christus in my is kennis.  Christus in my is lewe.  Ek wend my tot die opgestane Christus in my vir lewe, leiding en krag.

Die krag van Sy gees het ‘n invloed op my lewe en op die mense en gebeure in my wêreld.  Die vrede van Christus vul my gemoed.  Die liefde van Christus vul my hart.  Die lewe van Christus vul my liggaam met nuwe energie.  Ek is gesond, liefdevol, sterk en vry.

Ek kan suksesvol wees in enigiets wat ek aanpak as ek Hom toelaat om in en deur my te werk.  Te alle tye, onder alle omstandighede, kan ek op my eie inwonende Christus staatmaak.  Deur my gebede elke dag beklemtoon ek my geloof in Christus.

Die Gees van die opgestane Christus omvou my wêreld.  My lewe is vol en ryk.


Gebed:  Die opgestane Christus heers in my wêreld.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 5 July 2014





VERLORE  SEUN


Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer!  -  Luk. 15:24


Soos die verlore seun was ek – moeg en moedeloos en haas gebroke deur die stryd so groot.  Die aanslae het my op my knieë gehad, en as dit nie was vir U stok en U staf nie, sou ek seker gebroke langs die pad bly lê het.  Maar toe kom U stok en U staf tot my redding.  Deur die diepste duisternis heen het ek geen onheil gevrees nie, want U stok en U staf was net altyd daar vir my.

En toe kom ek by U huis, moeg en vuil en moedeloos, vol wonde, en daar staan U vir my en wag!

Here, het U al die tyd geweet ek is op pad?  Was U al die tyd aan my sy om my ongesiens by te staan en te beskerm?

Huiwerig staan ek voor die deur – so vuil en bevlek, en ek wonder – wat nou?  Maar toe kyk U na my, en U oë vertel my hoe diep en hemels U liefde is.  U arms is wyd oop om my te verwelkom, en met trane in my oë stap ek binne-in U omhelsing in, binne-in U huis waar ek nou in lengte van dae kan bly!


Gebed:  Heer, vergewe my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 1 July 2014





STAAN OP EN LOOP


Wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe.  -  Joh. 3:21


Staan op en loop, het Jesus vir die verlamde man gesê, en hy het!  Staan op en loop kom sy woorde nog net so helder en duidelik tot ons daar waar ons moeg en moedeloos langs die pad bly sit.

Die waarheid is – Hy sal nooit vir ons sê ons moet opstaan en loop as ons dit nie kan doen nie!  Hy is altyd daar vir ons – selfs bereid om ons te dra indien nodig.

Die waarheid is – in sy krag kán ons opstaan en loop.  Sy krag is ‘n krag van oorwinning wat ons oor elke struikelblok help, ongeag hoe groot die uitdaging, hoe siek of moeg of hartseer of teleurgestel of bekommerd of frustreerd of wat ons ookal mag wees.

En as ons dan opstaan en loop, is dit sy lig wat ons pad omskep in ‘n baan van lig.  Met die oë van ons siel sal ons daardie Lig sien, en ons sal daarin wandel van oorwinning tot oorwinning, met al die krag wat ons nodig het vrylik tot ons beskikking.  Met ‘n brein helder  verlig, met ‘n liefde wat alles vergewe, met ‘n krag wat tot alles in staat is binne-in ons, staan ons op en loop ons!


Gebed:  Vandag staan ek op en ek loop!


~ Uit Daelikse Woord ~








Friday, 27 June 2014




LAAT LOS LAAT GOD


Moenie bang wees nie, want  Ek is by jou.  Ek sal jou seën.  -  Gen. 26:24


Staan ek voor ‘n uitdaging wat dreig om my te oorweldig?  Soek ek versekering dat die besluit wat ek in ‘n belangrike saak neem, die regte een is?  As my antwoord op hierdie twee vrae of enigiets anders wat my hinder, ja is, neem ek nou ‘n oomblik om stil te word en by Jesus se voete te gaan sit.  In hierdie gewyde oomblik waarin ek met my Heer verkeer, maak ek my gedagtes stil sodat Hy in en deur my kan werk.

Ek laat los en laat God.   Wat ookal mag gebeur, ek laat geen negatiwiteit toe om my gedagtes oor te neem nie.  Ek laat alles in Sy bekwame hande, en ek weet ek hoef my nie te bekommer dat dinge nie volmaak sal uitwerk nie.

Ek laat los en laat God.   Ek wys sodoende dat ek glo dat Sy volmaakte orde in my lewe tot stand kom.  Ek doen alles in my vermoë om ‘n kanaal te word waardeur Hy kan werk om alles en almal betrokke te seën.


Gebed:  Ek laat los en laat God


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 26 June 2014






GOUE OOMBLIKKE


Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.  -  Job.  37:22


Die kosbaarste tye in my lewe is die tye waarin ek ‘n diep sielevreugde ervaar.  Dit is goue oomblikke hierdie wat God gebruik om Sy doel met my en die betekenis van my lewe aan my te openbaar.

Ek weet dat elke oomblik ‘n spesiale betekenis het vir my.  Of dit nou iets is wat gebeur wat ek as toeval beskou, of ‘n goeduitgewerkte plan, ek moet goed kyk, want God mag ‘n doel daarmee hê – iets belangrik vir my en vir die weg wat ek moet volg in my lewe.

Ek kyk dus na alles wat met my gebeur soos ek dink God dit sou sien – propvol geleenthede vir my om te leer en verder geestelik te groei.  Met hierdie benadering verwelkom ek elke geleentheid, of dit nou deel van my roetinesake is, of iets ongewoons, en ek soek en vind die seën daarin verborge  vir my.

Elke oomblik van elke dag is ‘n goue oomblik op my lewensweg, aan  my geskenk deur God.  ‘n Geskenk so mooi en so wonderlik dat ek dit vir ewig soos ‘n kleinood koester.


Gebed:  Ek koester en onthou elke goue oomblik in my lewe.



~ Uit Daelikse Woord ~