Monday, 30 March 2015

God het my lief





  In God se Liefdesbriewe aan ons staan geskryf: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:  Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook.” 
(1 Joh. 3:1)  Is ons nie gelukkig dat God ons só lief het nie!   


Óngeag wát met my of óm my gebeur, één ding staan soos ‘n paal bo water:  *Gód het mý onvoorwaardelik lief!*
Daar mag egter tye kom wanneer ek voor kritiek te staan kom, en in plaas daarvan om positief daarop te reageer, laat ek toe dat dit my onwaardig laat voel – so asof niemand my meer liefhet nie.  *Níks* kan egter verder van die waarheid af wees nie, want ék is ‘n kind van ‘n Hémelse Vader en Hý het mý *onvoorwaardelik lief*!

Daar bestaan ook die gevaar dat ek heeltemal te krities teenoor mýself en my vermoëns staan, en dit skep dan ‘n minderwaardigheidsgevoel in my.  Om dít te verhoed, kyk ek met wáárdering na die dinge wat ek doen, hóé klein en nietig dit ookál mag blyk te wees.  Ék weet dat ek my bés doen, en my bes word elke dag al hoe béter.  Ek léér en ek gróéi op my eie pas en Páppa God help my om dit te doen!

As ek krities of gekritiseer voel, onthou ek onmiddelik dat daar  †* Iemand *†  is, wat mý onvoorwaardelik liefhet, nét soos ek is.

Dankie  †* Here Jesus *† dat U vir my so baie liefhet en tevrede met my is nét soos ek is.
.
.
✉  deur:
.
Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

Saturday, 28 March 2015

Die goeie sal seëvier





Die Here is goed…Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.
– Nah.1:7

In hierdie woorde lê ’n groot waarheid opgesluit en as ons daaroor nadink en dit bepeins, sal ons veel seën en bemoediging daarin vind. God is goed, en as Sy kinders, is ons almal deel van alles wat goed is. Alles wat eerlik en opreg is, is deel van die goedheid wat aan God behoort.  Regverdigheid en geduld en die gewilligheid om ander te verstaan en lief te hê is alles deel van die goeie, en ook deel van ons handeling teenoor en met ander mense.  Namate ons hierdie kwaliteite uitleef, en aldeur op die uitkyk daarvoor in ander is, bedink ons al meer die goeie en help ons om die goeie in ons eie lewens teweeg te bring.  Die goeie sal seëvier wanneer die mens geleer het om saam te leef in onderlinge vertroue;  wanneer hy geleer het om in harmonie saam te werk;  wanneer hy geleer het om saam te aanbid en om saam in liefde voort te leef en te ontwikkel. Dit sal inderdaad seëvier wanneer ons almal eerlik kan sê: “Ek is deel van alles wat goed is.”   En, as ons hierdie woorde besig, laat ons WEET dat dit reeds bewaarheid is, nie net vir een mens nie, maar vir alle mense…vir alle nasies.


Gebed:  EK IS DEEL VAN ALLES WAT GOED IS.


~ Uit Daelikse Woord ~


✉  deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!


Monday, 23 March 2015

'n Gewillige Hart





“En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van joú vader ken en Hom dien met jou hele hart en met ‘n gewillige gemoed.”  -  1 Kron. 28:9


Dierbare Here Jesus Christus,

Vul my hart met Ú hemelse liefde, sodat ek o só gewillig is om God te dien – só gewillig is om elke dag te wandel in Ú lig, te bid en Ú te dien met hart, siel en gees saam met my Ligvriende en met oop oë en hande my naaste te dien soos en waar ek gelei word om te doen.

Heer, ek is só gewillig!  Maak my oë oop sodat ek kan sien waar Ú my wil gebruik – maak my ore oop sodat ek kan hoor wanneer Ú met my praat.

Soms, wanneer ek op die ingewing van die oomblik iets doen of sê wat later goeie vrugte lewer – dan wéét ek dit was Ú wat my aangespoor het om só op te tree.

Wanneer ek iemand teëkom wat gebuk gaan onder ‘n las te swaar om alleen te dra, is dit weer Ú wat die regte woorde in my mond plaas – woorde wat heel en troos, en lig bring in ‘n gebroke hart.
.
Gebruik my Heer, soos en waar Ú wil – ek is só gewillig om U te dien, dierbaarste Heer!

Hier is ek!

Amen


~ Uit Daelikse Woord ~



Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

Friday, 20 March 2015

Sukses





Die Here sien die hart aan. - 1 Samuel 16:7 (OV)


Wat beteken sukses vir ons?  Dink ons dadelik aan voorspoed en welvaart en ‘n oorvloed van alles?  Maar dit is tog uiterlike standaarde – is dit regtig al wat tel? Is dit hoe God sukses sien?  Kom ons word stil voor die Heer van ons hart, en luister hoe HY sukses sien:


Elke keer as jy bid, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy in My glo, of in jouself, of in iemand anders, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy kommer-gedagtes vervang deur die waarheid van My werke in en deur jou, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy ‘n taak afhandel, tevrede dat jy jou heel beste gelewer het, is jy ‘n sukses.
Elke keer as jy iemand anders kan opbeur met ligbring-liefde vanuit jou hart, is jy ‘n sukses.
Elke keer as iemand uit die diepte van sy hart vir jou dankie sê, is jy ‘n sukses.


Onthou net, jy is ‘n kind van die lig op ‘n pad van lig, besig om geestelik te groei en te leer uit jou ervaringe, en met My altyd daar,  IS  jy ‘n sukses!


Gebed: Baie dankie, Here, dat U binne-in ons is en van ons ‘n sukses maak.


~ Uit Daelikse Woord ~


Koningsdogters vir Jesus  @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!
.



Thursday, 12 March 2015

Jou God is Koning





Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: "Jou God is Koning!" - Jesaja 52:7


“Jou God is Koning!”  Onthou hierdie woorde baie goed – spits jou gedagtes daarop toe en bêre dit in jou hart, wat jy ookal mag doen, waar jy ookal mag gaan of watter diens jy ookal mag lewer.  Ons God is Koning, en waar Hy Koning is, daar heers Hy in al Sy glorie en mag.  God is lewe, en Sy lewe is die Lig vir die mens.  God is JOU lewe, en jou lewe is nooit somber of vevelig met Sy aanwesigheid nie.  Die Lig van God, jou Vader, skyn helder in jou en om jou.  As jy hierdie lig deur jou gedagtes, woorde en dade ook op andere laat skyn, sal jyself ‘n baken van lig word in jou wêreld.  ‘n Helder stralende tempel van lig sal jy wees, tot seën van almal wat jou pad mag kruis, tot seën van jou hele Ligvriendekring en tot seën van jou land en jou wêreld.

Toe Gods kinders die pad byster geraak het, en vergeet het dat Hy die Lig van die wêreld is, het Hy Sy geliefde Seun gestuur om aan die wêreld die goeie tyding van heerlike, lewegewende krag en gesondheid, van liefde en lig, van oorvloedige, stralende, ewige lewe, vir ons Sy kinders te bring.  God het Sy geliefde Seun gestuur as Verlosser van die wêreld, as groot Geneesheer wat mense sou gesond maak, as Leermeester wat hulle sou lei op die weg van vrede, vryheid en heelheid.

Jesus Christus wat Sy lewe gegee het om ‘n verloregaande wêreld te red, woon nou binne-in jou en my, en deur Hom is al die lig, liefde en krag wat jy ooit mag nodig kry daar vir jou en jou medemens deur jou.  Jesus Christus was en is en sal altyd die Boodskapper van ‘n tyding van Groot Blydskap wees vir die hele mensdom, en elkeen wat by die fontein van die lewende water drink wat Hy aanbied, SAL die ewige lewe beërwe!


Gebed:  Baie dankie, Here Jesus, dat  U deur  u kruisdood my verlossing bewerkstellig het.  In ruil DAARVOOR  gee ek nou vir  U  my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~


✉  deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

KRAG





God is my sterkte;  aan Hom behoort ek vir altyd.  -  Ps. 73:26


Ons het seker almal al die ervaring gehad om voor ‘n skynbaar onoorkomelike probleem te staan, en dan skielik al die moed en krag te hê om dit te oorkom.  Waarvandaan en van wie kom hierdie grenslose krag?  Alle krag kom van God.

Wat ‘n vreugde en voorreg om dit wat ons maar alte dikwels vergeet het, te herontdek – die krag, energie en moed van Gods Heilige Gees binne-in ons!  Terdeë bewus van ons eenheid met Sy Gees en álles wat dit ons bied, kan ons met entoesiasme uitroep:  “Ek is stérk, gesónd, energiék en gelúkkig!”  Ons sê hierdie woorde, ons gló dit, en word opnúút bewus van ál die krag, sterkte, lewensvreugde én energie in élke deel van ons wese.

Ons is sterk, gesond, energiek en gelukkig!  Hierdie woorde weerklink dwarsdeur ons wese, en kom terug as ‘n stil dankgebed tot God, die Bron van al ons krag, gesondheid en energie.


Gebed:  Dankie Jesus, ek is sterk, gesond, energiek, gelukkig en in staat tot enigiets deur  Ú wat my die krag gee!


~ Uit Daelikse Woord ~


✉  deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

Thursday, 5 March 2015

Wees hoflik





Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol,  goedhartig,nederig.
 – 1 Pet. 3:8


Ons veraangenaam die alledaagse lewe grootliks deur hoflik teenoor mekaar op te tree – te alle tye.  Hoflikheid is die sigbaargeworde liefde van God wat binne in ons woon. Deurdat ons die liefde van God deur bedagsaamheid en hoflikheid sigbaar maak, dra ons daartoe by om ander hulle waarde as kinders van God te laat besef. Deur bedagsaam en hoflik te wees teenoor ander, ontvang ons dieselfde behandeling
van hulle, en is ons almal geseënd. Gedurende baie besige tye in ons lewens, mag ons soms geneig wees om onverskillig en vinnig te handel of te praat, maar  laat ons gerus daaraan dink dat minsaamheid en bedagsaamheid die weg tot harmonie en orde aandui, en dat ’n bietjie hoflikheid almal tot seën is. ’n Klein bietjie bedagsaamheid werk kalmerend in op alles en almal, en stel ons instaat om die menigvuldige takies waarmee ons belas is, vreugdevol en gemoedelik af te handel. Dit maak nie net ons eie werk ligter en aangenamer nie, maar ook ander sin. En, wat ons aan die minste doen, doen ons aan die Meester.


Gebed: DEUR HOFLIK IN WOORD EN DAAD TE WEES, WORD DIE LIEFDE VAN GOD IN MY WEERSPIEëL.


~ Uit Daelikse Woord ~



Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!