Showing posts with label EK IS. Show all posts
Showing posts with label EK IS. Show all posts

Friday, 9 May 2014





EK  IS


Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.  -  Hand. 17:28


Ek is ‘n kind van God, wat lewe, beweeg en bestaan in Hom en deur Hom in my.  As ek Hom ken op al my weë, kan niks my aan bande lê of minder maak as wat ek is nie.

Ek is die Lig wat helder skyn in hierdie denke en aan my wysheid en insig in alles wat my en my lewe aangaan, kan almal wat my ken sien hoe Liggerig my denke is.

Ek is die Liefde wat warm klop in hierdie hart, en in my dade en my woord teenoor andere wat my lewe met my deel, kan almal sien hoe Liefdegerig my gevoelens is.

Ek is die Krag wat sterk staan in hierdie wese, en aan my vasberadenheid en doelgerigtheid in my daaglikse handel en wandel, kan almal sien hoe Krag-gerig my lewensbenadering is.

Ek kán ek ek sál elke dag van my lewe Lig, Liefde en Krag wees, want dit is hoe ek hulde bring aan my Skepper – dit is hoe ek aan andere om my wys wat my Hemelse Vader vir my beteken, dit is hoe ek mý deel doen om hiérdie aarde ‘n beter plek te maak om te leef.


Gebed:  Ek is Lig, ek is Liefde en ek is Krag deur Christus wat in my woon!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 19 June 2013





GELIEFDE,  EK  IS


Toe sê God vir Moses:  “Ek is wat Ek is.”  -  Eks.  3:14


GELIEFDE,  Ek is hier!  


Ek is die lewenskrag wat in en deur jou pols, en jou van die nodige energie en krag voorsien om te doen wat jy moet doen, sodat  jy ‘n vol en ryk lewe kan geniet.

Ek is die liefde in jou hart wat jy deur jou woorde en jou dade deel met jou familie en vriende – woorde en dade wat hulle en vir jou, ophef en seën.

Ek is die lig wat in en deur jou skyn, wat jou gedagtes omskep in lig-gedagtes en jou in staat stel om wyse besluite te neem.

Ek is die inspirasie wat jou siel laat sing wanneer andere vir jou sê daar is geen hoop nie.  Met My melodie wat in jou weerklink, verseker Ek jou daar is hoop, want Ek is met jou elke tree van die weg wat jy moet gaan.

Ek is die bron van alles wat goed en mooi is in jou lewe – die bron van alles wat is, wat was en wat sal wees, en My seëninge op jou pad ken geen perke nie.


Gebed:  Dankie, Vader, vir die seën van U lig, liefde en krag.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 3 May 2013





EK  IS


Christus is in julle,  Hy is julle hoop op die heerlikheid.  -  Kol.  1:27


Geliefde, wees stil en weet Ek is die Christus wat opgestaan het in die krip van jou hart – in die kern van jou wese.

Wees dit wat Ek is in die kern van jou wese, en jou liefde sal uitblom, jou lig sal skitterblink, jou krag sal oorneem en jou omskep in dít wat Ek is in die kern van jou wese.

Die geheim van hoe om hierdie grootse waarheid jou eie te maak en uit te leef, lê in jou stil tyd saam met My,  *elke dag*.   Wees net stil saam met My  -  *elke dag*  - en jy sal word wat Ek is in die kern van jou wese.   Jy sal Lig wees, en Liefde, ‘n ware opregte Ligwese.

Dis nie so moeilik nie – vat net My hand vroeg in die oggend en laat in die aand, en stil, sonder basuingeskal, sal jy stadig maar seker al hoe meer word dit wat Ek is in die kern van jou wese.

Dankie, dankie, dierbare Heer van my hart.  Ek sal doen wat U sê, en saam met U leef vanuit die kern van my wese, en doen en wees wat U verlang!


Gebed:  Hóé groot die wonder!  Christus leef in my hart!


~ Uit Daelikse Woord ~   





Monday, 14 January 2013





EK  IS

Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.  -  Joh. 14:6

Geliefde,  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”   Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.   Ek is die waarheid van jou wese.   Volmaakte lewenskrag en ewige rus en vrede, dit bied Ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.   Ek is die lig wat jou lei.   Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.   Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit van mekaar verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.   Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.

Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~






Friday, 16 December 2011




EK  IS


Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. – Joh. 14:6


GELIEFDE, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”  Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.  Ek is die waarheid van jou wese.  Volmaakte lewenskrag en ewig rus en vrede, dit bied Ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.  Ek is die lig wat jou lei.  Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.  Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit  van mekaar verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.  Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.  Ek is Christus in jou hart.


Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~