Showing posts with label Inspirasie. Show all posts
Showing posts with label Inspirasie. Show all posts

Friday, 15 February 2013





INSPIRASIE

God is my redder;  Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. 
Jes.  12:2

Vas vertrouend op my Heer, plaas ek my lewe en alles wat my aangaan in Sy liefdevolle sorg.   Ek weet Hy sal my lei en rig op al my weë.   Geen enkele tree hoef ek sonder Hom aan my sy, te neem nie.   Geen uitdaging hoef ek sonder Sy krag en sterkte die hoof te bied nie.   Hy lei my tot die regte optrede op die regte tyd, vandag, môre en elke dag.

Ek vertrou op Hom en is nie meer bang nie, want ek weet daar is niks waaroor Hy nie heers nie, niks wat in in Sy krag nie reggestel kan word nie.   My geloof in Sy krag en mag gee my die krag om die dinge te doen wat ek moet doen.

Die eerste ding wat ek doen is om my tot Christus, Hy wat in my hart woon, te wend vir leiding en lig, en om dan te reageer op die leiding wat Hy my gee.   Kry ek dit nie terwyl ek bid nie, weet ek dat ek my nie daaroor hoef te bekommer nie, want die leiding, die ingewing van wat om te doen, sal op die regte tyd my te binne skiet.   God is my redder, Sy liefde is my inspirasie, en sonder die geringste vrees, gevul met geloof, begin ek elke mooi dag deur Hom aan my geskenk, met my hand styf vas in sy troue Vaderhand.

Gebed:  GOD  IS  MY  REDDER!

~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 16 July 2012





INSPIRASIE


Ek is die brood wat lewe gee.  Wie na my toe kom sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo sal nooit weer dors kry nie. – Joh. 6:35


Is ons op soek na iets of iemand wat ons sal help om daardie leë gevoel in ons hart te vul?  Hierdie verlange wat ons voel, is eintlik ‘n verlange van ons siel, en om dit te versadig, moet ons stil word in die gebed – ons moet ons Heer opsoek en in die stil tyd saam met Hom rustig wag vir Sy liefde om ons hart te vul met nuwe lewe en inspirasie – met die brood wat lewe gee.

In hierdie stil tye saam met ons Heer kan ons ‘n insae kry in dinge wat ons nog nooit werklik verstaan het nie.  ‘n Nuwe idee kan by ons posvat wat vir ons en vir almal met wie ons dit deel tot groot seën kan wees.

‘n Siel geïnspireer deur God kan nie onder ‘n maatemmer weggesteek word nie.  Daar sal ‘n helder lig in ons en om ons begin skyn.  Andere sal dit begin sien in ons doen en late, en dit aanvoel en daarop begin reageer, en daardie leë gevoel sal so gevul word met liefde dat ons almal daardeur geseën word.

God seën en inspireer elkeen wat Hom nader, en met ‘n oop gemoed en ontvanklike hart soek ons Hom op.


Gebed:  God seën en inspireer my.


~ Uit Daelikse Woord ~