Showing posts with label LUISTER. Show all posts
Showing posts with label LUISTER. Show all posts

Saturday, 9 January 2016

Luister








Luister


‘n Mens met insig doen kennis op;  wyse mense hou hulle oë oop vir kennis.  -  Spreuke 18:15


Wanneer ek met ‘n vriend of vriendin gesels, praat ek, en ek luister wanneer hy/sy praat.  En wanneer ek met God praat, is dit net ek wat praat, of luister ek ook na wat Hý vir my wil sê?   Vándag gaan ek luister.  Waar ek ookal mag wees óf wat ek ookal mag doen, ek gaan stíl word en na Hom luister.


Sy stem is *só* sag en teer, en dit kan na my toe kom as ‘n diepe oortuiging, of as ‘n skitterende idee.  Of dit kan net ‘n seker wete wees van wat God wil hê ek moet doen of sê.  In Sý lig en liefde is dit ligbring-liefde wat ek ook so oordra aan my medemens.


Hóé sag Sy stem, hóé teer Sy leiding, en hoe gróót die seën wat ek uitdra in Sy liefde en lig wat my lei, élke tree van die weg wat ek moet gaan.


Blý en dánkbaar luister ek na my Heer, en blý en dankbaar volg ek Sý pad van lig, en óngesiene wonders maak my lewe vól en rýk!


Gebed:  Ek lúíster Heer, en volg Ú lig.  Hou my hand styf vas in Ú s’n Heer van my hart.



~ Uit Daelikse Woord ~


  Koningsdogters vir Jesus / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!



(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)



Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com











Sunday, 9 March 2014





LUISTER


Ja, my siel is stil tot God. – Ps. 62:2 (OV)


Wees stil en luister, jou Heer openbaar aan jou die manier waarop daar in al jou behoeftes voorsien kan word.  Hy wys vir jou die weg om elke probleem die hoof te kan bied.

Luister!  Jou Heer praat diep in jou siel met jou – luister mooi, Hy praat nóú met jou, in die stilte van hiérdie oomblik.

Luister!  Jou Heer praat só sag dat jy Hom nie sal hoor nie, tensý jy jou vólle aandag aan Hom gee.

Luister!  Jou Heer laat Sý idees in jou gedagtes posvat, en maak die volgende stap aan jou duidelik.  Let op Sy leiding en vólg Hom.

Luister!  Jou Heer spoor jou aan.  Wees gereed om in Sý krag te handel, want dit is ook jóú krag.

Luister!  Jou Heer is áltyd daar vir jou, áltyd gereed om jou te rig en te lei op al jou weë.  Luister jy?   Hoor jy Sy stem wat díép in jou hart vir jou sê: “Jy is My geliefde kind in wie Ek ‘n welbehae het.   Wandel in My lig, handel in My liefde en stap voort in My krag.  Ek is altyd hier.”


Gebed:  Ek luister, Heer, en ek wandel in U lig!


~ Uit Daelikse Woord ~

Tuesday, 18 September 2012





LUISTER


Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep. 
1 Petr. 3:12


Hoe groot  die wonder en hoe diep ons dank dat daar altyd Iemand is wat luister na ons hulpgeroep.  Iemand wat ons optel en dra as ons self nie meer kan nie.  Diep in ons binneste heiligdom luister Hy na ons drome en ons hoop, en stil en sag vloei Sy antwoord ons hart binne:


“Jy het My aangeroep, my geliefde kind, en Ek het geluister.  My lig, liefde en krag is daar vir jou, en Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie.

As jy nie op jou eie staande kan bly voor die aanslae van die lewe nie, leun op My, en laat My toe om jou in My krag te onderskraag.

As jy die begrip van ‘n vriend nodig het – kyk, Ek is net hier by jou.  Ek luister – Ek verstaan.

Voel jy eensaam en verlate – Ek vou jou toe in My liefde.

Voel jy die las wat jy moet dra is te swaar, gee dit vir My en ontspan.

Geliefde kind, Ek is hier, en Ek luister.”



Gebed:  Die Here sorg vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 8 July 2012





LUISTER


Kinders, neem die opvoeding wat ‘n vader julle gee, ter harte;  slaan daarop ag, sodat julle kan leer wat insig is.  -  Spr. 4:1


Geliefde, wees stil en weet Ek is net hier by jou.  Elke oomblik van elke dag is Ek hier, net een gedagte, een gebed ver.  As jy luister met jou hart en met jou siel, sal jy My hoor, en die rus en vrede waarna jy soek , sal jy vind.

Jy kan my nie voel nie, en tog is Ek die krag in jou hande.

In absolute stilte sal jy My ken soos Ek is, en selfs dan sal dit net ‘n gewaarwording en geloof wees.

Tog is Ek hier – altyd en vir ewig is Ek hier aan jou sy.  Ek sal jou behoed en bewaar op al jou weë.  As jy My nodig het, is Ek hier.  Ek hoor en Ek antwoord, en as jy nie meer verder kan nie, is Ek nog steeds hier om jou te dra tot jy weer op jou eie voete kan staan.

As jy eensaam en allenig is, is Ek hier.  Ek is in jou en jy is in My.

Al is jou geloof in My nog so klein, My geloof in jou wankel nooit nie, want …  Ek ken jou, en Ek het jou lief.  Geliefde, hier is Ek.


Gebed:  Help my om altyd te onthou, Heer, U is hier.


~ Uit Daelikse Woord ~ 




Thursday, 15 March 2012





LUISTER

Dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.  – Mark. 9:7

God praat met my wanneer ek met my hele hart en siel daarna smag om Hom beter te leer ken.  Dis sy manier om my te roep, om my te laat ontwaak tot ‘n vol en ryk lewe, en ek antwoord op sy roepstem deur Hom in alle erns te soek.

God praat met my wanneer ‘n bybelversie of een of ander gedagte of iets wat ek lees, skielik vir my oopgaan en ‘n besondere betekenis kry.  So leer Hy my, en rig  en openbaar Hy aan my ‘n waarheid wat op daardie besondere tyd vir my van groot waarde is.  Hoe diep my dank hieroor!

God praat met my wanneer ek in my soeke na die regte oplossing, die regte weg, skielik voel dat ‘n sekere rigting die regte een is vir my om te volg.

En wanneer ek Hom opsoek diep in my diepste heiligdom, en Sy lig my denke helder verlig, sy liefde my hart vul en sy krag my hernu en verfris, dan ontwaak ‘n lied in my hart, en ek weet:  Hy is die bron van hierdie hemelse melodie – ek is sy geliefde kind, en ek luister!

Gebed:  God praat met my, ek luister en volg Sy lig!

~ Uit Daelikse Woord ~