Showing posts with label Nou. Show all posts
Showing posts with label Nou. Show all posts

Sunday, 30 September 2012





NOU!


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps. 118:24


Nóú, hierdie oomblik, is ‘n baie spesiale tyd in ons lewens.  Dit is so spesiaal omdat ons nóú deel uitmaak van die lewe.

Die verlede is reeds geskiedenis.  Ons kan dit nie meer verander nie, maar ons kan daaruit leer en met meer wysheid vooruitgaan.  Die toekoms is vol moontlikhede.  Ons kan egter net so min in die toekoms leef as wat ons in die verlede kan leef, daarom is dit wat ons nóú doen so uiters belangrik.  Dít wat ons op hierdie oomblik dink en doen, bepaal ons toekoms.  As ons dus ‘n aangename, suksesvolle toekoms begeer, moet ons nóú die fondamente daarvoor lê.

Ons spits ons aandag toe op hierdie oomblik.  Elke situasie benader ons met die wete dat ons besig is om ‘n mooi, ryk toekoms te skep.  Hoe meer ons die belangrikheid van die hede besef, en die unieke waarde van elke oomblik, hoe gelukkiger en ryker sal ons lewens word.  Ons juig en is bly oor die heerlike nóú!


Gebed:  Ek juig en is bly oor die heerlike nóú!


~ Uit Daelikse Woord ~






Friday, 4 May 2012






NOU


Nogtans moet ek dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.
Matt. 3:15


Ek lewe nou, op hierdie oomblik, en is rustig.  Ek leef nou, op hierdie oomblik, en is vry van enige vrese oor die toekoms.

Ek rus in die wete dat God die bron is van alles wat goed en mooi is.  Hy beskerm en lei my.  Ek rus in die vleuels van Sy liefde, en die vrede wat alle verstand te bowe gaan vul my gemoed.

Nou is hierdie oomblik – nie gister of môre nie.  ‘n Tyd om iets moois te gee, en ek dink aan maniere waarop ek die liefde waarvan my hart so vol is, kan deel met my medemens.  Ek onthou dat ek ‘n kind van God is, dat ek Sy pad van lig bewandel, steeds gelei en gerig tot my hoogste heil.

Met ‘n dankbare hart gaan ek voort, en geniet al die seëninge wat my hemelse Vader op my uitstort.

Nou is hierdie oomblik.  ‘n Tyd om te geniet en die saadjies vir ‘n wonderlike toekoms te saai.


Gebed:  Ek lewe nou, toegevou in die liefde van God.


~ Uit Daelikse Woord ~