Showing posts with label Vriendelikheid. Show all posts
Showing posts with label Vriendelikheid. Show all posts

Sunday, 18 January 2015

Vriendelikheid





As broers moet julle mekaar liefhê.  Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het somige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.  -  Hebr. 13:1-2


Elke dag is ‘n nuwe dag met nuwe ervaringe, en kom ek in aanraking met verskillende mense.   Sommige mag aangenaam en vriendelik wees, terwyl ander weer nors en kortaf mag wees.   Afgesien van hoe andere vandag om my gaan wees, besluit ek nou en hier om in die liefde van Christus in my hart, deurgaans vriendelik, gasvry en hoflik te wees – die Christus in my gaan hulde bring aan die Christus in hulle, en al die liefde wat so vrygelaat word, gaan harmonie skep om ons.

Van Christus tot Christus gaan ons vandag saamleef.  Ons gaan elke oomblik omskep in ‘n mooi oomblik, ons gaan hierdie dag omskep in ‘n mooi, aangename dag, en sy lig al hoe helderder in en deur ons laat skyn.

Ek gaan my daarop toelê om vandag, môre en al die môres daarna, met ‘n lied in my hart elkeen wat my pad mag kruis, vriendelik, hoflik, gul en gasvry, te behandel.  Hoe heerlik is ons samesyn nie dan nie!  Hoe mooi die dag!


Gebed:  In  U liefde, Heer, is ek vandag ‘n omgee-mens.


~ Uit Daelikse Woord ~


Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!
*Poppie Oosthuizen*

Saturday, 18 May 2013





VRIENDELIKHEID


Lees – Filippense 4:4-9


Die vrug van die Gees ... is ... vriendelikheid  (Gal 6:22).


Daar is ‘n spreekwoord wat sê:  “Vriendelikheid is die aansteeklikste ding op aarde.”  Toets maar of dit waar is deur wanneer jy in die straat loop mense met ‘n vriendelike glimlag te groet.  Jy sal sien, vreemdelinge sal jou net so vriendelik teruggroet.  Boonop kos vriendelikheid niks en beteken dit so baie vir ander.

Vriendelikheid beteken ook om ander só te behandel soos jy self behandel wil word.  Dit is om te gee van jouself sonder om iets terug te verwag.  Oswald Saunders het gesê dat om vriendelik te wees, is om met die Here se gesindheid na ander te kyk.

Kan ander aan die vriendelikheid wat uit jou straal, sien dat die Heilige Gees in jou lewe teenwoordig is?


Gebed:  Heilige Gees, maak my vriendelik met al die mense om my, ook met dié wat ek nie ken nie.  Help my om met God se oë na hulle te kyk.


*Vandag gaan ek vriendelikheid kwistig uitdeel aan almal om my.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~








Friday, 28 December 2012





♥ VRIENDELIKHEID ♥

Die liefde is lankmoedig en vriendelik.  -  1 Kor 13:4  OV

Wanneer daar ‘n glimlag op my lippe is, kan ek nie dink aan  onaangename dinge of ongeduldige woorde uitspreek nie.  Met ‘n glimlag op my lippe dra ek warmte en vriendskap oor aan andere.
Vandag glimlag ek! ♥

Met ‘n lied in my hart erken ek die inherente goedheid wat daar in die ganse skepping is.  Met ‘n lied in my hart bly ek die hele dag kalm en rustig en kan ek my blydskap met ander deel. 
My hart sing vandag die hele dag! ♥

Met vriendelikheid teenoor almal deel ek die seëninge uit wat ek vandag het om uit te deel.  Alles wat ek vandag doen, gaan goeie verhoudinge en harmonie om my bevorder.  Ek het begrip vir ander, is geduldig, in dink aan die behoeftes van ander en is gedurig op die uitkyk vir geleenthede om liefde en vriendelikheid te betoon.
Vandag is ek vriendelik en behulpsaam! ♥

Ek onderneem plegtig om vandag met ‘n glimlag op my lippe en ‘n lied in my hart, vriendelik te wees teenoor  ♥ elke persoon ♥ wat my pad mag kruis!  Selfs óók teenoor mense wat lelik optree teenoor my, want een of ander tyd gló ek, gaan die voorbeeld van my vriendelikheid, ook ‘n glimlag op hulle gesig en ‘n lied in hul hart bring! ♥

Gebed:  Vandag is ek vriendelik en lankmoedig Heer!







Wednesday, 28 November 2012





VRIENDELIKHEID

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik.  – 1 Kor. 13:4

Ons gedagtes teenoor die mense in ons huis, werk, omgewing en wêreld, is vriendelik en mooi, en vir ons en vir hulle tot ‘n seën.  Ons soek en vind dit wat goed en mooi is in ons medemens en in ons wêreld, want ons weet God heers oor alles en almal heen, en ons opheffende gedagtes maak die deure tot Sy seëninge wyd oop.

Ons vriendelike gedagtes laat ons ook vriendelike woorde gebruik, woorde wat harmonie en welwillendheid skep waar ons ons ookal mag bevind.  ‘n Vriendelike woord kan vir ‘n ongelukkige persoon kleur gee aan ‘n andersins vaal dag.

Woorde wat getuig van ons liefde en belangstelling, bring heling mee vir die een wat hulle gebruik sowel as vir die een wat luister.

Kom laat ons vandag met nuwe oë kyk na ons wêreld en die mense van ons wêreld.  As ons alles en almal opdra in gebed, sal ons gedagtes teenoor andere mooi en goed wees, en ons woorde sal seëninge oordra.  Rus en vrede sal heers in ons gemoed want ons weerkaats die liefde van Jesus uit en ander mense sal Hom in ons sien.  Wat ‘n wonderlike geleentheid vir jou en vir my om iets groots te doen vir ons medemens wat niks kos nie!

Gebed:  My gedagtes en woorde is liefdevol en vriendelik.

~ Uit Daelikse Woord ~