Sunday, 8 January 2012





DIE ANTWOORD


Roep My aan, Ek sal jou antwoord.  -  Jer. 33:3


Ja, My geliefde kind van die Lig, Ek het jou oproep gister gehoor, en vandag gee Ek vir jou ‘n baie spesiale besem wat ek gelaai het met My Lig, My Liefde en My Krag, en al die seëninge van ons Hemelse Winkel.  Vat nou hierdie besem en vee al die spinnerakke, al die stof en versperrings in jou brein daarmee uit, en Ek sal weer jou denke helder verlig.

Vee die kommer, sorge en wrewel in jou hart uit.  My liefde sal oorneem, en jou hart sal ‘n hart word vol liefde en mense-deernis so ver jy gaan.

Vee al die vrese en twyfel en gevoel van swakheid uit jou gemoed, en my krag sal oorneem en jou weer op jou voete plaas – jy sal ‘n wenner wees!

Bêre nou hierdie besem op ‘n plek waar jy dit nooit kan miskyk nie.  Gebruik dit, en jy sal saam met My veilig en vrolik kan voortgaan met jou lewe so skoon en rein, altyd gereed om te gee wat jy kan en het om te gee, op hierdie tyd en op hierdie plek.


Gebed:  Dankie, Heer, vir die wonderbesem wat gebed is.


~ Uit Daelikse Woord ~


Thursday, 5 January 2012




LAAT LOS


Julle gees en gedagtes moet nuut word;  lewe as nuwe mense.  
Ef. 4:23-24


Enige tyd is reg om dankie te sê vir geestelike hernuwing.  Net soos bloeisels in al hul prag en skoonheid uit die doppe wat hulle gebonde gehou het, uitbars, so is ek ook vry om alles wat my gebonde gehou het in die verlede te los.

En as ek laat los en God laat oorneem, word ek bewus van die grootsheid van Sy polsende lewe in my en om my.  Ek aanskou die wonder van die ontluikende natuur, en word een met die wonder van Gods liefde en krag.

My denke is suiwer en skoon, want ek is vry van alle wrewel en onaangename herinneringe van die verlede.  Gods liefde vul nou die plek daarvan, en enige gedagte wat nog ‘n greintjie van twyfel in my gemoed wil saai, wis Hy onmiddelik uit.  Ek is rustig en ontspanne, bekommer my nie oor die toekoms nie, en is nie bang vir dit wat voor my lê nie.

Met nuwe oorgawe los ek alles wat my aangaan in God s bekwame hande, en is is heerlik, gelukkig en vry!


Gebed:  Ek laat los en laat God alles hanteer!


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 4 January 2012




Jou Altyd-by-jou-God

Die Feesvier-dae, familiebyeenkomste en rustyd het saam met die laaste 2011-brander weggesypel en 2012 lê uitgetrek voor ons. Natuurlik sou dit lekker wees om nog so ‘n paar sorgvrye dae in ons tasse te pak sodat ons dit deur die jaar weer kan gebruik. Ons sou ook graag die vrede wat ons in hierdie tyd mekaar toegewens het in ons strandhanddoeke wil toedraai sodat ons dit deur die jaar weer op ons harte kon strooi. En dan wens ons heimlik dat wáre seën werklik vanjaar ons deel sal wees. Want saam met die opwinding en uitdagings van ‘n nuwe jaar, lê daar tog maar onsekerheid en vrees oor die onbekende.

Kom ons pak 2012 aan met moed, verwagting en die stille wete dat ons ‘n Verlosser het wat gekom het om ewige vrede te bring, dat ons ‘n Vader het wat vir ons wíl en sál sorg en dat sy Gees hier en nou ín ons is. En tot in ewigheid by ons sal bly. Kom ons word vir ‘n oomblik stil by die Een wat ons lewensreis ken, lank reeds ons pad vir ons beplan het, ons eindbestemming voorberei het en ons so graag ook in hierdie jaar met sy goedheid en teenwoordigheid wil bederf...


Here, dankie vir u geskenk van donskombers-vrede 
wat ek in hierdie dae kon ontvang. 
Dankie dat ek weer daaraan herinner kon word 
dat U Mens kom word het 
sodat ek u koningskind kan wees

Dankie vir die gawe van u oorloop-liefde 
wat U elke dag aan my wil uitdeel en 
dat u Woord en Gees my elke dag 
daaraan wil herinner 
dat ek u geliefde is.

Dankie Here, vir die kosbaarheid 
van u altyd-se-bý-my-wees. 
Help my om te onthou 
dat U nooit u verbintenis met my sal verbreek nie 
omdat ek u uitgesoekte bruid is.

Vanjaar wil ek vashou aan 
u onwankelbare beloftes van trou, 
die waarheid van u Woord, 
en die wonder dat U my elke dag 
wíl seën.

Ek wil nie die 2012-pad sonder u loop nie, Here! 
As ek dalk soms van U vergeet ... 
sal U asseblief dan aan my hart se deur klop 
en my net weer kom herinner aan die 
sagtheid van vrede, 
die onvoorwaardelikheid van u liefde 
en die sekerheid dat U, my Bruidegom, 
altyd by my ís?




MY GAWE


Ons dank God vir Sy onuitspreeklike gawe.   2 Kor. 9:15


Die grootste gawe wat ‘n mens kan ontvang, is die gawe van Gods Heilige Gees.  Hierdie gawe is aan elkeen van ons gegee.

Die gawe van Gods Heilige Gees is die gawe van die lewe self.  “Die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus.”  Laat ons die gawe van die lewe aanvaar – lewe wat genees en vernuwe, lewe wat deur ons vloei as ‘n magtige helende stroom.

“Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.”  Ons het elkeen sy eie spesiale gawe van God wat ons uniek maak.  Laat ons hierdie gawe gebruik want ons dra by tot die welsyn en die geluk van ander sowel as tot ons eie innerlike geluk en welbehawe as ons ons God-gegewe gawes gebruik.

“Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie.”  “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het … soos ‘n vuur moet aanblaas.”

Daar lê groot kragte en moontlikhede in ons want ons het die gawe van Gods Heilige Gees.


Gebed:  Dankie Heer, vir U onuitspreeklike gawe.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 3 January 2012




LIEFDE

Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hievan is die liefde!  - 1 Kor. 13:8

Liefde bly – hoe groot is hierdie waarheid nie, maar dit het ‘n kanaal nodig om deur te werk.  Ek maak dus my hart en gemoed oop vir die liefde van Christus om vrylik in my, deur my en om my te vloei en te werk.  Wanneer ek dit doen, word nie net ék daardeur geseën nie.  My medemens, my land en my wêreld en alles daarop, word ook daardeur geseënd.

Vandag leef ek die liefde van die Heer van my hart ten volle uit.  Dis die soort liefde wat onvoorwaardelik vergewe, wat alle struikelblokke oorkom en harmonie en vrede skep so ver ek gaan.

Dit is die soort liefde wat deur my gedagtes, my dade en my woorde werk om dié wat moedeloos is, op te hef en met nuwe moed te vul, om dié wat gebroke van hart is, te vertroos.

Dis die soort liefde wat oor die klein menslike struwelinge, twis en tweedrag heen kyk, en die lig sien deurbreek in selfs die donkerste nag.  Dis die soort liefde wat beskerm en vrede bring.

Gebed:  Dankie Heer, vir U grootse liefde ook vir my.

~ Uit Daelikse Woord ~


Monday, 2 January 2012




BOODSKAP VIR 2012

Saggies roep Hy jou naam in die wind...

Ek is altyd by jou My kind, jy hoef nie te soek om My te vind,

deur bloed is jy aan My gebind...

niks sal ooit met jou  gebeur, plaas My net in beheer...
jou geloof is al wat ek vra,

My genade sal jou altyd dra ... al wat y moet doen is vra...

Ek is baie lief vir jou, begin deur om My te vertrou en
in My Hand sal ek jou altyd styf vas hou.





LIG


Julle is die lig vir die wêreld. – Matt. 5:14


Skyn in en deur my, lewende lig van Christus.
Verlig my wese met suiwer lig, stralende lig, gloeiende lig.

Skyn in en deur my, lewende lig van Christus.
Verdryf duisternis, verdryf twyfel, verdryf verwarring.
Verlig my denke en maak my geestesoë oop sodat ek U lig kan sien. 

Skyn in en deur my, lewende lig van Christus.
Laat ligstrale dwarsdeur my wese skyn.  Herskep en hernu my met u helende lig.

Skyn in en deur my, lewende lig van Christus.
Skyn in en deur my hart as liefde – liefde wat vrede en vergifnis bring, liefde wat harmonie en begrip bring.  Vul my met U liefde en maak my tot seën van ander.

Skyn in en deur my, lewende lig van Christus, sodat ek ‘n lig in my wêreld mag wees en ook ander na U lig mag bring.


Gebed:   Skyn in en deur my, lewende lig van Christus.


~ Uit Daelikse Woord ~