Showing posts with label LIEFDE. Show all posts
Showing posts with label LIEFDE. Show all posts

Monday, 15 February 2016

Liefde








LIEFDE


Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en ... jou naaste liefhê soos jouself.  -  Mark. 12:31


My siel sing in my, my gees voel vry en ongebonde!  So voel ek elke dag met al die Lig wat so helder in en deur my skyn.  Maar hiermee saam kom seker die grootste uitdaging ooit vir die mens wat homself as ‘n Christen sien – ‘n mens in wie Christus nou opgestaan het in die ware sin van die woord, want in so ‘n mens is dit nie net die Lig wat sigbaar is nie – ons mag nie die Liefde of die Krag vergeet nie!  Ek sal nie, Heer!


Ek sal opstaan want ek is die Krag wat kan, die Lig wat weet hoe, en die Liefde wat weet waar en wanneer.  Op die regte tyd, onder die regte omstandighede – dis waar en wanneer.  ‘n Liefde wat geen grense ken nie, altyd daar om te seën en by te staan, en tog – getint met die wysheid wat Lig bring, en onderskraag met die moed wat krag bring.


Dankie, dankie, Heer van my hart, vir U liefde wat my in staat stel om liefde te wees teenoor my naaste.  Dankie vir U Krag en Lig wat my omskep in ‘n liefde-mens!


Gebed:  U Heer, maak my ‘n liefde-mens, en ek sê dankie daarvoor dierbaarste Heer!



~ Uit Daelikse Woord ~


  Koningsdogters vir Jesus / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!



(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)



Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com

Monday, 17 February 2014





LIEFDE


Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here ... Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  -  2 Kor.  3:18


Wat is die boodskap wat ons dierbare Here Jesus Christus aan ons, Sy broers en susters oorgedra het?   Sy boodskap was by uitsték liefde.  In álles wat Hy gedoen en gesê het was Sy boodskap van liéfde, van léwe en gelóóf, kristalhelder.

Ons weet dat ware kommunikasie meer is as net woorde.  Ons raak andere eers werklik aan, wanneer ons hul vanuit die liefde in ons hart benader.  Ál ons gedagtes, ál ons gevoelens, laat ons éérs deur ons hart vloei.  Die mínder belangrike word verwyder, en slégs die súíwer goud van Sy liefde en lig bly oor.

Dit is dán wanneer ons woorde en ons dade slégs die heerlikheid van die Here wat in ons woon, weerspieël.  Ons vergifnis is spóntaan en géén woedebui kan staande bly in Sý heerlikheid, liefde en lig nie.

Sy liefde word deel van álles wat ons doen en sê, en dít wat ons met andere deel, is goud werd.


Gebed:  Ek weerspieël die heerlikheid van die Here.


~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 10 May 2013





LIEFDE


Lees – Johannes  4:7-21


Die vrug van die Gees ... is liefde  (Gal  5:22).


Die liefde waarvan Paulus hier praat, is goddelike liefde, liefde “ten spyte van”.   Tot hierdie liefde is ons nooit uit onsself in staat nie omdat dit indruis teen ons sondige natuur.  Tog is hierdie liefde vir God só belangrik dat dit heel bo-aan die lys van die vrug van die Gees staan.  As ons nie liefde in ons lewens het nie, is ons niks  (1 Kor  13:2).

God verwag van ons om ons medemens lief te hê met dieselfde onselfsugtige liefde waarmee Hy ons liefhet.  Ons moet ander liefhê al maak hulle ons soms kwaad;  al benadeel hulle ons;  al verkondig hulle onwaarhede oor ons.  Hierdie liefde is sonder voorwaardes en sluit selfs ons vyande in.  Ons moet húlle ook liefhê en bid vir dié wat ons vervolg (Matt  5:44).

In watter mate is hierdie liefde as deel van die vrug van die Gees in jou lewe teenwoordig?


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat ek kan liefhê omdat U my eerste liefgehad het.  Help my om ander ten spyte van al hul tekortkominge lief te hê met die liefde wat U vir my het.


*My liefde vir God word getoets aan my liefde vir my naaste.*


My verhouding tot my naaste is in baie opsigte die vertoonvenster van hoe my verhouding met God is (uit:  Ek glo in die Heilige Gees. Bybelkor).


~ Uit Nina Smit se Dagboek vir die Vrou ~





Wednesday, 8 May 2013





LIEFDE


Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.  -  2 Kor 13:13


Dierbare Heer, met my hele hart en siel glo ek in die krag van U liefde wat nou in en deur my werk en straal.  Dit heel en hernu my, en omdat ek glo in die krag daarvan, is ek ontspanne en ‘n heerlike gevoel van alles-is-wel, neem van my besit.  Ek is vry en het die krag om my God-gegewe talente en vermoëns uit te leef.

Dierbare Heer, dankie vir die lig van U liefde wat altyd in my en om my skyn.  Alles wat ek in hierdie lig doen, kry nuwe betekenis.   Ek sien hoe dit in en deur my skyn tot seën van elke mens en elke gebeurtenis in my lewe.

Dierbare Heer, uit die diepte van my hart dank ek U vir U liefde wat my hart tot oorlopens toe vul, wat in my en deur my vloei tot seën van my medemens en die ganse wêreld.  Waar U liefde heers, neem geluk en vrede oor.  Ek weet dit en ek glo dit.  My lewe verloop ordelik en alles is wel met my en met my wêreld.


Gebed:  Dankie Heer, vir die seën van U liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 21 December 2012





LIEFDE


Julle moet geloof in God hê.  -  Mark. 11.22


Ek glo in God en in Sy liefde in my en vir my, en besluit nou en hier om hierdie liefde waarvan my hart so vol is, ten volle uit te leef.

Hierdie besluit wat ek geneem het, is gegrond op my geloof, want geloof en liefde loop hand-aan-hand.  Hoe negatief en afbrekend die dinge wat met my ookal mag gebeur, die besluit wat ek geneem het om liefdevol te wees, staan vas.

Die bron van liefde, Jesus Christus, woon diep binne-in my hart.  My hart loop oor van liefde, en ek deel dit vryelik met my medemens.  Sou daar verskille kom tussen my en iemand anders – ‘n verskil wat dreig om ons van mekaar te vervreem, benader ek dit met liefde, en die dreigende onheil verdwyn soos mis voor die son.  Geloof en liefde saam is soos ‘n towerstaf wat net die goeie en die mooie in andere na vore laat kom.

My hele lewe kry nuwe betekenis as ek andere met liefde en deernis behandel, en hoe meer liefde ek so uitleef – en hoe meer ek gee, hoe meer ontvang ek, en hoe sterker word my geloof in die krag van Gods liefde en lig in my en om my.


Gebed:  Ek glo in God en in Sy nimmer-eindigende liefde vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday, 15 November 2012





LIEFDE


Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.  1 Joh. 4:19


God het ons lief.  Daar is geen voorwaardes wat ons moet nakom om Sy liefde vir ons te verdien nie.  Ons is Sy kinders.  Sy liefde is altyd tot ons beskikking deur Christus wat in ons hart woon.  As dit nodig is dat ons vandag opnuut aan hierdie waarheid herinner moet word, sal ons net stil word, en ons wend tot die Heer van ons hart.  Hy sal ons welkom heet en tóévou in Sy suiwer liefde.

‘n Stroom van liefde sal ons hart binnevloei en tot oorlopens toe vul.  Die foute van die verlede sal vergewe en vergeet word, en met ‘n hart waar die liefde self woon, sal ons blymoedig kan voortgaan op ons pad van lig.

Waar daar liefde is, is vreugde en vrede en voorspoed, en vol entoesiasme maak ons ons gereed vir al die seëninge wat God op ons gaan uitstort uit Sy Vaderhart vol nimmer-eindigende liefde.


Gebed:  Ek is ‘n kind van God, oorvloediglik geseënd.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 6 April 2012





LIEFDE


God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.  - Rom. 5:5


God het ons lief – net hier waar ons is, net soos ons nou is.  Ons hoef onself nie te verander of aan sekere standaarde of eise te voldoen nie – ons is geliefde kinders van ‘n hemelse Vader, en Sy liefde is onvoorwaardelik.

In Sy grootse liefde is ons toegevou, elke uur van elke dag, ongeag die omstandighede waarin ons ons mag bevind. Niks wat ons in die verlede gedoen het, kan Sy liefde vir ons laat afkoel nie. As daar iets is in die verlede wat ons nog hinder, lê ons dit aan Sy voete neer - Sy vergifnis is oombliklik en volkome. Die verlede, bestaan nie meer, en met die hede en die toekoms in Sy liefdevolle hande, werk alles vir ons ten goede mee.

Die liefde van God vloei in ons en om ons. Dit hef ons op, reinig ons hart van alles wat nie van die liefde is nie. Dit heel alle seer van die verlede, en met veerkrag in ons voetstap kan ons voortgaan op ons lewensweg.

Toegevou in hierdie wonder-liefde, is daar vrede in ons gemoed.


Gebed: Dankie dierbare Hemelvader dat U ons toevou in U oneindige liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 14 February 2012





LIEFDE



Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hievan is die liefde!  
1 Kor. 13:8


Liefde bly – hoe groot is hierdie waarheid nie, maar dit het ‘n kanaal nodig om deur te werk.  Ek maak dus my hart en gemoed oop vir die liefde van Christus om vrylik in my, deur my en om my te vloei en te werk.  Wanneer ek dit doen, word nie net ék daardeur geseën nie.  My medemens, my land en my wêreld en alles daarop, word ook daardeur geseënd.

Vandag leef ek die liefde van die Heer van my hart ten volle uit.  Dis die soort liefde wat onvoorwaardelik vergewe, wat alle struikelblokke oorkom en harmonie en vrede skep so ver ek gaan.

Dit is die soort liefde wat deur my gedagtes, my dade en my woorde werk om dié wat moedeloos is, op te hef en met nuwe moed te vul, om dié wat gebroke van hart is, te vertroos.

Dis die soort liefde wat oor die klein menslike struwelinge, twis en tweedrag heen kyk, en die lig sien deurbreek in selfs die donkerste nag.  Dis die soort liefde wat beskerm en vrede bring.


Gebed:  Dankie Heer, vir U grootse liefde ook vir my.


~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 19 January 2012




LIEFDE

God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 
1 Joh. 4:16

Hoe groot hierdie geskenk, hoe diep my dank!  Ek sal hierdie liefde my eie maak – ek sal in God bly, sodat Hy in my kan bly – sodat Hy my hart tot oorlopens toe kan vul met sy Liefde so groot, want dan sal ek nie ‘n klinkende metaal of galmende simbaal word nie.

Ek sal geduldig wees en vriendelik, ek sal nie afgunstig wees nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie.  Ek sal nie onwelvoeglik handel nie, ek sal nie my eie belang soek nie, ek sal nie liggeraak wees nie, nie boekhou van die kwaad nie.

Ek sal nie meer soos ‘n kind dink of praat nie, want ek is nou geestelik volwasse, klaar met die dinge van ‘n kind.

Ja, ek sal liefde wees, soos Jesus Liefde was en is.  Hy wat in my woon, is die bron van die liefde wat ek gee – die liefde wat ek ontvang en waarin ek bly – en dit stel my in staat om alles te glo, alles te hoop, en alles te wees wat Hy in my is.

Gebed:  God is Liefde, en ek bly in Sy Liefde!

~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday, 3 January 2012




LIEFDE

Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hievan is die liefde!  - 1 Kor. 13:8

Liefde bly – hoe groot is hierdie waarheid nie, maar dit het ‘n kanaal nodig om deur te werk.  Ek maak dus my hart en gemoed oop vir die liefde van Christus om vrylik in my, deur my en om my te vloei en te werk.  Wanneer ek dit doen, word nie net ék daardeur geseën nie.  My medemens, my land en my wêreld en alles daarop, word ook daardeur geseënd.

Vandag leef ek die liefde van die Heer van my hart ten volle uit.  Dis die soort liefde wat onvoorwaardelik vergewe, wat alle struikelblokke oorkom en harmonie en vrede skep so ver ek gaan.

Dit is die soort liefde wat deur my gedagtes, my dade en my woorde werk om dié wat moedeloos is, op te hef en met nuwe moed te vul, om dié wat gebroke van hart is, te vertroos.

Dis die soort liefde wat oor die klein menslike struwelinge, twis en tweedrag heen kyk, en die lig sien deurbreek in selfs die donkerste nag.  Dis die soort liefde wat beskerm en vrede bring.

Gebed:  Dankie Heer, vir U grootse liefde ook vir my.

~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday, 1 November 2011



LIEFDE


Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
- 1 Kor. 13:4-7 OV


Watter soort gedagtes koester ek as ek dit oorweeg om meer harmonie in my lewe in te bring?  Het ek al ooit in moedeloosheid uitgeroep, “Ag, as ek hom maar net kon verander!” of, “As sy maar net na my raad wil luister!”

Maar as ek met volle aandag na hierdie versugtinge van my kyk, sien ek dat dit alles te doen het met hoe ek die ander persoon kan verander, in plaas daarvan om te wonder wat  ék  kan doen.  As ek myself die middelpunt maak waarom my hoop en verlange na meer harmonie tussen my en andere draai, begin wondere in my en om my gebeur – vrede vul my hart en geduld my gemoed.  Die tye wat ek nou met hulle deel, word aangenaam en opbouend van aard, omdat  ék  vriendelik is en wys dat ek omgee.

As ek uit die hemelse liefde in my hart begin gee dit wat ek het en kan gee, soos gelei en gerig deur Hom wat in my woon, maak harmonie en vrede hul tuiste in my hart en in my samesyn met andere. Ek leef Gods liefde uit, en nooi andere om my voorbeeld te volg.

Gebed: Geduldig en vriendelik, skep ek liefde om my.


~ Uit Daelikse Woord ~