Friday, 16 March 2012





VERTROUE


U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap. 
 Ps 16:11


Ons vertroue in die Here neem van dag tot dag toe.  As ons daagliks ons vertroue op Hom stel, sal seëninge ons lewe begin binnevloei.  Hierdie vertroue wat ons so in Hom stel, beteken ook dat ons geen krag gee aan enigiets wat ons seëninge van ons mag weerhou nie.

Soms mag ons wens dat die dinge wat ons deurmaak liefs ‘n bietjie anders moet wees, meer aangenaam byvoorbeeld.  En tog, as ons mooi en diep begin kyk, sal ons vind dat daar ‘n seën in elke gebeurtenis in ons lewe skuil.

As ons sou terugkyk oor ons lewe tot hier, sal ons vind dat Gods volmaakte plan duidelik sigbaar is in alles wat ons ervaar het.  En met ons vertroue op God en Sy goedheid, kan ons seker daarvan wees dat Sy plan in die toekoms ook altyd tot ons hoogste heil sal werk.

Ons vertroue op God maak dit vir ons moontlik om ons seëninge raak te sien, in ontvangs te neem en te geniet.


Gebed:  Ek vertrou op God en vind rus vir my siel.


~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday, 15 March 2012





LUISTER

Dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.  – Mark. 9:7

God praat met my wanneer ek met my hele hart en siel daarna smag om Hom beter te leer ken.  Dis sy manier om my te roep, om my te laat ontwaak tot ‘n vol en ryk lewe, en ek antwoord op sy roepstem deur Hom in alle erns te soek.

God praat met my wanneer ‘n bybelversie of een of ander gedagte of iets wat ek lees, skielik vir my oopgaan en ‘n besondere betekenis kry.  So leer Hy my, en rig  en openbaar Hy aan my ‘n waarheid wat op daardie besondere tyd vir my van groot waarde is.  Hoe diep my dank hieroor!

God praat met my wanneer ek in my soeke na die regte oplossing, die regte weg, skielik voel dat ‘n sekere rigting die regte een is vir my om te volg.

En wanneer ek Hom opsoek diep in my diepste heiligdom, en Sy lig my denke helder verlig, sy liefde my hart vul en sy krag my hernu en verfris, dan ontwaak ‘n lied in my hart, en ek weet:  Hy is die bron van hierdie hemelse melodie – ek is sy geliefde kind, en ek luister!

Gebed:  God praat met my, ek luister en volg Sy lig!

~ Uit Daelikse Woord ~





HARTSEER NUUS





Ek het eergister die hartseer nuus gehoor dat my getroue bullterrier hondekind van 12 jaar oud kanker het.  Dit het vir my gevoel of my wêreld tot stilstand gekom het, want hier op aarde is sy my alfa en omega.  Sy is besig om te herstel van haar blaas operasie en die veearts se prognose is dat sy 'n goeie lewe kan lei vir nou, mits sy nie siek word nie.  Die kanker gewas is verwyder, maar daar is 'n klomp kleintjies wat besig is om nog te vorm.  As van hulle skielik moet groter word, sal hulle probleme veroorsaak met blaasverstopping en sal ons haar moet laat slaapmaak. Eergister, toe ek hierdie tragiese nuus gehoor het, was die tweede hartseerste dag in my lewe.  Die vorige was toe ek my man verloor het aan 'n hartaanval op 25 Februarie 2008.  Van toe af is sy my skaduwee, my bondgenoot en my wag. By haar is daar nie dubbele agendas nie. Sy is wat sy is en gee haar alles en niks minder as dit nie.  Dit is vir sy so treurig dat hierdie gevreesde siekte haar einde moet beteken.





DIE ANTWOORD

‘n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie.  – Jak. 1:6

Al is die uitdaging voor my hoe groot, daar is altyd ‘n plek waarheen ek my kan wend vir ‘n antwoord, en opnuut oortuig kan word dat Gods ordelike plan heers in my lewe, hoe deurmekaar alles ookal skyn te wees.  “Is U daar, Heer?  Kan U my hoor?”  bid ek, net om seker te maak dat Hy wel daar is, en my hoor.  ‘n Rus en vrede wat nie van hierdie wêreld is nie, vul onmiddelik my hart en gemoed.  Dis Hy!  Dit weet  ek, en met die ore van my siel, luister ek na sy sagte stem diep in my wese:

“Ja, my geliefde kind,  Ek is hier, en Ek luister.  Laat jou hart nie ontsteld wees nie, want Ek weet wat jy nodig het, nog voordat jy vra, en omdat jy My kind is in wie Ek ‘n welbehae het, sal Ek toesien dat alles in jou lewe ordelik en volgens plan verloop.

“Niks wat nie van die lig is nie, kan staande bly voor My helder lig nie.  Laat My lig in jou denke duidelikheid bring in elke uitdaging, voor elke eis, en Ek sal jou ‘n wenner maak.  Kyk, Ek bou ‘n muur van lig om jou, en geen aanval van wie ookal, kan jou raak nie.  Onthou, Ek is hier – Ek is altyd hier!”

Gebed:  Ek bid, ek glo, en ek sê dankie dierbare Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 12 March 2012





TROOS

God sal al die trane van hul oë afdroog.  -  Openb. 7:17

Wanneer ons moedeloos sit langs die pad, gebroke en der dae sat – iemand na aan ons is net weg, of het ons diep teleurgestel, dan is daar net Een wat ons waarlik kan vertroos, en dit is ons Heer.

Ons hoef net stil te word, ons binneste heiligdom binne te gaan vir Sy liefde om ons hart binne te vloei, vir Sy lig om ons gedagtes weer Godwaarts te rig, weg van die hart wat so gebroke is – weg van die teleurstelling.

En vloei die trane onkeerbaar – die hart is té stukkend, die emosies té deurmekaar, dan is dit weer Hy wat saggies en, o so teer, die trane een vir een van ons oë afdroog.  Soos helende salf is die wonder-liefde wat Hy op ons uitstort.  In die lig van Sy liefde word die seer minder seer, die wonde minder pynlik.

Dankie, Vader, vir U hemelse liefde ook vir my.  Dankie at U altyd daar is, of ek U nou in die nag of in die dag nodig het, ek weet U is steeds met my – U lei my en rig my, en weet an alles wat ek deurgaan.  Hoe groot die wonder van U liefde, Heer – hoe diep my dank!

Gebed:  Dankie, Vader, ek weet U is net hier by my!

~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday, 11 March 2012





GOD EERSTE


Here, U is my lewe.  – Ps. 16:5


Die Here is my lewe, en nooit is ek te besig of te moeg om Hom te loof en te dank vir die wonder van Sy teenwoordigheid in my lewe nie.

“Heer, ek plaas u eerste in my lewe, en omdat ek dit doen, kom net die beste in my na vore – die beste wat ek is in U.  Nader aan my as my beste vriend is U, altyd daar vir my, in my goeie tye en ook in die tye wanneer dit nie so goed met my gaan nie.  U vat my hand, vou my toe in U liefde, onderskraag en lei my elke tree van my weg.  Hoe kan ek U ooit genoeg bedank vir die wonder van U nabyheid en liefde, lig en krag in my lewe?

“U is dit wat oor my waak gedurende die dag.  U verhelder my verstand en stel my in staat om my heel beste te lewer, wat die uitdaging waarvoor ek te staan mag kom ookal mag wees.

“U is die liefde in my hart wat harmonie skep tussen my en elkeen met wie ek vandag te doen mag kry.  U lei my en rig my op al my weë, en aan U bring ek al die lof en eer van ‘n hart tot oorlopens toe vol liefde en danksegging.  Dankie, Heer!”


Gebed:  Dankie Heer, vir die wonder van U nabyheid.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 9 March 2012





LAAT  LOS,  LAAT GOD


Laat U wil geskied.  – Matt. 6:10 OV


Ek mag so seker wees dat dit wat ek dink reg is, dat ek in die pad van Gods volmaakte plan kan staan.  Om seker te maak dat  SY wil geskied, los ek alles in Sy hande en laat Hom oorneem.

Ek laat los.  Ek raak ontslae van alle vooropgestelde idees omtrent mense en gebeure, en laat die goeie op ‘n natuurlik, ordelike manier ontvou.  Ek sien net die mooie en die skone in alles en almal om my, en besef al hoe meer dat Gods plan besig is om te ontvou.

Ek laat Gods liefde deur my vloei.  Deur alles te los en Hom toe te laat om oor te neem in my lewe, maak ek my hart oop vir Sy liefde om dit binne te vloei en tot oorlopens toe te vul.  Hierdie grootse liefde kan gesien word in my handel en my wandel, en maak my vry van enige bande wat ek of andere vir my opgelê het.

Hierdie grootse liefde bring nuwe begrip en verdraagsaamheid in my verhouding met andere.  Dit maak my oë oop vir die mooie in my en om my – dit help my om die lig te sien..


Gebed:  Ek laat los en laat Gods liefde oorneem.


~ Daelikse Woord ~