Sunday, 9 September 2012






DANKIE,  VADER


Wees altyd bly.  Bid gedurig.  Wees in alle omstandighede dankbaar.
1 Tess. 5:16-18


“Heer van my hart, ek is miskien nie daartoe in staat om my gedagtes en gevoelens in digterlike woorde van lof en dank uit te druk nie maar my hart is vol lof en waardering.  Ek weet dat my eenvoudige  “Dankie, Vader”,  U bereik, en dat U sal verstaan dat dit gevul is met my waardering vir die skoonheid van hierdie môre, en die mense wat my dag sal vul.  My  “Dankie, Vader”  vertel ook vir U van die waardering wat ek het vir die liggaam waarin ek lewe, vir al die wonderlike dinge wat dit vir my doen en my toelaat om te doen.

Terwyl ek  “Dankie, Vader” sê, wel daar in my hart ‘n gevoel op wat nie maklik is om te beskryf nie.  Ek onthou ou klein dingetjies waarvoor ek dankbaar is.  Ek onthou die viooltjies van verlede lente, ‘n kerskaartjie van ‘n vriend wat ek gedink het my al vergeet het, ‘n kind wat sy vriendskap aangebied het.

Dis maar ‘n paar van die gedagtes in my oorvol hart terwyl ek my na U wend in lof en waardering, Heer van my Hart.”


Gebed:  Dankie, Vader!


~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday, 8 September 2012






Angus Buchan - 'n gebed vir ons land!!!

AS ONS NIE BID NIE GAAN NIEMAND ONS HELP NIE. NET GOD KAN SUID-AFRIKA, EN ONS HELP!
GEBEDSAKSIE (DIT SAL NET 10 SEKONDES NEEM)

Kom ons begin met 'n gebedsaksie vir ons land.
Ons doen dit soos volg:


*Wanneer jy hierdie bbm ontvang,

*Bid sommer net daar waar jy nou sit...

*Nadat jy gebid het, stuur jy hierdie bbm asseblief aan.


BID SAAM:


Ons Hemelse Vader, ons bid vir berou + bekering. Vader ons

bid vir vergifnis van ons sonde.

Ons bid dat U die mense se geestelike oe + ore sal

oopmaak.

Ons bid dat U die mense in Suid-Afrika genadig sal wees +

sal seen.

Ons DANK U vir reen wat reeds geval het + bid dat U

genoeg reen sal stuur na plekke wat smag daarna.

Ook dat U alle onskuldige Suid-Afrikaners sal beskerm teen 

al die geweld. En dat daar 'n positiewe verandering in Suid-

Afrika sal plaasvind..

Ons bid dit in die Naam van JESUS, ons Koning.







LAAT LOS LAAT GOD


Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. – Kol. 1:27


Weet u dat daar binne-in u ‘n krag skuil wat onoorkomelik is?  Niks kan hierdie krag oorwin of aan bande lê nie.  Dit is die krag van u eie inwonende Christus.

Nou, op hierdie oomblik, wag die krag van Christus om deur u gebruik te word.  U hoef nie te spartel en te spook om alles reg te laat uitwerk nie.  Die bron wat binne-in u is, stel u in staat om ‘n wenner te wees in die lewe.  Nader Hom net in gebed, gee die leisels van u lewe oor in Sy bekwame hande, glo dat Hy in beheer is van alles wat u aangaan, volg die leiding soos Hy dit aan u stap vir stap openbaar, laat los en laat Hom toe om oor te neem.

Probleme verdwyn in die niet as u Sy liefde, lig en krag deur en om u laat skyn en werk.  ‘n Heerlike gevoel van vryheid en blydskap sal u hart binnevloei – so asof ‘n gewig van u skouers afgerol het.

As u laat los en God laat oorneem, moet u net onthou dat die krag van Christus wat nou in u en deur u werk, van u ‘n wenner maak.


Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 6 September 2012





VRY


Van nou af laat Ek julle nuwe dinge hoor.  –  Jes.  48:6


Die wonde en die seer van gister is weg en die griewe van die verlede is verban.  My gedagtes is verhewe, my gevoelens is genees en net liefde heers in my hart.  Vandag is nuut en ek is nuut.  Ek is vry, vry, vry, gelukkig en vol vrede!

Ek kyk met liefde en waardering na die mense in my lewe.  Ek herberg geen kritiek of veroordeling nie.  Daar wel ‘n nuwe gees van liefde en vergifnis en begrip in my op en ek vergewe en vergeet die foute van die verlede.  Vandag is ‘n dag van harmonie en vrede, ‘n dag om te seën en tot seën te wees.

Gister se geloof in siekte, gebrek en ongelukkigheid vorm nie vandag deel van my gedagtes nie.  Vandag reageer ek op ‘n positiewe manier op die uitdagings van die lewe.  Ek verheug my in die besef dat ek nie aan enigiets negatief gebonde is nie.  Vandag is ‘n nuwe dag, ‘n nuwe begin.  Ek is ‘n nuwe ek!  Ek is bly om te lewe!


Gebed:  Dagsê nuwe dag!   Dagsê nuwe ek!   Ek is bly om te lewe!  Baie dankie Dierbare Here!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 3 September 2012








SY STEMPEL

Wie het die lied van die Lente geskryf
op maat van die wieke van die wind?
Wie het die voëltjies so vrolik leer fluit;
die stroompies wat kabbelend klink?
Wie het die natuur uit sy slaaptyd gewek
en in kleure getooi vir ‘n fees;
die saadjies gevra om tot wasdom te kom
en die toonbeeld van lewe te wees?
In elke bergketting, in elke molekuul
bespeur ons die Skepper se hand,
en elkeen bevoorreg om dit te mag sien of hoor,
se hart sal bewonderende brand.
Op al hierdie skoonheid, liefde, geluk –
het die Skepper sy stempel van Lig afgedruk.




GODGERIGTE  STREWE


By U is die fontein van die lewe.  -  Ps. 36:10 (OV)


Die mens is gedurig op soek na opwinding en avontuur.  Hulle vind berge om te klim, oseane om oor te steek en die onbekende om te ontgin.

Daar is egter ‘n baie groter en belangriker reis wat my toewink – ‘n ontdekkingstog wat my lei tot die grootste ontdekking van alle tye, die ontdekking van die Gees van God, Christus self, wat binne-in my woon, en met entoesiasme reageer ek hierop.

My strewe is heilig – dis ‘n strewe wat my lewe vir ewig kan verander.  Doelgerig gaan ek voort op hierdie weg, want ek vervul ‘n innerlike strewe wat nie meer ignoreer kan word nie.  Dis Sy Gees in my wat my uitdaag om die oneindige moontlikhede my toebedeel in Sy lig, liefde en krag, te ontdek en met geloof antwoord ek op Sy roepstem.

My reis is na binne – na die stilte van my Siel waar my Heer op my wag.  Ek begin hierdie reis, nie met soveel fisiese treë nie, maar met geloof, en maak só ‘n groot sprong in my strewe na hemelse ontdekkings.


Gebed:  Ek is op soek na die fontein van die lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~