Sunday, 7 October 2012






VERKWIK


Na waters waar rus is lei Hy my heen.  Hy verkwik my siel.   
Ps. 23:2-3 OV


Die Here is my herder … Hy verkwik my siel.
Hy verkwik my siel met lig tot ek self weer die lig begin sien.
Hy verkwik my siel met liefde, en ‘n diepe rus en vrede vloei my hart en gemoed binne.
Hy verkwik my siel met krag, en ek kan weer opstaan en aangaan.
Hy verkwik my siel met deernis.
Hy verkwik my siel met geloof.
Hy verkwik my siel met ‘n diep, tintelende blydskap.
Hy verkwik my siel met ‘n lied van oorwinning.
Hy verkwik my siel met sy liefdevolle teenwoordigheid, en die seker wete:

Hy is hier!  Hy is daar!  Hy is oraloor!
By die wonder-waters waar rus is, daar word my siel voorwaar verkwik!


Gebed:  Dankie, Heer, my siel is verkwik!


~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday, 6 October 2012





TROOS


Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand.  -  Jes.  41:13


Wie vat ons hand as ons lewe rondom ons aan skerwe lê?  Wie vertroos ons as ons hart in duisend stukkies gebreek is?  Ons Here en ons God – Hy wat so sag en stil vir ons sê:   “Ek vat jou hand.”  En as ons ons hand uitstrek en dit in Syne lê, is dit Sy liefde wat so sag soos dou die wonde heel en weer lig bring waar eens duisternis was.

As jy eensaam en allenig is, is Ek hier.
As jy bang is, is Ek hier.
As jy in pyn is, is Ek hier.
Ek is hier wanneer jy bid, en selfs wanneer jy nie bid nie.
Ek is in jou, en jy is in My.
Al slaag jy nie daarin om My te vind nie, Ek sal jou nooit faal nie.
Al is jou geloof in My nog so klein, My geloof in jou wankel nooit nie, want … Ek ken jou, en Ek het jou lief.
Geliefde, hier is Ek!


Gebed:  Vat my hand, Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~








Aan 'n Mooi Vrou.



Wat maak my swak? My vrese.


Wat maak my heel? My God.


Wat hou my staande? My geloof.


Wat maak my goedhartig? My vermoe om nie heeltyd aan myself te dink nie.


Wat maak my eerlik? My integriteit.


Wat hou my gedagtes skoon? My soektog na ware kennis.


Waaruit leer ek die beste lewenslesse? My foute.


Wat hou my kop omhoog? My trots, nie my arrogansie nie.


Wat as ek nie kan uithou en aanhou nie? Dit is nooit 'n opsie nie.


Wat maak my suksesvol? My moed om aan te hou met opstaan as ek geval het.


Wat maak my bevoeg vir alles wat ek doen? My selfvertroue.


Wat maak my mooi? My alles!


Wat maak my 'n vrou? My hart.


Wie is ek? Ek is voluit vrou!



Vir mooi oë, kyk altyd na ander se goeie eienskappe;

Vir mooi lippe, net vriendelike woorde;

Vir grasie, loop met die wete dat jy nooit alleen is nie.


Seenwense!






Friday, 5 October 2012





IN GODS LIEFDEVOLLE SORG


Laat U liefde en trou my voortdurend bewaak.  -  Ps. 40:12


Heer van my hart, hoe heerlik om te weet dat ek vandag – elke oomblik van hierdie mooi dag, veilig en beskut is in U liefdevolle sorg.

In U arms, so teer en sag, het ek vanoggend wakker geword, en sonder die geringste vrees of kommer, gaan ek hierdie nuwe dag tegemoet.  Dankie, Vader, vir die wonder van U liefde altyd daar vir my – U liefde en trou wat my voortdurend bewaak!

By my werk is dit ook U wat my verstand helder maak, sodat ek alles wat ek moet doen met sukses kan afhandel.  U lig, Heer, verhelder my denke, en maak my ‘n wenner op my pad van lig – dankie, Vader!  U liefde, Heer, waak oor my, en veilig en gerus ry ek, werk ek, en woon ek in my huis – dankie, Vader!

Met U lig in my gedagtes en U liefde in my hart, is vandag ‘n geseënde dag – ‘n dag waarin ek met vaste tred wandel in U lig, en met ‘n hart vol liefde ligbring-liefde gee aan ‘n ieder en ‘n elk wat my pad mag kruis.


Gebed:  U liefde, Heer, waak oor my.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 2 October 2012





BESKERMING


Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee.  -  Ef.  6:11


Wapenrusting word beskryf as die dinge waarop mens vertrou vir beskerming, en in die Bybel beskryf Paulus die volle wapenrusting van God as:  “die waarheid … geregtigheid … die evangelie van vrede, … die skild van geloof.”

Vir my beskerming trek ek die volle wapenrusting van God aan.  Eerste trek ek die waarheid aan deur te bevestig dat ek ‘n kind van God is, beskerm en gelei deur my liefdevolle Vader, waar ek ookal mag gaan.  Ek trek aan geregtigheid, want my lewe is in ooreenstemming met die wet van God.  Ek trek vrede aan.  Ek weet die vrede wat ek uitstraal, sal ook vrede na my toe aantrek.  Maar bowe alles, trek ek die skild van geloof aan.  My vertroue is op God wat almagtig is en in staat daartoe om my volkome en sonder faal te beskerm.

Ek word geheel en al beskerm deur God, bedags en snags, tuis of weg.  Ek sien almal vir wie ek bid ook geklee in die volle wapenrusting van God.  Ook hulle is veilig en beskermd te alle tye.


Gebed:  Ek trek die volle wapenrusting van God aan.


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 1 October 2012








Jy lewe in die skuilplek van die Allerhoogste! 



Jy is geanker, nie in mense nie, maar in die Lewende God!



Hy is jou Stuurman, Leidsman, Advokaat en Helper. 



Hy is jou Kompas, jou Padkaart en jou Gids ... jou Beste

Vriend, Vader en Vertroueling! 



En jy is sy Kosbare Kind! 



Bid hierdie Gebed saam met my en ontvang die SEEN van

die Almagtige!

~ Hansie ~




GENADE


Die Here het ook die boodskap van Sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen.  -  Hand. 14:3


As ek probeer vasstel wat die presiese betekenis van genade is, voel dit vir my asof ek iets so ontwykend soos ‘n donsie wat in die lug ronddryf probeer vasvang.  Ek mag dink ek het dit, maar as ek my hand oopmaak, is daar niks.

Gelukkig hoef ek niks meer omtrent genade te verstaan as dat dit Gods liefde in aksie is nie!   Ek doen niks om dit te verdien nie, maar my hemelse Vader het my lief, en in Sy grenslose liefde seën Hy my elke oomblik van elke dag só oorvloediglik, dat ek voel ek kan net nie genoeg dankie sê vir al die seëninge wat my dae so ryk en vol maak nie.  Dankie, dierbare Vader!

Dankie dat U altyd daar is vir my!  Selfs in die donkerste van tye in my lewe, wanneer ek nie U aanwesigheid kan aanvoel of U stem kan hoor nie, weet ek dat U elke sekonde rondom my is en my dra in U oneindige genadige krag en liefde, binne U troue Vaderarms.  Dankie Heer, dat ek vol vertroue kan voortgaan op my pad van lig, vas vertrouend op U genade en liefde om my steeds te lei en te beskerm teen enige onheil wat my mag bedreig.

En, Heer, dankie vir U genade en ontfermende liefde vir ons wêreld en sy mense.  Daarsonder sou ons nooit kon voortbestaan nie!


Gebed:  Dankie, Vader, dat U ons so oorvloediglik seën met U genade en liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~