Saturday, 8 December 2012





HELING

Besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? 
1 Kor. 6:19

Die krag van die Heilige Gees werk gedurig in my en deur my.  Dit is ‘n lewenskrag wat genesing bring en hernuwing.  Met my aandag hierop gevestig, kan uiterlike dinge my nie skade aandoen nie. Na liggaam en gees is ek heel en vry.

Die krag van die Heilige Gees maak my gesond.  Dit is die lewenskrag van God wat voortdurend in my en deur my vloei.  Elke sel, spier en orgaan van my liggaam, werk doeltreffend en in harmonie saam om ‘n gesonde liggaam te verseker onder die invloed van hierdie hemelse stralende lewenskrag.  Om te dink – hierdie krag is binne-in my!  Dit maak my sterk en hernu elke deeltjie van hierdie liggaamstempel.

Die krag van die Heilige Gees maak my gesond.  Hoe groot die blydskap vir hierdie genade-gawe van ons ons dierbare Heer – baie, baie dankie Vader!

Dankie vir die vrede en rus wat nou my gemoed binnevloei, omdat ek oortuig is daarvan dat ek deur die krag van U Heilige Gees in my genees word.

Gebed:  Dankie Heer, vir U wonder-werkende Heilige Gees in my!

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 6 December 2012






DANKIE,  VADER!

Ek wil die Naam van God prys met ‘n lied en Hom groot maak met danksegging.  -  Ps. 69:31 OV

Dankie, Vader!   Met ‘n siel wat sing van vreugde nader ek U vandag in die gebed.  U is so goed vir my.

Dankie, Vader!   My hart en siel loop oor van blydskap as ek dink aan al die wonderlike dinge waarmee U my voortdurend seën.

Dankie, Vader!   Ek is so bly oor U liefde wat steeds in my en rondom my vloei, en my en my geliefdes heel en gesond maak.  Deur die oop vensters van my hart vloei U liefde om almal wat my lewe aanraak, te seën.

Dankie, Vader!   Ek is bly, want U wysheid lei my, maak my voorspoedig en helder van begrip.  Dit vloei deur my om ook andere te inspireer.

Dankie, Vader!   Ek is bly, want U lewe hernu my en vul my met stralende energie.  Ek is oop en ontvanklik vir U lewenskrag, U liefde en wysheid om steeds in my en deur my te werk en te straal.  As U kind van lig, is U goedheid ook deur my tot seën van my medemens.

Gebed:  GOD IS SÓ GOED  VIR MY!

~ Uit Daelikse Woord ~



Monday, 3 December 2012






VANDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het.  -  Ps. 118:24


VANDAG  gaan ek met vreugde binne, bly-opgewonde oor ál die ervaringe wat daar op my wag.  Dit nooi my om te deel in die lewe, te deel in blydskap, vrede en liefde en ‘n oorvloed van seëninge sonder maat.

KOM BINNE!  sê die dag vir my.  En ek gaan met moed en durf binne, want  ek weet die 24 uur wat hierdie dag my bied, is goue ure, ure wat ek produktief, verstandig en met ‘n lied in my hart moet gebruik.

Hierdie dag is soos ‘n deur wat gemerk is:  GELEENTHEID.  Ek gaan my oë oophou, want ek weet in die loop van hierdie dag is daar baie geleenthede om nog meer te leer en nog verder te groei.  Daar is baie geleenthede om andere te dien en te versorg, om te gee en te ontvang.

Hierdie dag is soos ‘n deur wat gemerk is:  LEWE!  En hoe gaan ek nié vandag lewe tot verheerliking van Koning Jesus nie!  Ek gaan só gelukkig wees, en sing op my weg omdat ek so báie het van die Heer om te gee!


Gebed:  Dankie, Hemelvader, vir hierdie wonder-mooi dag wat U so genadiglik vir ons U mensekinders geskenk het!


~ Uit Daelikse Woord ~












OOP DEURE


Kyk, Ek het ‘n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie.  -   Openb. 3:8


Ons sal vandag baie deure oopmaak en baie deure sal vir ons oopgemaak word.  Ons sal die deur van ons huis en miskien die deur van ons motor oopmaak.  Die deur van ‘n bus of ‘n trein.  Die deur van ‘n vriend of familielid of die deur  van die plek waar ons werk, kan vir ons oopswaai.  Maar daar is net één deur wat altyd vir óns oop is – die wonderdeur wat ons lei tot binne-in Gods koninkryk, daar waar ons dierbare Heer áltyd op ons wag.

Hóé groot hierdie ongelooflike voorreg vir ons, Gods mensekinders!  Al die wysheid wat ons ooit nodig mag hê, al die insig en begrip wat net sy Lig kan bring, al die geduld en deernis wat net sy Liefde vir ons kan gee, al die moed en durf wat net sy Krag ons kan gee – dit is vrylik tot ons beskikking as ons deur hierdie wonder-deur sy koninkryk binnegaan.

Maar hoe hou ons hierdie deur oop sodat ons enige tyd van die dag met Hom in verbinding kan bly?  Gebéd ontsluit hierdie deur – toewyding en liefde hou dit oop!


Gebed:  Ek bid, en die één wonder-deur bly oop!


~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday, 2 December 2012





DAERAAD VAN LIG

Ja, jý sal die moeite vergeet; soos aan water wat verbygeloop het, sal jy daaraan dink.  -  Job. 11:16 OV

Hoe welkom is die môreson na ‘n donker nag!  Na ‘n tyd van leed en ongelukkigheid, hoe welkom is die daeraad van Lig!

‘n Nuwe dag het vir my aangebreek, ‘n nuwe pad lê voor my oop.  Al die ou seer en die ou ongelukkigheid is soos water wat verbygeloop het.  Ek waardeer en vertroetel alles wat goed en mooi was in my lewe en die res vergeet ek.

Ek is ook daartoe in staat om ander mense op te dra aan die ondersteunende, vrymakende liefde van God.  Vandag is ‘n nuwe dag in my lewe, ‘n dag van lig, ‘n dag van nuwe toewyding, ‘n dag waarin ek die liefde van God geniet en ook oorvloediglik gee aan andere.

Hoe wonderlik is die lewe!  Hoe allesomvattend is God se liefde vir my!  Hoe vry is ek om te groei in geloof, om hierdie dag gelukkig, vol vertroue en met blydskap in te gaan!

Gebed:  ‘n Nuwe dag het vir my aangebreek!

~ Uit Daelikse Woord ~





Saturday, 1 December 2012





EK HET JOU LIEF

Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde.  -  Jer. 31:3  (OV)

Ja, geliefde, Ek het jou liefgehad deur die jare heen, Ek het jou nog steeds lief, en sal jou liefhê so ver jy gaan, want my liefde is ‘n ewige liefde.

Ek het jou liefgehad deur al jou ervaringe.  Ek het jou liefgehad toe jy ver van my af weggedwaal het.  Ek het jou liefgehad toe jy getwyfel het.  Ek het jou liefgehad toe jy nie die pad kon sien nie.  Ek het jou liefgehad toe jy nie in My geglo het nie, en Ek het jou liefgehad toe jy gedink het Ek hoor jou nie.

Ek het jou liefgehad toe jy triomfeer het en toe jy wanhopig was.  Ek het jou liefgehad toe jou hart vol blydskap was en Ek het jou liefgehad toe jou hart gebloei het en daar niemand was om jou te troos nie.

Ek het jou lief met ‘n ewige liefde wat nooit weifel en nooit faal nie.  Ek het  jou altyd en ewig lief.  Ek het jou lief met ‘n ewige liefde wat jou foute ignoreer en net sien hoe jy groei, hoe jou voetstappe uit die duisternis uit die lig in wandel, en hoe jou gees blom.

Onthou, My liefde is ‘n ewige liefde.

Gebed:  God het my lief!

~ Uit Daelikse Woord ~












HELING

Vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die Here;  en Ek sal hulle genees.  – Jes. 57:19  OV

Heer van my hart, ek voel vandag nie lekker nie.  U weet van die pyn, U weet van die seer, nie net in my liggaam nie, maar ook in my hart, en ek vra U, laat U helende krag nou in en deur my straal en dit wat nie in harmonie is met U liefde nie, dit wat nie helder verlig is in U lig nie, nou totaal uitwis.

In die vrede wat net U kan gee, ontspan en rus ek nou, sodat U lewenskrag wat klop in my hart en vloei in my are, lig kan bring, en liefde, deur heel my liggaam heen.

Ek maak my oë toe en ek sien hoe hierdie lig al hoe helderder in en deur my ganse wese begin skyn, en alles uitwis wat nie van die lig is nie – ek sien hoe U liefde my ganse wese in harmonie bring met die wonder van U lewe in my.  Ek glo in U helende krag wat nou alles wat verkeerd is regstel, en ‘n diep vrede wat net U kan gee, vul my hart en gemoed.  Uit die diepte van my hart sê ek, Dankie, Vader, dat U my gehoor het – dankie dat U my altyd hoor.  Dankie vir die wonder van U wat alles wat verkeerd is, reg stel.

Gebed:  U, Heer, maak my nou gesond. Baie, baie dankie!

~ Uit Daelikse Woord ~