Saturday, 19 January 2013





GELOOFSKRAG

Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.  -  Mark. 9:23  (OV)

Begin ek vanoggend sommer vroeg-vroeg al dink aan al die verantwoordelikhede wat vandag op my wag, en wonder stilweg of ek ooit in staat daartoe sal wees om alles reg en goed na te kom – glo ek dat ek kan?   Maar dan word ek stil voor die Heer van my hart – ek maak Sy krag ook my krag en met moed en durf sê ek:  “Ja, ek kan!”  want ek glo in die krag van my eie inwonende Christus wat my ‘n wenner maak op elke gebied van my lewe.

Wat vandag ookal vir my mag oplewer, ek glo dat alles slegs meewerk tot my hoogste heil, en al lyk die uitdagings soms hóé donker, met God aan my kant, wat is daar om te vrees?  Teëspoed is daar om te leer en te groei, voorspoed is daar om dit wat ek geleer het, uit te leef.

Ek glo vas:  VIR  GOD  IS  ALLES  MOONTLIK,  (Matt. 19:26), en wonder-vervulde moontlikhede gaan voor my oop in Sy heerlikheid, liefde en lig – vir my, en vir almal om my.

Ek glo, ja, ek sal aanhou glo in God wat oor alles heen heers!

Gebed:  Ek glo, en alles is moontlik!

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 17 January 2013





‘N VROLIKE HART

‘n Vrolike hart maak die aangesig bly.  -  Spr. 15:13  (OV)

Dierbare Heer van my hart, hoe bly maak dit my net nie om te weet dat U lewe, U liefde en blydskap is altyd daar vir my.   Dit is binne-in my – ‘n nimmereindigende fontein om uit te skep.

U maak my hart vrolik en bly, Heer, en in my gesprekke met andere, in my woorde en in my dade gaan ek U blydskap so diep in my hart, oordra aan elkeen met wie ek te doen mag kry.  Met woorde wat ophef en seën, U woorde Heer, gaan ek vandag ‘n baken van lig wees so ver ek gaan.

Maar, dierbare Heer, ek weet daar gaan tye kom wat ek miskien nie baie gelukkig gaan wees oor iets wat gebeur het nie, en vir ‘n wyle sal dit voel asof die lied in my hart stil geword het.  Maar dan word ek stil.   Stil gaan ek dan my diepste heiligdom binne, en daar gee ek alles wat die vrolikheid demp net so oor aan U, en ek sal daar bly Heer, tot my hart weer ‘n vrolike lied begin sing.

Ja, ek het ‘n vrolike hart wat deur alles in my lewe heen sing.  ‘n Vrolike hart omdat ek U ken op al my weë, Heer – en dit maak my aangesig bly!

Gebed:  My vrolike hart maak my aangesig bly – dankie, dierbare Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~






Tuesday, 15 January 2013





GOD  IS


Daar is net een … God en Vader van almal:  Hy wat … in almal woon.  -  Ef. 4:5,6


Omdat God is, is ek, want na sy beeld en gelykenis het Hy die mens geskep.

God is Lig, en in sy Lig is ek ‘n lig-mens.

God is Liefde, en in sy Liefde is ek ‘n omgee-mens.

God is Krag, en in sy Krag is ek ‘n wenner!

God is die bron van lewenskrag wat pols in my hart en vloei in my are – en ek is sterk en gesond.

God is die wonder in my wat my omskep in ‘n geestelike wese, wat my laat groei en gedy tot ek nie meer net sy kind is nie, maar ‘n volwasse seun of dogter wat meewerk om Sy koninkryk ‘n werklikheid te maak op hierdie aarde.

God is my Krag, my Liefde en my Lig – hoe groot die wonder – hoe diep my dank!

Mag ek nooit die wonder van my mens-wees in Hom enigsins skade aandoen of afbreek nie, maar altyd die baken van lig wees wat ek is in Sy Heerlikheid, Liefde en Lig!


Gebed:  God is my Krag, my Liefde en my Lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 14 January 2013





EK  IS

Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.  -  Joh. 14:6

Geliefde,  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”   Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.   Ek is die waarheid van jou wese.   Volmaakte lewenskrag en ewige rus en vrede, dit bied Ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.   Ek is die lig wat jou lei.   Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.   Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit van mekaar verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.   Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.

Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~






Sunday, 13 January 2013





VREDES  GEBED


God wat vrede gee, sal by julle almal wees!  -  Rom. 15:33


Dierbare Hemelse Vader, laat daar vrede op aarde wees.  Laat alle mense oraloor U liefdevolle vredegewende teenwoordigheid aanvoel.  Laat elke man, vrou en kind U oorvloedige voorsiening ervaar.  Laat elkeen van U kinders opnuut die waarheid besef van ons inherente geestelike identiteit en erfenis.

Heer, laat U Gees van samewerking en vertroue die hoeksteen wees van onderhandelinge tussen die nasies van die wêreld.  Laat elke land tekens van begrip en aanvaarding toon.  Laat alle mense die eenheid van gees wat ons bind, waarlik sien.

Liefdevolle Vader, laat vrede in die wêreld by my begin.  Laat ek afsien van bevooroordeelde denke en valse oordeel.  Laat samewerking en vertroue die hoeksteen van my lewe wees.  Laat U Heilige Gees van liefde en vrede in my wedergebore word en laat my liefde en vrede uitstraal in die kring waarin ek beweeg.


Gebed:  Laat lig en liefde en krag U plan op die aarde herstel!


~ Uit Daelikse Woord ~









Saturday, 12 January 2013





GELOOF

Want  nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.  -  1 Kor. 13:12  (OV)

Hoe waar is hierdie woorde nie!   Ons sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel, sover dit ons eie belange, ons land of ons wêreld se belange aangaan en ons wonder … en soms begin ons twyfel en word dan bang vir die toekoms.

Maar hierdie soort gedagtes en gevoelens is totaal onaanvaarbaar vir ons as kinders van God.   En ons wéét wat die antwoord is op hierdie raaisel.  Ons moet net bid en glo dat God in beheer is, want Hy IS – dit is Sy wêreld waarin ons woon.  Ons moet glo in Gods werke en planne daar waar ons nie kan sien nie, want niks ontgaan God se oë nie.  Ons geloof in die dinge wat ons nie kan sien met ons mense-oë of nie kan verstaan met ons mense-brein nie, is een van die kragtigste maniere om die deur oop te hou vir die Krag van God om sy werke te doen.

In ons gedagtes is daar geen oplossings nie, net verwarring en gevaar, maar in Gods magtige gedagtes lê die Plan en Oplossing duidelik en helder, en met ons geloof hou ons die deur oop vir Hom om sy wonder-werke te doen, in ons en deur ons, deur hierdie boodskap uit te dra na elkeen wat ons pad kruis met angs vir die toekoms in hul harte. Verseker hulle maar net dat God in beheer is, want hy IS!

Gebed:  Ek bid, ek glo, en die Plan van God sal seëvier.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 10 January 2013





‘N  SEËN


Jy moet  tot ‘n seën wees.  -  Gen.  12:2  (OV)


Here, in die stilte van hierdie môre-uur kom ek na U toe vir vrede, vir wysheid en vir krag …


om die wêreld vandag te sien deur oë vol liefde,
en geduldig, begrypend en sag te wees.
Om deur die voorkoms van dinge te kyk,
en U kinders te ken soos U hulle ken,
en dus in hulle niks anders behalwe die mooie te sien nie.
Maak my ore doof vir skinderpraatjies,
weerhou my tong van die onvriendelike woord,
en laat net seënende gedagtes in my woon.
Laat my so vol blydskap wees, so vriendelik,
dat almal naby my U teenwoordigheid aanvoel.
Beklee my in U skoonheid Heer, dit is my gebed.
Laat U Liefde, Heer, U Lig en Krag,
vandag in en deur my werk en straal,
tot sëen van andere.


Gebed:  Maak my vandag U seën, o Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~