Monday, 8 April 2013





GODS  PLAN

Ek weet wat Ek vir julle beplan het, sê die Here:  voorspoed en nie teenspoed nie;  Ek wil vir julle ‘n toekoms gee.  -  Jer  29:11

Ek weet dat Gods plan vir my goed is.  As ‘n probleem in my lewe opdoem, sien ek dit as ‘n geleentheid tot verdere groei, in plaas van ‘n probleem.

Ek mag geneig wees om my lewe in dele sien, met op en af tye.  Maar ek weet dat die patroon van my lewe geskoei is op Gods plan van goedheid vir my.

Dit is veral  belangrik om die mense en omstandighede wat my probleme gee, te seën.  As ek ‘n gewoonte daarvan maak om alles in my lewe met ‘n seën te benader, baan ek die weg vir die krag van Christus om oor te neem.  Deur elke uitdaging word ek al hoe meer bewus van Sy liefde in my en om my – van die werkinge van Sy krag in my en om my.

God het ‘n plan met my lewe, en as ek my elke dag in gebed voorberei om Hom te volg, sal Hy my lei volgens Sy plan,  Hoe bly en dankbaar maak hierdie wete my nie!

Gebed:  Lei U my Heer, volgens U goeie plan vir my.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 4 April 2013





SKUD  DIE  SELFBEJAMMERING  AF

Lees  1 PETRUS 4:12-19

Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.   1 PET 4:13

Sommige mense maak hulleself bedroef.   Hulle kla gedurig oor hulle lot en kan alleen die tekortkominge van hulle medemens raaksien.  Die geringste probleem word buite verhouding opgeblaas en hulle kan slegs oor hulle teleurstellings, swaarkry en verspeelde kanse gesels.  So plaas hulle ook ‘n demper op almal se lewensblyheid met wie hulle ookal in aanraking kom, want terneergedruktheid word kilometers ver aangevoel.

Om hierdie slaggat te vermy, moet jy vrede maak met jouself en onthou dat jou gesindheid teenoor die lewe van die uiterste belang is.  Dit mag wees dat jy deur moeilike en donker tye gaan en dat jy voel dat jy alleen staan en dat selfs God van jou vergeet het.  As jy egter jou selfbejammering van jou afskud en vra wat God vir jou in hierdie omstandighede wil leer, sal daar vir jou ‘n lig opgaan in die donker.

Glo met oortuiging dat God ‘n plan het met jou lewe en dat alles wat oor jou kom deel van sy plan is.  Vertrou Hom elke dag, elke tree, dan sal jy ‘n gevoel van veiligheid en vrede ervaar.  So word jy ‘n medewerker van God aan jou eie geluk en loop jou lyding uit op vreugde.

Gebed:  Heilige God, al verstaan ek nie altyd u weë nie, help my om ‘n vreugdevolle mens te wees omdat ek U in gehoorsaamheid volg waar U my ook al lei.

Om elke teenslag opnuut te verdra met moet en waardigheid; om in alles die goeie te sien – dít is die wese van ‘n sterk karakter – ARISTOTELES.

~ Uit Op Vlerke van Geloof deur Solly Ozrovech ~






Friday, 29 March 2013





GOEIE VRYDAG -  OORWINNING

Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare.  -  2 Kor. 4:18

Vandag herdenk ons seker die lelikste daad wat die mensdom nog óóit gedoen het op hierdie aarde – naamlik die kruisiging van die Seun van God.  As ons oë op die sigbare gebeurtenisse gerig is, sal ons seer sekerlik in sak en as gaan sit met hierdie herdenking.  Maar gelukkig, na al die eeue heen, kan ons ons oë op die onsigbare rig.

Die geloof van die dissipels was in flarde daar waar hulle gebroke voor die kruis van Jesus gestaan het.  Maar later het hulle geleer dat die kruis maar net ‘n stopplek was op die pad na oorwinning en die Opstanding.  Vir die sondes van die wêreld en die mens het Hy Sy bloed vergiet, en drie dae later het Hy opgestaan en geseëvier oor alles en almal wat Hom probeer breek het.

Laat ons dan ook vandag waar ons die kruishout gade slaan, alles wat ons aan bande lê – alle sondes en griewe, neerlê aan die voet van die kruis om daar skoongewas te word in Sy liefdesbloed, en ook ons sal, soos Jesus, oorwinnaars wees!

Gebed:  Dankie Heer, vir ‘n rein hart.

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday, 20 March 2013





GODS  LIEFDE


God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.  -  1 Joh 4:16


As jy vandag dink aan God, dink aan Sy wonderbaarlike liefde.  Dink hoe hierdie liefde van hom orals rondom jou is en orals aan die werk is.  Selfs in mense en omstandighede waar dit nie gesien kan word nie, is dit aan die werk, nou en vir ewig.

Dit is dus nodig om na almal en alles te kyk met die oë van liefde, want dit is liefde wat God genoop het om die wêreld en alles daarin te skep.  As ons dus alles om ons koester met liefde, werk ons in harmonie met God.

Hierdie liefde in harmonie met Gods liefde, kan wondere verrig.  Raak mense, gebeure en omstandighede saggies aan met Sy liefde in jou hart en sien hoe hierdie liefde heel, orde bring, lei en seën, reg laat geskied en vrede bring.  Wees bly en dankbaar oor Gods liefde wat steeds aan die werk is en wondere laat geskied.


Gebed:  Gods liefde verrig wondere.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 19 March 2013





MOED

Vertrou op die Here!  Wees sterk en hou goeie moed!  -  Ps. 27:14

Moed laat ons dadelik dink aan ‘n held, maar dit is baie meer as dit.  Dit behels ‘n sterk wil, deursettingsvermoë en vasberadenheid.

Ons beskik oor die nodige moed om ‘n nuwe beroep te begin, of ‘n nuwe vaardigheid aan te leer.  Ons het die moed om met welslae ‘n groep mense toe te spreek of ‘n moontlike nuwe werkgewer te nader.  As sekere dinge ons ontstel, het ons die moed om die werkinge van Gods lewenskrag in ons en om ons aan die werk, te bevestig, en te glo in die beste oplossing.

Ons het die moed wat nodig is vir enigiets wat ons graag wil aanpak, want Gods Heilige Gees woon in ons, en ons vertrou op Hom.  Dit is moed wat ons krag gee om aan te hou glo in selfs die grootste uitdagings waarvoor ons te staan mag kom.

Moed en geloof is al wat nodig is om die grootste twyfel en vrese te oorbrug, en ons te lei tot genesing, voorspoed en vrede in ons gemoed.

Gebed:  Op U, o Heer, vertrou ek!

~ Uit Daelikse Woord ~


Sunday, 17 March 2013





‘N  LIGTE  AANRAKING

In die Here is julle lig.  Leef dan as mense van die lig.  -  Ef.  5:8

Elke nuwe dag is ‘n spesiale dag as ek dit ‘n ligte aanraking gee.  Dit is ‘n dag wat ek seën met die lig van die Vader – die ware lig wat skyn in die duisternis – wat misverstand uit die weg ruim en mense inspireer om reg en ordelik op te tree.

Met die lig wat in my en om my skyn, is daar vrede in my gemoed.  My verstand is helder en ek lewer my heel beste.  Ek sien net die positiewe en die goeie in elke mens en in elke uitdaging.  In stilte seën ek alles waarvoor ek te staan kom, en oorhandig dit aan God vir lig en wysheid.

Ek gee die ligte aanraking van my liefde en lewensvreugde en entoesiasme aan elke mens wat my pad mag kruis.  Elke oomblik van elke dag hou ek in die lig van Gods liefde en sorg.  Die ligte aanraking bring lig in alles wat my aangaan.  Dit is ‘n wonderwerkende krag in my en om my, en laat my leef soos dit ‘n kind van die lig betaam om te leef.

Gebed:  Ek gee alles in my lewe ‘n ligte aanraking.

~ Uit Daelikse Woord ~

Saturday, 16 March 2013





GEBED  VIR  MY  KINDERS

deur  Geke Wiersma

Ek lê die name van my kinders in U hande.
Graveer Ú hul daarin met onuitwisbaar skrif.
Dat niks of niemand hul daaruit kan brand nie,
ook nie as satan hul soos koring sif.
Hou U my kinders vas as ek hul los moet laat
en laat U krag vir altyd bo hul swakheid staan.
U weet hoe eindeloos die wêreld hul sal haat
as hul nie met die wêreld saam wil gaan.
Ek vra U nie om hul verdriet te spaar,
maar 
wees U tog hul troos, as hulle eensaam is en bang.
Wil om U naam’s ontwil hul in U hand bewaar
en laat hul 
nooit van U vervreem nie, nooit, hul lewe lang!
Ek lê die name van my kinders in U hande.
Amen.

(Uit Nederlands vertaal)