SKUD DIE
SELFBEJAMMERING AF
Lees 1 PETRUS 4:12-19
Wees liewer
bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook
oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 1 PET
4:13
Sommige mense
maak hulleself bedroef. Hulle kla gedurig oor hulle lot en kan alleen
die tekortkominge van hulle medemens raaksien.
Die geringste probleem word buite verhouding opgeblaas en hulle kan
slegs oor hulle teleurstellings, swaarkry en verspeelde kanse gesels. So plaas hulle ook ‘n demper op almal se
lewensblyheid met wie hulle ookal in aanraking kom, want terneergedruktheid
word kilometers ver aangevoel.
Om hierdie
slaggat te vermy, moet jy vrede maak met jouself en onthou dat jou gesindheid
teenoor die lewe van die uiterste belang is.
Dit mag wees dat jy deur moeilike en donker tye gaan en dat jy voel dat
jy alleen staan en dat selfs God van jou vergeet het. As jy egter jou selfbejammering van jou
afskud en vra wat God vir jou in hierdie omstandighede wil leer, sal daar vir
jou ‘n lig opgaan in die donker.
Glo met
oortuiging dat God ‘n plan het met jou lewe en dat alles wat oor jou kom deel
van sy plan is. Vertrou Hom elke dag,
elke tree, dan sal jy ‘n gevoel van veiligheid en vrede ervaar. So word jy ‘n medewerker van God aan jou eie
geluk en loop jou lyding uit op vreugde.
Gebed: Heilige God, al verstaan
ek nie altyd u weë nie, help my om ‘n vreugdevolle mens te wees omdat ek U in
gehoorsaamheid volg waar U my ook al lei.
Om elke teenslag opnuut te verdra met moet en waardigheid; om in alles
die goeie te sien – dít is die wese van ‘n sterk karakter – ARISTOTELES.
~ Uit Op Vlerke van Geloof deur Solly Ozrovech ~
No comments:
Post a Comment