Wednesday, 4 April 2012





VERGEWE


Vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.  Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.  -  Kol. 3:13


Soos die Here ons vergewe het, moet ons mekaar ook vergewe, sê vandag se teks vir ons. So baie kere word ons daaraan herinner om te vergewe.  Waarom dan?  Omdat dit so verskriklik belangriks is – nie net vir onsself nie, maar ook vir diegene teen wie ons ‘n wrok koester.  Maklik is dit nie.  Maar as ons dit nie doen nie, kan die wrewel en die seer al hoe erger word, en waar daar lig behoort te wees, kan later net duisternis wees.

Gelukkig is daar ‘n manier om van die duisternis in ons hart ontslae te raak. Ons kan ons wend tot die Heer van ons hart, en Sy lig werp op dit wat seermaak.  Ons kan Sy liefde daarop uitstort, uit ons hart uit vergewe, en vry en bly voortgaan op ons pad van lig.

Hierdie manier van vergewe maak nie net vir ons vry nie, dit maak ook die persoon wat ons te na gekom het vry, en ons kan ongestoord voortgaan op ons pad van lig.


Gebed:  Ek vergewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 3 April 2012





GEESTELIKE  WESE


Geliefdes, nou is ons kinders van God.  – 1 Joh. 3:2  (OV)


Ons is kinders van God – geestelike wesens op ‘n helderverligte pad van lig!  Hoe meer ons hierdie waarheid ons eie maak, hoe helderder skyn sy lig in ons gedagtes, hoe dieper word sy liefde in ons hart, en hoe gelukkiger en sterker word ons in sy krag.

As ‘n geestelike wese is ons ‘n stralende bron van lig.  Hierdie lig bring vir ons insig en begrip, en lei ons veilig en seker op ons pad van lig.

As ‘n geestelike wese is daar niks en niemand wat ons te na kan kom nie.  Die Lig van die Vader is ‘n pantser om ons, en geen bedreiging kan deur hierdie ligstroom breek nie – ons is veilig.

As ‘n geestelike wese loop ons rond met ‘n hart, rein en skoon in die liefde van die Seun, vriendelik en geduldig, altyd besig om vredeblommetjies te saai omdat ons eie hart oorloop van liefde.

As ‘n geestelike wese staan ons vas in ons geloof in die grootsheid van God, oortuig daarvan dat Hy nog in beheer van sy wêreld is – Hy, ons Almagtige Vader!


Gebed:  Nou is ek ‘n kind van God.


~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday, 29 March 2012





‘N  OMGEE  MENS


Elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees  hom aangedryf het, het gekom.   - Eks. 35:21  (OV)


Toe Jesus sy dissipels uitgesoek het, het Hy nie juis gesoek na die mees opgeleide of hoogs gekwalifiseerde mense nie.  Hy het na mense gesoek wat graag ‘n diens wou lewer in die wêreld – mense in wie se harte die liefde warm geklop het, met ‘n sielsverlange om andere te help.  Anders sou hulle seer sekerlik nie so by Hom gebly het nie!

Soos die dissipels van ouds, klop daar ook in my hart die begeerte om meer te gee – om meer te wees, net hier waar ek is.   Die plekkie waar ek is, is miskien ook nietig en klein, maar kyk net hoe klein was die landjie waar Jesus en sy dissipels so baie gegee het!

Dis die roepstem van my siel wat my hart so oop maak, dis die aansporing van die Heer wat my oë oopmaak sodat ek die behoefte kan sien, en dis die liefde in my hart wat my in staat stel om mildelik in die behoefte voor my te voorsien.  Hoe dankbaar is ek nie!

Dankie, Heer van my hart, vir U liefde so groot wat my ‘n omgee-mens maak!


Gebed:  My hart is vol liefde, en ek gee om!


~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday, 28 March 2012





BLYDSKAP

U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  Uit U hand kom net wat mooi is.
Ps. 16:11

Ek word stil, ek ontmoet my Heer diep in my hart, ek sê dankie vir hierdie mooi dag, en ‘n ongekende diep blydskap vul my gemoed.  Dit lag in my oë, dit word gehoor in my opgeruimde stem, dit dra die seën van ‘n glimlag oor aan elkeen wat my pad mag kruis.  Die oorvloedige blydskap wat heers in my hart, die plek waar my Heer woon, maak hierdie dag vir my vol vreugde, en vry en bly gaan ek voort op my pad van lig.

Vandag is ‘n besondere geskenk uit ‘n Vaderhart vol liefde – ‘n geleentheid om die vrolikheid wat my hart so laat sing, ook te deel met andere.  Blydskap en liefde loop hand-aan-hand en die blydskap wat ek teenoor andere toon, is geseën met die liefde wat ek het om te gee.  En die wonder is – hoe meer ek gee, hoe meer het ek om te gee!

Vandag laat ek die lig van my blydskap skyn op ‘n mooi wêreld, gevul met mooi mense, diere,  bome en blomme.  Hoe wonderbaarlik is hierdie dag.  Hoe groot my dank!

Gebed:  Wonderbaarlik is hierdie dag, wat U ons gegee het, baie dankie dierbare Hemelse Vader.

~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday, 27 March 2012





OM  BARMHARTIG  TE  WEES


Toe sê Jesus vir Hom: "Gaan maak jy ook so." - Luk. 10:37


Een oomblik is genoeg om ons dag op te helder. As iemand vir ons glimlag, 'n mooi opmerking maak, of ons op een of ander manier in ag neem, is dit asof die son agter donker wolke uitbreek en lig bring in ons wêreld.

Hierdie lig wat so mildelik op my uitgestraal word, wil ons so graag deel met andere.  Ons dink aan die verhaal van die Barmhartige Samaritaan wat alles wat hy kon, gedoen het vir die beseerde man langs die pad, sonder om ooit aan enige terugbetaling te dink.  Dit is dan ook hoe ons graag teenoor ons medemens wil optree – ons wil ons naaste behandel soos ons graag behandel wil word.

Ons familie is die naaste aan ons en hulle is die eerste wat baat vind by hierdie sonskyn-liefde van ons. Met ons woorde en ons dade wys ons hulle hoe lief ons hulle het. Met 'n woord van bemoediging vir iemand wat ly - 'n vriendelike glimlag vir die klerk agter die toonbank - as, sommer vir almal wat vandag ons pad mag kruis, wil ons hierdie dag 'n heerlike sonskyn-dag maak! En dit gebeur, want 'n glimlag is aansteeklik, as ons glimlag dan ontvang ons 'n glimlag terug en sowaar ons hart voel gelukkig!


Gebed:   In U liefde Heer, is vandag 'n sonskyn-dag - vir my en vir andere!   Dankie dierbare Heer dat U SO lief is vir ons!!!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 26 March 2012





KOSBARE  LIGVRIEND


Ek het jou by jou naam geroep;  jy is Myne!   -  Jes. 43:1


My kosbare Ligvriend, hoe waardeer ek nie jou toewyding en samewerking nie!  Jy is Myne, Ek het jou op jou naam geroep, en jy het gehoor en geluister, en nooit sal jy en al jou Ligvriende besef wat julle vir My, en ook vir ons wêreld beteken nie!

Ek is in jou, en jy is in My.  Al slaag jy nie altyd daarin om My te vind nie, Ek sal jou nooit faal nie.  Al is jou geloof in my nog so klein My geloof in jou wankel nooit nie, want  … Ek ken jou, en Ek het jou lief.

Besef jy hoe kosbaar jy werklik is?  Daar is niemand wat hier waar jy nou woon en werk dit kan gee wat jy het om te gee nie.  Ek is besig om deur jou te werk, al herken jy nie altyd My werke nie.  Ek is besig om jou te lei, al verstaan jy nie altyd My weë nie.

Soms raak jy so besig dat jy My nie hoor nie, en tog, as jy My toelaat, spreek Ek deur jou stem – werk Ek deur jou hande.  Geliefde, Ek is hier – altyd net hier by jou!  Onthou, jy is Myne, nou en vir ewig!


Gebed:  Roep my, Heer, ek sal altyd antwoord.


~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday, 25 March 2012





WAAROM NIE EK NIE?

As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie.  -  Spr. 4:12

As ek ‘n moeilike tyd deurgaan, is dit baie maklik vir my om te vra.  “Waarom ek?”  Een ding staan egter soos ‘n paal bo water – God weet waartoe ek in Sy krag in staat is, en Sy antwoord op my vraag sal wees,  “Waarom nie jy nie?  Onthou Ek is aan jou sy, en sal jou nooit deur hierdie beproewing alleen laat gaan nie.  Kom, gee My jou hand!”

Omdat Hy so goed weet waartoe ons in staat is, beproef Hy ons nooit tot breekpunt nie, maar slegs tot groeipunt.  Met hierdie waarheid in gedagte sal ek ophou vra,  “Waarom ek?”  Ek sal stewig bly staan in Sy krag, en die geleentheid wat die ervaring my bied soek en benut.  Hy het my lief, en weet presies wanneer ek sterk genoeg is vir die volgende tree.

Niks is vir my kosbaarder as die diep innerlike band tussen my en die Heer van my hart nie.  Sy wil is my wil, soos die wil van God ook sy wil was.  Vir geen oomblik het Hy gehuiwer om die wil van sy Vader uit te voer nie, al het Hy bloed gesweet – en dink net wat sy opstanding vir ons beteken – vandag nog!  Nooit weer mag ons vra – waarom nie ek nie?

Gebed:  In U lig so helder, vra ek niks, want U het vir my ALLES gegee.

~ Uit Daelikse Woord ~