Tuesday, 6 November 2012






MAAR JY HET BLY GLO ...



Ek sien jou getrouheid raak, sê die Here.

Daar was al baie kere dat jy jou rug op My kon draai.

Tye wat jy versoek was om handdoek in te gooi. Maar jy het nie.

Jy het bly glo ... al was jou geloof ook soms swak en wankelrig.

Ek het jou mosterdsaad geloof raakgesien.

Jy is soos Job getrou aan My, al het jou vriende teen jou gedraai.

Ek sien dit raak, sê die Here.

Ek waardeer jou liefde vir My deur dik en dun.

En Ek sal jou ook nooit in die steek laat nie.




~ Hansie ~







TROOS


Die Here het Sy volk getroos.  -  Jes. 49:13


Wanneer ons te staan kom voor groot verliese, hartseer besluite wat gemaak moet word  of diepe teleurstellings, wanneer ons dit moeilik vind om by veranderde omstandighede of nuwe verhoudinge aan te pas, wanneer ons alleen en verlate voel, smag ons daarna om vertroos te word.  Ons verlang daarna dat die pyn en verwarring wat ons ondervind tot ‘n einde moet kom, dat ons ‘n plek van stilte en rus mag vind.  Maar in werklikheid verlang ons dan na God se nabyheid en sagte Vaderhand op ons hoof, want dit is alléén Hy wat die troos kan bied wat ons só inniglik na smag.

Hy is ons stil plek van rus, ons veilig hawe wanneer ruwe storms om ons woed, wanneer ons vir Hom vertel van ons pyn, hartseer en teleurstellings en ons vertroosting by Hom gaan soek, en dan voel hoe Sy arms só liefdevol om ons omvou – hoe Hy alles verstaan terwyl ons tot Hom bid:

“Liefdevolle Vader, ek kom na U toe om vertroos te word.  Omvou my in U nimmer-eindigende liefde Heer en laat U lig helder in en om my skyn.  Neem al my vrae en vrese weg Heer sodat ek net aan U kan dink, aan U krag aan die werk in en deur my, aan U liefde om my.  Liefdevolle Vader, U is my troos en my rus, my krag en my sterkte, dankie dat U altyd daar is om geduldig te luister na al ons vrae, na ons seerkry.  Dankie dat ons so ‘n wonderlike Vader het met wie ons kan praat.  My siel rus nou in U.”


Gebed:  Dankie Heer, my siel rus nou in U.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 31 October 2012






BLYDSKAP EN DANKBAARHEID


My dienaars sal jubel omdat dit met hulle goed gaan.  -  Jes. 65:14


Blydskap word gebore in ‘n dankbare hart.  Ek is dankbaar en bly want ek is ‘n kind van God, en my blydskap ken geen perke nie.  Soos helende balsem werk dit in en deur elke sel in my liggaam.  ‘n Vrolike lied met ‘n boodskap van krag, van hoop en liefde, weerklink uit die dieptes van my jubelende hart.

Die probleme van gister bestaan nie meer nie – dit het in die niet verdwyn. Met my Heer aan die stuur van my lewe, gaan ek vrolik en bly voort op my pad van lig.

Vanuit ‘n fontein diep binne-in my borrel hierdie blydskap en vreugde op, en vrylik deel ek dit met my medemens, om ook hulle te seën en te heel.

Ek deel hierdie blydskap met elkeen wat my pad mag kruis – groot of klein, oud of jonk, met ‘n glimlag wat hulle welkom laat voel, ‘n groet wat wys dat ek hulle waardeer.

‘n Benadering soos hierdie werk aansteeklik, weldra ontwaak daar ook ‘n lied in die hart van elkeen van hulle saam met wie my paadjie deur die lewe kronkel en vleg.


Gebed:  Vrolik en bly gaan ek voort!


~ Uit Daelikse Woord ~






Tuesday, 30 October 2012






VOLHARD EN GLO


Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 
Gal. 6:9


Ek hou aan om aan te hou.  Ek weier om ontmoedig te word deur wat mag lyk soos ‘n gebrek aan vooruitgang of deur oponthoude.  Ek wéét dat ek met Gods hulp kán slaag en sál slaag.

As my mikpunt gesondheid is, hou ek áán om aan te hou.  Ek dink aan ‘n lewe van gesondheid.  Ek volhard met die bevestiging van gesondheid en heelheid.  As dit lyk asof gesondheid of genesing stadig is om plaas te vind, hou ek net áán om te glo.  Ek word nie ontmoedig nie en ek raak nie moedverlore nie.  Ek, my familie, dierbares, bure, vriende, kennisse en diere vir wie ek innig lief het kán genees word en sál genees word.  Ek wéét dit en ek gló dit.

As my mikpunt vir sukses in die een of ander spesifieke rigting is, raak ek nie moedverlore wanneer dit lyk asof daar komplikasies is nie, of wanneer daar struikelblokke is wat oorkom moet word nie.  Ek hou net áán om áán te hou.  Ek gló dat deur die krag van Christus in my ek meer as mans genoeg is vir élke uitdaging in my lewe.

Met  Gods hulp kán ek slaag en sál ek slaag!!


Gebed:  Ek hou áán om aan te hou!   Met Gods hulp kán ek slaag want Hy ís in beheer!!


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 29 October 2012





GODS OPROEP


U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  Uit U hand kom net wat mooi  is.  – Ps. 16:11


Die oproep tot gebed weerklink in my hart.  Ek word stil, ek ontspan en gaan my binneste heiligdom binne.  Dit is hier waar ek alle strewes stil, en alle persoonlike behoeftes en begeertes onvoorwaardelik in Gods hande plaas.

Elke skadu word uitgewis in Sy lig.  Elke probleem word opgelos in Sy wysheid.  Elke fout  word gekanselleer in Sy liefde.  Ek rus in Sy hemelse teenwoordigheid.

Die oproep tot gebed kom van my Heer.  As ek daarop reageer en my tot Hom wend, glo ek en weet ek dat ek die mens kan wees wat ek so graag wil wees.  Ek kan dit wat my hartewens is bereik.

My verstand is oop vir God lig;  my hart is oop vir Sy liefde;  en my liggaam vir Sy lewenskrag.  Alles om my is rustig en vreedsaam, want die vrede van God heers hier.  My sake en belange word reggestel en verloop ordelik en volgens plan, want ek het Hom daarin geken.


Gebed:  Ek bid en my gedagtes bly God-gerig.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 28 October 2012





SY SAGTE STEM


Al sit ek in die donker, die Here is my lig.  –  Miga 7:8


Die stralende lig van God skyn helder in my en om my.  Om seker te maak dat dit nooit afneem nie, maar slegs al hoe helderder skyn, begin ek elke nuwe dag in die stilte van gebed diep binne-in my diepste binneste.

Die lig wat so helder in my en om my skyn, verhelder my denke en my oordeel is reg en goed.  Ek gebruik dit in alles wat my aangaan, of die aangeleentheid nou groot of klein is.  Moet ek belangrike besluite neem – ek wend my tot die Heer van my hart.  In ootmoed luister ek na Sy sagte stem in my diepste wese – Hy antwoord die vrae wat my teister en plaas my voete op die regte weg.

Die leiding wat ek van God kry is soos ‘n helder straal van lig wat voor my uit skyn, en die pad wat ek moet volg duidelik uitwys.  Sonder die geringste huiwering of twyfel volg ek hierdie baan van lig.

Aan u Heer, al my lof en dank vir U lig wat so helder op my pad skyn!


Gebed:  U Heer, is my lig en my heil.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 27 October 2012





MOED


Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie want die Here jou God is met jou oral waar jy heengaan.  – Jos. 1:9 (OV)


Dit maak nie saak waar ons ons bevind nie, hoe die weer lyk of watter besluite ons moet neem nie – ons kan nóú, op hierdie oomblik vry, vol moed, geloof en vertroue wees.

Waar ons ook al is, daar is God.  God is met ons, God is rondom ons en God is in alle situasies waarin ons onsself bevind.

God is met ons waar ons is.  Ons is nooit alleen nie want Hy is met ons.  Of ons nou in ‘n besige kantoor is, in ‘n winkel wat wemel van mense, in ‘n lawaaierige stad of tussen vreemdelinge, God is altyd met ons!  En omdat ons dit weet, het ons gemoedsrus!!

God is met ons en Hy gee aan ons ‘n groter geloof en ‘n nuwe gevoel van vryheid en vertroue wat die weg open tot die heil wat ons soek.  Ons is nou, op hierdie oomblik vol moed, vry en vol geloof.


Gebed:  Ek is sterk en vol moed!


~ Uit Daelikse Woord ~